2008/01/29

Januarie 29

1878
P.W.A. Mulder gebore


Pieter Willem Adriaan Mulder is op Muldersdrif, Transvaal, gebore. Sy vurige idealisme vir die Afrikanersaak het daartoe gelei dat hy ‘n dapper vegter in die Engelse Oorlog (1899 tot 1902) was, tronkstraf as kommandant in die Rebellie (1914) opgelê is en ‘n toegewyde kampvegter vir Afrikaans as landstaal geword het. Hy sterf op 7 Julie 1943 in Pretoria. Aka fak prof. dr. J.C. Mol

1936
Voortrekkerpers gestig


In die politieke woelings jare van die Afrikaner, die jare dertig, is die behoefte aan ‘n eie Nasionale dagblad in Transvaal baie sterk besef. Op 30 September 1935 het Nasionale leiers onder voorsitterskap van mnr. W.A. Hofmeyr op Stellenbosch besluit om ‘n Transvaalse Nasionale dagblad te begin. Mnr. Pieter Neethling, bekend as die vader van die Voortrekkerpers, het die eerste £5 000 geskenk en daar is besluit om ‘n maatskappy – Voortrekkerpers Bpk. – met ‘n kapitaal van £150 000 op te rig. Na ‘n besielende oproep deur dr. D.F. Malan in Die Burger en Die Volksblad het die Afrikaners se bydraes ingestroom en die kapitaal doelwit is oorskry. In Julie 1936 is ‘n perseel in Johannesburg gekoop, ‘n gebou opgerig en op 1 Oktober 1937 het die eerste uitgawe van die dagblad Die Transvaler onder die redakteurskap van dr. H.F. Verwoerd verskyn – ‘n mylpaal wat op ‘n kritieke tydstip in die Nasionale Afrikanerdom van Transvaal, en in die hartjie van die verstedelikte Afrikanerdom bereik is. FAK

1940
Die Herenigde Nasionale Party of Volksparty gestig

Nadat genl.. Hertzog se neutraliteit mosie op 4 September 1939 verwerp is en hy as Eerste Minister moes bedank, was die eenheidsdrang by die Nasionale Afrikaners baie sterk. Die Hertzog-groep en die Nasionaliste onder dr. D.F. Malan was aanvanklik haaks oor die republikeinse strewe en die naam van die nuwe party. Uiteindelik is besluit tot die naam die Herenigde Nasionale Party of Volksparty. Op hierdie dag is ‘n ooreenkoms tussen die twee groepe in die pers aangekondig. Hierkragtens sou die party hom beywer vir ‘n republikeinse staatsvorm, afgeskei van die Britse Kroon – en met inagneming van die gelyke taal- en kultuurregte van albei blanke volksgroepe. Die eenheid sou egter kortstondig blyk te wees. Aka fak H.O. Terblanch

1957
Durbanse Onderwyskollege gestig

In die agterplaas van die Durban Girl’s High School, in ‘n opslaangebou, word ‘n Engelse tak van die Natal Training College op 29 Januarie 1957 gestig. Uit die agterplaas verlede van die Durbanse Onderwyskollege, wat ‘n sprokies verlede vir die Dokkies was, het die Aspoestertjie van die Natalse Onderwys sommer onmiddellik en onbeskeie haar voet vir ‘n glas pantoffeltjie uitgehou en nie gerus voordat albei voete stewig en onbeweeglik ‘n vastrapplek op die Natalse bodem verkry het nie. In 1958 is daar voorsiening gemaak vir Afrikaansmedium, en in 1959 word ‘n eie volwaardige kampus betree. Die tak was toe nie meer ‘n tak nie, maar die Durbanse Onderwyskollege, wat ‘n eie septer swaai en weldra uniek sou word. In 1972 is die Engelse studente van die Durbanse Onderwyskollege na ‘n eie kampus verskuif, en die Durbanse Onderwyskollege is voortaan suiwer Afrikaans en die enigste Afrikaanse tersiêre inrigting in Natal. Die Durbanse Onderwyskollege is die troetelkind van die Natalse Afrikanerkultuur, wat trots sy eie vlag hys en in sy eie kollege lied sy eie identiteit bevestig. FAK

No comments: