2008/01/27

Januarie 27

1797
Anna Steenkamp gebore

Anna Elisabeth Steenkamp (Steenecamp), gebore op Franschhoek, was die dogter van Francois, broer van die Voortrekker goewerneur Pieter Retief, en Martha Elisabeth Joubert, wat sterk ondersteuners van die Voortrekker leraar Erasmus Smit was. Sy was getroud met Johannes D. Hattingh. Haar twaalfde kind is op trek gebore. As bemiddelde mense trek hulle met vier waens en groot veetroppe, waarvan veel geroof is. Verby die Oranjerivier dros hul bediende, en Anna moes met haar dogters die waens drywe en vee aanja. Baie vee het in ‘n veldbrand omgekom. By haar vader in die Retief laer aangekom, beleef hulle aanvanklik geen Zoeloe aanval nie, maar later wel die op die De Lange laer, wat heldhaftig afgeweer is. Haar seun Francois is gestuur om sy oom A.W. J. Pretorius te oorreed om leiding te aanvaar. Anna hertrou met Thomas Ignatius Steenecamp. Toe hulle laer aan die brand raak vlug sy met haar kinders uit. Hulle vestig hulle in die Oranjerivier-soewereiniteit waar hulle haar bejaarde man in 1865 deur Basoeto’s vermoor is. ‘n Eksemplaar van haar gedenkskrif en Bybel word deur mnr. D. Retief, Welvanpas, Wellington gehou. Sy is op 9 September 1891 in die huis van haar seun, C.J. Hattingh, oorlede en op Groenvlei, distrik Lindley, in die familiekerkhof begrawe. Aka fak dr. A.D.J. De Villiers

1804
W.H. Jacobsz gebore

Willem Hendrik Jacobsz, wat op George gebore is en op 4 Mei 1868 op Middelburg, Transvaal, oorlede is, was ‘n vurige republikein, onversetlike demokraat en Voortrekker uit Graaf-Reinet. Hy het as landdros van Weenen (1842-1843) en van Winburg (1847 – 1848), Volksraadslid in Oorvaal (1848 – 1853) en ondertekenaar van die Sandrivier-konvensie ‘n belangrike rol in die eenheids-en vryheidstrewe van die Voortrekkers op die Hoëveld gespeel.
Aka fak prov. dr. G.J.D Duvenhage

1861
Ds. A.J. Begemann as eerste predikant van Pretoria bevestig

Op hierdie dag is ds. A.J. Begemann, gebore op 15 Junie 1831 in Nederland, as eerste predikant van Pretoria in sy amp bevestig. Dit is deur ds. Dirk van der Hoff gedoen in die eerste, ou Hervormde kerkgebou wat op die Kerkplein gestaan het. Hoewel sy koms die predikante nood in die NH Kerk verlig het, was hy as predikant nie altyd ‘n sukses nie. Sy enigsins taktlose optrede word die aanleiding, in 1869, tot die stigting van die Konsulentgemeente van Pretoria. In Junie 1872 lê hy die bediening neer. Hy word die eerste bibliotekaris van die Staatsbiblioteek. Hy neem ook aktief deel aan die oprigting van die Staatsbiblioteek. Hy neem ook aktief deel aan die oprigting van die Staatsmeisjesschool in 1894 in Pretoria. Veral op die vlak van die onderwys en opvoeding het hy ‘n belangrike bydrae gedoen. Hy sterf op 15 November 1925 in Pretoria. Prof. dr. A.D. Pont

1903
Aankoms van die Land soekers ekspedisie in Dar-es-Salaam


Na die stigting van Duits-Oos-Afrika (Tanganjika) en Brits-Oos-Afrika (Kenia), is blanke emigrante uit Suid-Afrika ter wille van die ontwikkeling van die gebiede in Oos-Afrika ter wille van die ontwikkeling van die gebiede in Oos-Afrika verwelkom. Talle georganiseerde groepe het na die Engelse Oorlog na Oos-Afrika getrek. In 1903 het die sogenaamde landsoekers ekspedisie onder. P.C. Joubert en sy broer, genl.. D. Joubert, van Machadodorp vertrek op ‘n verkenningstog, veral na Duits-Oos-Afrika. Hulle kom op 27 Januarie 1903 in Dar-es-Salaam, Tanganjika aan. Na baie ontberings, waartydens genl.. D. Joubert gesterf het, het die groep met ‘n ongunstige rapport teruggekeer. Nogtans het trekkers spoedig na Oos-Afrika begin trek: bittereinders en verbitterdes wat weier om onder die Britse vlag in Suid-Afrika te lewe; avonturiers wat die vryheid en wydsheid van ‘n ongerepte land gaan opsoek het … “Joiners” en “national scouts” wat ontvlugting gaan soek het. In Julie 1905 kom ‘n groot aantal gesinne, onder meer die van Stephanus Trichardt, kleinseun van die trekker leier Louis Trechardt, saam met P.C. Joubert in Tanganjika aan. Hulle het die Afrikaanse taal, kultuur en godsdiens in Midde-Afrika gevestig en jare lank in stand gehou. Aka fak prof. dr. P.G. Nel

No comments: