2008/01/28

Januarie 28

1835
Frans Lion Cachet gebore


Hierdie ouer broer van Jan Lion Cachet is in Amsterdam, Holland gebore. Deur invloed van Christenvriende het die hele gesin Cachet, van Joodse afkoms, tot die Christelike geloof oorgegaan. In Maart 1885 is hy as proponent in die Vrye Skotse Kerk toegelaat, en hy vertrek na Suid-Afrika, waar hy in verskeie gemeentes werksaam is: Kaapstad Ladysmith, Utrecht, Villiersdorp – 28 November 1862 is hy gelegitimeer as predikant van die NG Kerk. In 1875 en 1876 was hy in Holland werksaam, en toe weer vier jaar op Villiersdorp, totdat hy in 1880 finaal terugkeer na Holland, waar hy op 27 November 1899 in Bergen-op-Zoon sterf. Hy het ‘n belangrike boek geskryf wat vandat nog ‘n bron van inligting is: De Worstelstrijd der Transvalers (1883). Ermelo is in 1880 deur hom gestig. Aka fak prof. dr. P.J. Nienaber

1865
J. van Warmelo oorlede


Josina van Warmelo was die tweede vrou van ds. N.J. van Warmelo en is in Schoemansdal oorlede, waar sy ‘n besondere rol in die musiek- en sanglewe gespeel het en aan die algemene estetiese bewusmaking van die afgesonderde Afrikanergemeenskap meegewerk het. aka fak prof. dr. P.G. Nel

1876
J.J. Naude gebore


Jacobus Johannes Naude, vernuftige spioen vir die Boeremagte in Transvaal, het aan die vooraand van die Britse inname van Pretoria opdrag ontvang om in die stad agter te bly om spioenasiewerk te doen. Vroeg in 1900 is hy as kaptein en bevelvoerder van die speurdiens aangestel, en met ‘n dertigtal burgers het hy uiters gevaarlike spieonasietogte na Pretoria onderneem. Vir die duur van die oorlog het hy en sy korps nooit aan groot gevegte deelgeneem nie, maar hulle as guerrilla-vegters onderskei. Hy was deurgaans in Britse offisiersuniform geklee en het die vyand soveel las besorg dat ‘n bedrag van £2 000 op sy hoof geplaas is. Hy is op 27 Junie 1956 in Pretoria oorlede. Prof. dr. J.C. Mol

1881
Slag by Laingsnek

Die eerste skote van die Transvaalse Vryheidstryd het op 16 Desember 1880 geval. Die Boerekrygers was vasbeslote en doelgerig en het onmiddellike welslae behaal. Die Britse garnisoene is op verskeie plekke in Transvaal vasgekeer. Sir George Colley, Britse bevelvoerder, het besluit om Transvaal sonder versterkings binne te val. Genl. Piet Joubert het die inval verwag en ‘n gunstige posisie by Laingsnek gekies om die inval af te wag. Tevergeefs het sir George Colley met 1 100 manskappe en ses veldkanonne probeer om die burgers uit hulle skuilings te verdryf. Uiteindelik moes die Britse mag die aftog blaas met ‘n lewensverlies van 83 en 111 gewondes. Aka fak dr. J.H. Breytenbach

No comments: