2008/01/26

Januarie 26

1863
S. Cornwright-Schreiner gebore


Saam met sy briljante vrou, Olive Schreiner, het Samuel Cronwright-Schreiner openlik standpunt ingeneem teen Cecil Rhodes en as kampvegter van die Boeresaak tydens die Engelse Oorlog in Engeland hulle veel haat op die hals gehaal. Hy is op 8 September 1936 in Rondebosch, Kaap, dood. Aka fak prof. dr. J.L. Hatting

1867
Ds. Paul Nel gebore

Na sy jeugjare op Greytown, het Paul Nel hom in 1892 aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch as predikant bekwaam. Hy het in verskeie gemeentes gearbei, maar sy naam is verbonde aan Ermelo, waar hy van 1907 tot met sy emeritaat in 1934 gestaan het. Sy besondere gawes van hoof en hart is gou deur sy kerk raakgesien, en so dien hy as skriba van die Transvaalse Sinode en van die Federale raad van NG Kerke. Telkemale was hy ook voorsitter van hierdie kerkvergaderinge. Hy was een van die predikante wat hom ook in die Engelse Oorlog by die vegtende burgers aangesluit het. Hy is gevange geneem by Elandslaagte, maar is kort daarna vrygelaat. Hy was een van die eerste pleitbesorgers vir die oprigting van die NG Kerk se Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria en dien later in die eerste Fakulteitskommissie. Hy is op 7 Oktober 1943 op Ermelo oorlede. Aka fak prof. dr. P.B. Van der Watt

1894
L.J. Erasmus gebore

Lourens J. (Rassie) Erasmus het as weeskind grootgeword nadat hy sy moeder kort voor die Engelse Oorlog verloor en sy vader in die oorlog gesneuwel het. Hy lewer sy diens aan die Afrikaner se kultuur aan die Rand as stigterslid van die Afrikaner-Broederbond, sekretaris van die Transvaalse Onderwysersvereniging, leidende figuur in Afrikaner kringe in Johannesburg, die ASB, die FAK, die Afrikaanse Kunsvereniging, Volkskas en die Handhawersbond. In 1938 word hy hoofbestuurder van SA Diensburo (Spoorbondkas). Daarby was hy ook stigter en hoof van die Helpmekaar Korrespondensiekollege, benewens verskeie ander werksaamhede. Hy was sedert 1962 aan Afrikaanse Pers Beperk verbonde en skryf ook sy belangrikste publikasie ‘n Volk staan op uit die as in daardie jaar. Hy is in September 1970 oorlede.

1896
Wellingtonse Opleidingskool begin

Die Onderwyskollege op Wellington is nie alleen die oudste onderwyserskollege in Suid-Afrika nie, maar ook die grootste in die Kaapprovinsie. Die Hugenote-seminarie, waaruit die WOK gebore is, en waartoe dr. Andrew Murray (1828 – 1917) ‘n besondere bydrae gelewer het, is op Maandag 19 Januarie 1874 geopen. Hierdie inrigting het van die begin af ook onderwyseresse, en seder 1887 ook kindertuin onderwyseresse, opgelei. Op 26 Januarie 1896 het die Opleidingskool , soos dit destyds bekend was, in ‘n drie vertrek geboutjie op die terrein van die Hugenote-seminarie begin. Skoliere wat in st. 5 geslaag het en reeds 14 jaar oud was, kon tot die eerstejaars klas toegelaat word. In Julie 1896 is die eerste geboue op die huidige kampus betrek. In 1897 word dit ‘n Opleidingskollege, omdat matrikulante ook ingeskryf is. Afrikaans word in 1920 as vak ingevoer, terwyl die eerste les deur medium van Afrikaans in 1928 deur ‘n student aangebied word. In 1936 kry die Wellingtonse Onderwyskollege sy eerste Afrikaanse hoof en word Afrikaans progressief as medium van onderrig ingevoer. FAK


1902
Genl. Ben Viljoen gevang

Genl. Ben Viljoen en sewe ander mense was op pad na sy kommando by Pelgrimsrus toe hulle naby Lydenburg in die maanlig in ‘n hinderlaag gelok en na ‘n kwaai skermutseling gevang is. Sy sakboekie het verhinder dat ‘n koeël hom in die bors getref het. Aka fak prof. dr. M.C. Van Zyl

No comments: