2008/01/05

Januarie 5

1864
Die burgerstryd by Krokodilrivier


Pres. M.W. Pretorius se pogings om die twee Boererepublieke te verenig, was nie voldoende beweegrede vir die Transvalers om hom op die duur as president van albei state te aanvaar nie. Terwyl hy in die Vrystaat was, het kmdt. –genl. Stephanus Schoeman as president van die ZAR waargeneem, maar die nuutverkose Volksraad van 1862 wou Schoeman nie aanvaar nie. Onbekende onderlinge onenigheid het sedertdien hoogty gevier. Omdat teenstanders van W.C. Janse van Rensburg die egtheid van sy verkiesing as president in 1863 in twyfel getrek het, het hulle uiteindelik tot openlike geweld oorgegaan en in 1863 as ‘n Volksleër onder kmdt. J.W. Viljoen teen die sogenaamde Staatsleër onder S.J.P. Kruger opgetrek. Nadat kleiner skermutselinge in Desember 1863 naby Potchefstroom plaasgevind het, het die twee leers in alle erns op 5 Januarie 1864 by Krokodilrivier, tussen Rustenburg en Pretoria, slaags geraak. Die totale ongevalle die dag was ongeveer tien dooies en twintig gewondes. Stortbuie het die geveg tydelik vertraag. Die volgende dat het Pretorius self opgedaag, aangebied om as bemiddelaar op te tree, en is hy in die presidentsverkiesing in Mei met ‘n groot meerderheid herkies. Aka fak dr. J.P. Brits


1952
Aanvang van die Van Riebeeckfees


Die amptelike opening van die Van Riebeeckfees, waarmee die 300-jarige bestaan van die blanke nasie in Suid-Afrika herdenk is, het op Ohrigstad plaasgevind. As hoofspreker het opgetree dr. D.F. Malan, wat by die geleentheid gesê het dat die doel van die fees eenheid onder alle groepe in Suid-Afrika, afgesien van ras, kleur, taal of godsdiens, sal wees. Op sy teken het die Voortrekkers en die Boy Scouts, onderskeidelik die verteenwoordigers van die Afrikaanssprekende en die Engelssprekende jeug, die fees laat begin deur vreugdevure in al die stede aan te steek en die kerkklokke te laat lui. Op die oggend van 5 Januarie het die eerste poskoets van Ohrigstad af vertrek na Kaapstad, waar die fees op 6 April 1952 sy hoogtepunt bereik het. Daar was sewe poskoets wat van verskillende vertrekpunte en langs verskillende weë na Kaapstad gereis het, om op die wyse die boodskap van vriendskap en eenheid dwarsoor die land te span. Aka fak D.J. Van Zyl


1976
SAUK begin met gereelde televisie-uitsendings


Gereelde televisie-uitsendings begin in Suid-Afrika nadat daaglikse proef uitsendings reeds op 5 Mei 1975 ‘n aanvang geneem het. Die uitsendings is uit die staanspoor in kleur, en die PAL-stelsel word gevolg. Daar word vyf uur per dag uitgesaai, met ‘n bykomende drie uur sportuitsendings op Saterdagmiddae. Die uitsaai tyd word gelykop verdeel tussen die twee amptelike tale: Afrikaans en Engels. Die volledige program spektrum word bestryk: nuus, nuus agtergrond en –kommentaar, aktualiteits-, joernaal- en besprekings programme, dokumentêre programme, kleuter- en kinderprogramme, godsdiens- en stemmings programme, drama, musiek, verskeidenheid en sport. Binne ‘n jaar na die aanvang van die diens is nagenoeg 70% van die Afrikaanstalige programme en 63% van die Engelstalige programme reeds inheems van oorsprong. Die televisiediens is inligtings- en voorligting gerig, mar die vermaaklikheid aspek word nie agterweë gelaat nie. In ooreenstemming met die aanbevelings van die Kommissie van Ondersoek insake Televisie (1970), sal ‘n tweede diens, wat in vyf tale van die swart volke van Suid-Afrika sal uitsaai. Dit sal bekend staan as TV 2 en aan die begin van 1982 met uitsendings begin.
Aka fak dr. J.H.T. Schutte

No comments:

Post a Comment