2008/01/07

Januarie 7

1814
Ds. H.W. Ballot oorlede


Hendrik Willem Ballot is in Iserlohn, Wesfale, Duitsland, in 1766/67 gebore. Hy word in 1790 in Leiden georden, nadat hy sy kursus met lof afgelê het. Daarna vertrek hy en sy gade, Hermijnganda van Lil, na Malakka as predikant van die VOC. Gedurende 1797 kom hy en sy gesin na die Kaap. Na ‘n paar maande op Tulbagh, word hy predikant op Graaf-Reinet. Daar sterf sy vrou en word die moederkerk ook feitlik voltooi. Ballot bevind hom midde- in die woelinge aan die oosgrens en leer Maynier ken, wat hom telkens versoek om die gemoedere van die burgers te kalmeer, veral na die inhegtenisneming van Adriaan van Jaarsveld. Teen 1801 keer Ballot terug na die Kaap en trou met Elizabeth W. Cruywagen. Uit hierdie huwelik is een kind, die latere ds. Stephen S. Ballot, gebore. Na ‘n kort en ongelukkige verblyf op Swellendam word hy in 1803 die leraar van Tulbagh (Roodezand), waar hy tot met sy dood in 1814 arbei. Hy is begrawe voor die preekstoel van die historiese Tulbagh-kerk, wat ‘n museum word. Met sy koms na die Kaap, het Ballot ‘n omvangryke boekeversameling saamgebring en dit verder uitgebrei, sodat dit mettertyd uit sowat 950 boeke bestaan het. Dit bevat godsdienstige boeke van die sewentiende en agttiende eeu en ook werke van Calvyn, Benewens ‘n hoeveelheid Latynse en Griekse klassieke, is daar ook reisbeskrywings, woordeboeke, grammatikas en werke oor die geneeskunde en geskiedenis. Die versameling word in die biblioteek an die Universiteit van Kaapstad bewaar. Aka fak G.J. Jooste

1826
Oudste proewe van briewe in Afrikaans

Op hierdie datum het die eerste blad (‘n weekblad wat in die Hollandse taal aan die Kaap uitgegee is, verskyn. Sy naam was De Verzamelaar, sy redakteur J. Suaso de Lima (1791 – 1858), van Kaapstad. De Lima wou nuttige, leersame en vermaaklike leesstof verskaf. Vir die koddigheid is onder meer gesorg deur ‘n halfdosyn briewe, wat die redakteur self onder skuilname in die Biedermeier-styl geskryf het en wel in ‘n taal wat ons vroeë Afrikaans kan noem – soos gepraat deur die gegoede stand buitemense. Die eerste is van Jan Tanoe van Poppetjeskloof (1 Julie 1826), waarin hy grappig kla oor die geblaf van die strandhonde snags. Jan Hennepikker van Waterschilpadskuyvallei kla oor die lang adresname van veldkornette – as hulle korter was, kon ‘n kalbas ink per jaar bespaar geword het! Die doktersvrou, Grietjie Geldenaar, is ontevrede oor die gebrek aan kleingeld. Die briewe is inderdaad vermaaklik, veral die twee van die mode sugtige jong plattelandse nooi Mietjie, wat in Kaapstad kuier.
Aka fak prof. dr. G.S. Nienaber

1871
F.J.L. Rompel gebore

Fredericus Jacobus Leonardus Rompel, ‘n gebore Nederlander, het in 1895 na Suid-Afrika gekom en parlementêre verslaggewer van De Volkstem geword voordat hy in 1900 as oorlogskorrespondent in Bloemfontein gevang is. Na sy vrylating keer hy terug na Nederland en beywer hom vurig vir die saak van die Boere. In 1912 keer hy terug na Suid-Afrika, sluit by dieselfde koerant redaksie aan, word oorgeplaas na Die Burger en skryf onder andere die volgende werke: Uit den Tweede Vrijheidsoorlog, Marthinus Theunis Steyn en Van alle kante. Hy is op 1 April 1940 in Kaapstad oorlede. Aka fak D. Erasmus

1914
Stigtingskongres van die Nasionale Party in die OVS

Die politieke situasie in Suid-Afrika en veral onmiddellik na die Uniewording was van so ‘n aard dat dit vir ‘n sekere groep Afrikaner-politici onmoontlik geword het om aan hulle politieke beskouinge binne die geledere van die Suid-Afrikaanse Party van genl.. Louis Botha uiting te gee. In die lig daarvan het afgevaardigdes van Transvaal, Kaapland en die Vrystaat van 7 tot 9 Januarie 1914 in die Ramblerssaal in Bloemfontein vergader, Op die kongres is ‘n Program van Beginsels goedgekeur wat die amptelike beleid van “de Nationale Partij” sou uitmaak as daar nie voor 1 Julie 1914 tot ‘n vergelyk met die SA Party gekom kon word nie. Dit was ‘n stryd wat wesenlik rondom die twee begrippe van Afrikanernasionalisme en Britse imperialisme gesentreer het. Dit was egter duidelik dat die breuk nie geheel sou kan word nie, en ‘n komitee met genl. J.B.M. Hertzog as voorsitter en genl. C.G. de Wet as ondervoorsitter, tesame met elf ander lede, is belas met die stigting van die Party. Die Nasionale Party, wat formeel op 1 Julie 1914 deur genl.. Hertzog om Smithfield gestig is, het egter reeds finale beslag op 7 Januarie 1914 gekry.
Aka fak prof. dr. O. Geyser

No comments:

Post a Comment