2008/01/03

Januarie 3

1746
Wilhelmina ten Damme oorlede


Helena Wilhelmina ten Damme is in 1706 aan die Kaap gebore. Op 15 Julie 1727 is sy met onderkoopman Hendrik Swellengrebel getroud – ‘n Kaapse goewerneur van 1739 – 1751. Uit die huwelik is vier seuns en vier dogters gebore. Sy is in 1746 oorlede. Swellendam is in 1747 na hulle twee genoem. Haar skoonsusters, Elizabeth en Johanna, was met goewerneur Ryk Tulbagh en ds. Franciscus le Sueur onderskeidelik getroud. Haar wewenaar-skoonvader, Johannes Swellengrebel, is in 1628 met haar suster Engele ten Damme getroud en hy het gevolglik sy skoondogter en sy eie seun se swaer geword.
Aka fak prof. dr. M.J. Swart

1856
Het Volksblad opgerig

Die koerant Het Volksblad is aanvanklik in 1849 in Kaapstad deur G.J. van de Sandt de Villiers (1826 – 1878) opgerig. Dit het net een jaar bestaan, maar in 1856 laat Van de Sandt de Villiers dit herleef. In die stryd tussen die Liberale en Ortodokse Party het die koerant die Liberalisme ondersteun en so vinnig vooruitgang gemaak dat dit spoedig drie keer in plaas van een maal per week kon verskyn. Die koerant het gestrewe na “samewerking der beide kolonistenrassen ten behoeve van hun Zuid-Afrikaansch vaderland, en van zichzelve als heerschend volk”, soos dit deur Ons Tydschrift (111, bl. 149) bewoord is. Hoofartikels is ook deur prof. John Noble en adv. F.S. Watermeyer geskryf. Van 1863 tot 1872 het Jan Celliers die blad geredigeer; hy is opgevolg deur dr. J.W.G. van Oordt. Baie van die oudste Afrikaanse stukke het in Het Volksblad verskyn, soos Boerenbrieven uit Fraserburg van Samuel Zwaartman, en ook F.W. Reitz se verwerking van gedigte van Burns. Die koerant het voortbestaan tot 1886. aka fak prof. dr. P.G. Nel

1900
Slag by Syfergat

Een van die kleiner skermutselinge by die Kaaplandse noordgrens na Stormberg (10 Desember 1899) het by Syfergat plaasgevind, toe ‘n Boeremag van duisend man deur hoofkmdt. J.H. Olivier gestuur is om Britse stellings by Boesmanshoek te verken. Die boere het die polisiekamp by Syfergat aangeval en Loperberg beset, maar Britse versterking uit Sterkstroom het betyds opgedaag en die Boere verdryf. Aka fak dr. J.P. Brits

1971
Anton Ackermann oorlede


Anton Ackermann, gebore op 19 November 1911, sluit hom in die vroeë dertigerjare by die toneelgeselskap van Wena Naude en Willem van Zyl aan. Later saam met Pikkie Uys het hulle hulle eie geselskap gestig en as gewilde toneel egpaar in die laat dertiger- en vroeë veertigerjare bekend geraak met stukke soos Wittebroodsdae, Die hand van die gereg en Koop my blomme (‘n verwerking van Pygmalion deur George Bernard Shaw), wat hulle op die planke gebring het. aka fak M.J. Grobbelaar

No comments: