2008/02/12

Februarie 12

1869
Die Tweede Verdrag van Aliwal-Noord


Na die Tweede Basoeto-oorlog (1865 tot 1866) het die Kaapse goewerneur, sir Philip Wodehouse, as bemiddelaar tussen die Vrystaat en die Basoeto’s opgetree, terwyl die grondgebied wat die Vrystaat in die oorlog verower het, aan hom toegestaan is. Plundering en diefstal deur die Basoeto’s het ‘n hernieude oorlog in 1867 ontketen en, strydig met die Bloemfontein-konvensie (1854), het Wodehouse in Maart 1868 Basoetoland geannekseer. Boonop het hy die Vrystaters se ammunisie toevoer afgesny op ‘n tydstip toe hulle die Basoeto’s militêr feitlik onderwerp het. Hoewel billik ontstoke, het die Vrystaters op 12 Februarie 1869 ‘n verdrag by Aliwal-Noord aangegaan wat die nuwe grens tussen die Vrystaat en Basoetoland vaste stel het. ‘n Deel van die sogenaamde Verowerde Gebied moes deur die Vrystaat afgestaan word, hoewel die Basoeto’s eweneens ‘n uitgestrekte gebied moes prysgee. Brittanje het weliswaar verhinder dat die Vrystaat via Basoetoland moontlik ‘n Natalse hawe bekom, maar die lastige grensprobleem moes hy voortaan self behartig. Aka fak J.P.B

1880
Ermelo gestig

Voortrekker gesinne het hulle in die jaar sestig van die 19e eeu op plase op die oostelike Hoëveld gevestig. Ds. Frans Lion Cachet van die NG gemeente Utrecht in Natal het vir die Trekker gesinne ‘n gemeente op 5 en 6 November 1870 gestig, en hieruit het die kerkdorp ontstaan wat deur ds. Cachet Ermelo genoem is ter ere van sy sending leermeester ds. Witteveen van Ermelo, Nederland. ‘n Noue verbintenis bestaan steeds tussen die Ermelo’s in Suid-Afrika en Nederland. In die Engelse Oorlog is Ermelo met die uitsondering van een woning geheel en al deur die Engelse afgebrand, maar die dorp het uit die as verrys en die hoof dorp van Suidoos-Transvaal geword. FAK

1972
Dr. A.D. Keet oorlede

Albertus Daniël Keet is op 14 Oktober 1888 op Alice gebore en is op Senekal oorlede. Hy behaal sy BA-graad aan die Universiteit van Kaapstad in 1908; die jaar daarop vertrek hy na Amsterdam om medisyne te studeer. Sedert 1920 tot aan sy dood praktiseer hy op Senekal. In 1932 is sy eerste vrou, dr. Nell N.C. Keet, ‘n Amsterdamse dame, oorlede. Hy sluit ‘n tweede huwelik met Rina van der Merwe. Keet behoort in die digkuns tot die geslag van 1920. Hy het vaderlandse, huislike en liefdesverse geskryf. Hy het van die eerste minnedigte in Afrikaans geskryf. Sy gedigte is soms retories, miskien oppervlakkig, maar sy minne poësie word gekenmerk deur fynheid, bekoorlikheid, sangerigheid. Daarom is baie van sy gedigte getoonset, in Holland en Vlaandere onder ander deur Marius Kerrybyn, Cornelis Dopper, Arnold Spoel, Anna Lambrechts-Vos en sy vriend Emile Hullebroeck, en in Suid-Afrika deur S. le Roux Marais, M.L. de Villiers en M.C. Roode. Sy bundel Gedigte het in 1920 verskyn en in 1931 Verspotte gediggies vir verspotte kinders. Aka fak P.J.N

No comments: