2008/01/19

Januarie 19

1563
Heidelbergse Kategismus verskyn


Hierdie datum verskyn by die voorrede van die eerste uitgawe van die Heidelbergse Kategismus. Die Kategismus het sy amptelike vorm gekry toe dit in die Kerkorde vir die Palts, wat die Keurvors op 15 November 1563 uitgevaardig het, opgeneem is. Die vrae wat daarin voorkom, is die eerste keer in die Latynse vertaling, wat reeds voor 3 April 1563 verskyn het, genommer. ‘n Kort Begrip is met die oog op die skoolkinders in 1576 uitgegee. Die Heidelbergse Kategismus vorm saam met die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls die sogenaamde Drie Formuliere van Enigheid wat nog altyd die belydenisskrifte van die vernaamste Afrikaanse Protestantse kerke in Suid-Afrika is. In sommige van hierdie kerke speel die Kategismus ‘n belangrike rol en word van predikante verwag om ‘n voorgeskrewe getal preke in volgorde daaroor te lewer. Op hierdie wyse het hierdie belydenisskrif tot op die huidige dag nie alleen vir die kategese nie, maar ook vir die hele gemeente as ‘n formulering van sy geloof van groot betekenis gebly.
Aka fak prof. dr. P.F.D. Weiss

1874
Opening van die Hugenote-seminarie

Ds. Andrew Murray, wat in 1971 predikant van Wellington geword het, het ‘n besondere belangstelling in die onderwys van die jeug geopenbaar. Deur sy toedoen het die Hugenoteseminarie in die dorp verrys wat op 19 Januarie 1874 formeel geopen is met plek vir 40 kosgangers. Hy het as voorbeeld ‘n Amerikaanse meisieskool, die Nount Holyoke Seminary, geneem en ook twee dames van die Verenigde State laat kom om in die skool behulpsaam te wees. Jong meisies uit verskillende dele van Suid-Afrika het na die skool gegaan, wat volslae Engels georiënteerd was. Dit is te begryp dat die vestiging van die skool in die onmiddellike nabyheid van die kwaaiste voorstanders van Afrikaans spoedig venynige kritiek uitgelok het. Kwaai aanvalle verskyn onder meer in De Zuid-Afrikaan.

So skryf ‘n briefskrywer in die koerant:

“Wellington moet geangliseerd worden. Ziedaar het ontstaan van een Hugenoten School zonder Hugenotentaal of geest. Bestuurd door Amerikanen! De gemeente moet geld geven om hare eigene taal te vertrappen.”

Dit verbaas dus nie dat daar spoedig die wekroep gehoor is:

“Komt Broeders! Laat ons de handen ineenslaan eer het te laat is. Laat ons tegenover het zoogennaamde Hugenoten Instituut te Wellington eene Gereformeerde Hollandsche Meisjesschool oprigten waar die wanklankige Engelse brabbeltaal voor goed uitgesloten zal worden.” Aka fak dr. P.J. De Beer

1886
Victor Pohl gebore


Victor Phol was een van die eerste Afrikaners wat viool ernstig gestudeer het. Genl. Hertzog het hom gehelp om voor 1910 in Brussel opleiding te ontvang, waarna hy hom as leermeester in Bloemfontein gevestig het. Hy het ook as skrywer (in Engels) sukses behaal.
Aka fak prof. dr. A.C. Hartman

1916
Onderwyskollege Oudtshoorn word onafhanklik


Die Onderwyserskollege Oudtshoorn het gegroei uit ‘n afdeling vir die opleiding van kwekelingonderwyseresse aan die plaaslike Hoër Meisieskool. Op 19 Januarie 1916 het dit ‘n onafhanklike inrigting geword met mej. Colquhoun as eerste permanente hoof. Dit was die beskeie begin van ‘n onafhanklike opleidingskool wat in die loop van 62 jaar tot die huidige onderwyserskollege gegroei het. Gedurende die eerste tydperk was die voertaal van die inrigting nog Engels, hoewel die meeste van die studente se huistaal Afrikaans was. Die Onderwyserskollege Oudtshoorn, met Afrikaans as voertaal, is ongetwyfeld ‘n kulturele brandpunt in en van Suid-Kaapland. Musiek, sang drama en die beeldende dunste geniet lewendige aandag. Terwyl die geestelike organisasies sterk invloed uitoefen. Die Onderwyserskollege Oudtshoorn dra ‘n sterk Christelik-nasionale boodskap uit. FAK

No comments: