2008/02/13

Februarie 13

1858
Aanname van die grondwet, vlag en wapen van die ZAR


Dit was die laaste dag van die sitting van die Kommissie raad wat op 2 Februarie begin het en waar besluit is om besonderhede aangaande ‘n grondwet, vlag en wapen vir die ZAR aan die Volksraad voor te lê. Die aanvaarding daarvan deur die Volksraad het op 16 Februarie geskied. Hierdie grondwet van 1858 is voorafgegaan deur die goedkeuring, by verskeie geleenthede, van die konsep grondwette wat, met enkele uitsonderinge, dieselfde bepalings gehad het, en dit vertoon groot ooreenkoms met die Bataafse grondwet van 1798. Die laaste goedgekeurde grondwet, op 16 Desember 1856, is egter nie deur al die inwoners van die ZAR aanvaar nie, o.m. Stefanus Schoeman en sy Soutpansbergse volgelinge. Meer as ‘n jaar het verloop voordag pres. M.W. Pretorius en Stefanus Schoeman mekaar gevind het en daar op 1 Februarie 1858 deur ‘n krygsraad vergadering besluit is dat Pretorius en Schoeman, elkeen met ses ondersteuners, ‘n kommissie raad sou vorm om uit al die bestaande wette ‘n grondwet vir die Republiek op te stel. Hierdie grondwet het in hoofsaak die grondwet van die ZAR tot in 1902 gebly. Die Volksraad het gelyktydig met die aanvaarding van die grondwet ook die aanbevelings van die Kommissie raad met betrekking tot ‘n vlag en wapen vir die Republiek aanvaar. Die posisie met die vlag was min of meer dieselfde as die met die grondwet. Reeds op 6 Januarie 1857 is die sogenaamde Vierkleur as landsvlag plegtig op Potchefstroom gehys, gevolg deur ‘n ewe plegtige hysing in Pretoria op 23 Februarie 1857, maar ook hierdie vlag is deur Stefanus Schoeman en sy ondersteuners verwerp. Ook hierdie vete is uit die weg geruim deur die besluit van die Kommisieraad, goedgekeur deur die Volksraad, dat die vlag van die Republiek bestaan uit die volgende bane: “Rood, Wit en Blaauw, evenbreed boven elkander horizontaal gesteld, en groen perpendiculair lans den stok,” met die woorde “Eendracht maak magt” daarop geskryf. So is die Vierkleur weer eens as nasionale vlag amptelik in gebruik geneem toe dit op 3 Maart 1858 op Potchefstroom gehys is. Die wapen vir die Republiek wat deur die Kommissie raad aanbeveel en deur die Volksraad saam met die grondwet en vlag aanvaar is, is soos volg beskryf: Op ‘n silver-agtergrond staan ‘n wa en ‘n goue anker op die wapen is ‘n arend. Aan die regterkant van die wapen staan ‘n man in die land se kleredrag, gewapen met ‘n geweer en toebehore. Aan die linkerkant van die wapen is ‘n leeu. Hierdie besluit van 1858 is, soos ook in die geval van die vlag, die enigste wetsbepaling en beskrywing van die landswapen wat, met ‘n kort onderbreking tot aan die einde van die Republiek bestaan het.
aka fak J.S.d.P

1862
Eerste trein tussen Kaapstad en Wellington

Die spoorlyn, 34 kilometer lank, is op hierdie dag in gebruik geneem toe Kaapstad met Eersterivier verbind is. Dieselfde jaar is die spoorlyn na Stellenbosch en die volgende jaar na Wellington verleng. Die eerste spoorlyn waarop ‘n stoom trein in Suid-Afrika geloop het toe Durban met Durbanpunt verbind is, is op 26 Junie 1860 in gebruik geneem. Aka fak D.E

1861
Ds. D. Wilcocks gebore

Hy het aan die Victoria Kollege op Stellenbosch gestudeer en is in 1890 gelegitimeer. Hy het op Vryburg, Mosselbaai en weer op Vryburg as NG predikant gearbei toe hy in 1900 aan hoogverraad skuldig bevind is na aanleiding van sy dankgebede uitgespreek vir die Boere-oorwinnings wat by Colenso en Magersfontein 1899 behaal is. Hy is tot twaalf maande gevangenisstraf by Tokai gevonnis waar hy in die tyd onderwys gegee het. In 1903 is hy na Aliwal-Noord, 1906 na Prins Albert, 1911 weer na Mosselbaai, 1921 na Riebeeck-kasteel en van 1925 tot 1932 dosent aan die Wellingtonse Sending instituut. Hy is op 20 Julie 1944 oorlede. Aka fak M.J.S

1905
Verplasing van die Teologiese Skool, Gereformeerde Kerk, van Burgersdorp na Potchefstroom

Reeds voor die Engelse Oorlog het die verplasing van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vanaf Burgersdorp aandag geniet. Die eerste Sinode na die oorlog op Middelburg in die Kaapkolonie het op die pleidooi van die jong dr. J.D. du Toit (Totius), predikant van Potchefstroom, besluit om die skool daarheen te verplaas. Dit staan vas dat die behoud van taal en volk in ‘n Transvaalse omgewing, teenoor die verengelsing in die Kaapkolonie, ‘n belangrike motief vir die besluit was. Die skool het op 13 Februarie 1905 met Jan Lion Cachet as professor in Potchefstroom geopen. Aka fak B.S

No comments: