1656
Jan van Riebeeck se seuntjie oorlede
Anthony, die babaseuntjie van Jan en Maria van Riebeeck, het slegs twee maande oud geword. Omdat daar gedurende hierdie tyd geen predikant aan die Kaap was nie, het hy gesterf sonder dat hy gedoop is. Die sterftesyfer onder jong kinders was in die sewentiende eeu ontsettend hoog. Jan en Maria van Riebeeck moes reeds in Nederland hulle oudste seuntjie aan die dood afstaan. Dit is ook bekend dat van Abraham van Riebeeck, seun van Jan van Riebeeck , se elf kinders slegs drie volwassenheid bereik het. Dit was die gebruik onder die hoë amptenare van die VOC om hulle seuns na Nederland te stuur om daar onderrig te word. So het Van Riebeeck sy twee oudste seuntjies, Lambertus en Abraham, wat op 20 Maart 1660 saam met die skipper Douwe Aukes na hulle oom, Abraham Quevellerius, in Rotterdam vertrek het, nooit weer gesien nie. aka fak J.C.P
1860
Prof A. Francken gebore
Prof. Adriaan Francken is in Wyde-wormer, Noord-holland, gebore, waar sy vader opsigter van ‘n dyk was. Hy is op 15 April 1949 in Bloemfontein oorlede. In die jare 1876 – 1880 het hy aan die Rijkskweekschool in Haarlem sy opleiding as onderwyser ontvang. Vanaf 1880 was hy as onderwyser werksaam in Nederland. Gedurende 1882 – 1887 gee hy onderwys in Engeland, en toe weer terug na Nederland. In 1891 is hy as onderwyser aangestel aan die Grey-Kollege, waar dr. J. Brill toe rektor was. Op 21 April 1891 het hy in Bloemfontein aangekom. In die Engelse Oorlog was hy ‘n tyd lank op kommando. Met die totstandkoming van die Grey-Universiteitskollege is hy benoem tot hoogleraar in Nederlands en Frans. In 1927 het hy afgetree en is toe aangestel as bibliotekaris, ‘n pos wat hy beklee het tot sy finale aftrede in 1939. Hy was een van die Afrikaanse kultuur stryders, en ‘n stigterslid van die vereniging Ons Taal. Sy blyspel Susanne Reyniers (1908) was jare lank een van die weinige toneelstukke wat deur honderde gemeenskappe op die planke gebring is. Daarbenewens het hy ‘n Afrikaanse grammatikaboek geskrywe. Prof. Francken was ‘n kenner van die skilderkuns en die argitektuur. Hy was ‘n begaafde klavier- en vioolspeler, en naas Frans, Italiaans en Duits, ook ‘n kenner van die klassieke tale. Hollander van geboorte, het hy sy volle krag by die Boerevolk ingewerp. Aka fak P.J.N
1937
Totius in Bloemfontein gehuldig
In 1937 besit die Afrikaanse volk reeds die Psalmboek in sy eie taal. Totius was die berymer. Ook met die Afrikaanse Bybel het hy die leeue-aandeel gehad. Kerk en volk is innig dankbaar, en die FAK neem die voortou om hierdie dank te bewys. En so word 1937 die jaar van die Totius feeste met die hoogtepunt in die stadsaal van Bloemfontein op 20 Februarie.. ‘n Skare van 2 000 vul die saal van hoek tot kant, en vader J.D. Kestell voer namens die volk die woord.
Aangrypend is Die Volksblad se berig:
VOLK VERENIG IN HULDE AAN GROOT DIGTER
Hart Tril saam by Kestell-woord: Ons innig Geliefde Totius
Voorts sê die blad: Dwarsdeur die verrigtinge was ‘n warm Afrikaner gees waarneembaar. Die toesprake, sang en grootsheid van die plegtigheid was van so ‘n aard dat die koudste Afrikaner hart daardeur sou geroer word, en toe dr. J.D. Kestell met bewoë stem, ‘n ferme handdruk en ‘n traan van dankbaarheid in die oog, met die woorde “hoog geagte doktor, toegewyde bedienaar van die Woord, seer geliefde professor – innig geliefde Totius” die Transvaalse Vierkleur, wat ‘n bronsbeeld van Van Wouw omsluier het, aftrek en aan hom ‘n tjek van ruim £1 000 oorhandig, het geweldig toejuiging losgebars – ‘n nasie het hulde gebring. Aka fak V.E.D
2008/02/20
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment