2008/01/06

Januarie 6

1815
Margaretha Anna Möller oorlede


Margaretha Anna Möller het uit ‘n gesien Kaapse familie gestam. Haar vader was Daniël Heyning en haar moeder Maria Magdalene Pasques de Chavonnes. Na die dood van haar man het sy as kinderlose, welgestelde weduwee dikwels skenkings aan die kerk, sending en liefdadigheid gedoen. Sy het ook ‘n aandeel in die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap in 1799 gehad. Deur haar ondernemingsgees en deursettingsvermoë en deur die skenking van groot bedrae geld, is die Zuid-Afrikaanse Weeshuis in 1814 in Kaapstad opgerig. Dit was die eerste inrigting van sy soort in Suid-Afrika – ‘n monument vir die edelmoedigheid van ‘n Suid-Afrikaanse vrou. Aka fak dr. J. Celestine Pretorius


1857
Vierkleur word vir die eerste keer op Potchefstroom gehys

By geleentheid van M.W. Pretorius se plegtige beëdiging as eerste president van die Suid-Afrikaanse Republiek, op 6 Januarie 1857, is ook die nuwe vlag van die Republiek – die Vierkleur – wat waarskynlik deur ds. Dirk van der Hoff ontwerp is, vir die eerste keer op Potchefstroom onder blyke van groot belangstelling gehys.
Aka fak dr. P.J. De Beer

1857
M.W. Pretorius as President ingehuldig

Marthinus Wessel Pretorius (gebore 17 September 1819) word in 1853 kmdt. –genl. Van Transvaal; in 1855 word hy op Potchefstroom tot provisionele Staatspresident verkies en in 1856 tot Staatspresident. Op 6 Januarie 1857 word hy as Staatspresident beëdig en dieselfde dag word die nuwe vlag, die Vierkleur, vir die eerste keer amptelik op Potchefstroom gehys. Die inhuldiging het op ‘n plegtige wyse geskied. Die Volksraad het vier lede afgevaardig om Pretorius te perd by sy huis te gaan haal. Hulle het tussen die skare op die markplein teenoor die Hervormde Kerkgebou na die landdroskantoor gery. Daarna het ds. Van der Hoff ‘n toespraak gehou, en die president is beëdig. Gewapende burgers het ‘n paar sarsies afgevuur, die kanon het gebulder en tegelykertyd is die Vierkleur op die markplein gehys. Nadat die ander lede van die Uitvoerende Raad beëdig is, is hulle in optog na die Hervormde Kerk, waar ds. Van der Hoff ‘n gebed gedoen en ‘n redevoering gehou het. Met die terug optog het ds. Van der Hoff by die Vierkleur ‘n toespraak gehou en die Vlaglied voorgedra. Die stoet is onder salvo’s terug na die kantoor, met die gevoel dat dit ‘n dag vol belofte vir die toekoms is. aka fak prof. dr. P.G. Nel

1900
Die slag by Platrand

Die enigste poging van Boerekant om die beleërde Ladysmith stormenderhand te verower, het uitgeloop op die slag by Platrand, suid van Ladysmith. Indien die posisie verower kon word, sou Ladysmith val. Na ‘n verwoede geveg met swaar verliese aan albei kante, moes die Boere onder genl.. Schalk Burger en hoofkmdt. M. Prinsloo terugval, deels vanweë onoordeelkundige leiding, maar ook vanweë toenemende Britse versterkings. Aka fak dr. J.P. Brits



Die Britse Soldate se wens was dat daar ‘n gedenksteen by Platrand opgerig moes word, en lees as volg: (In Engels sowel as Afrikaans)



“Op hierdie plek gedurende die veldslag op 6 Januarie 1900 het Ds. John Daniel Kestell, Veldprediker van die Kommando van Harrismith, met lewensgevaar en onder hewige geweervuur, hulp verleen aan gewonde vriend en vyand sonder onderskeid.

Dis toe dat ‘n swaargewonde Britse Sersant aan ds. Kestell gesê het:

“Hierdie daad van u is ‘n treffende preek”.


No comments:

Post a Comment