2008/01/18

Januarie 18

1700
S.J. Botma oorlede


Steven Jansz Bothma, wat in 1618 in Wageningen in Nederland gebore is, is een van die eerste Vryburgers aan die kaap en speel so ‘n leidende rol in die Vryburgergemeenskap dat hy in 1657 as die eerste burgerraad aangestel word. Hy is op Stellenbosch oorlede. FAK

1838
D.P. van den Heever gebore


Daniël Petrus van den Heever is in die distrik Colesberg gebore en op 4 September 1903 op Venterstad oorlede. Hy was ‘n boer en lid van die Kaapse Parlement. Hy tree op as kampvegter vir Hollands deur middel van die Boerenbekampvegter vir Hollands deur middel van die Boerebeschermingsvereniging – onder sy voorsitterskap is op 23 Augustus 1878 ‘n tak gestig op Vinkelfontein. Hy stig ‘n jaar later ook ‘n tak van die Afrikanerbond. Deur sy bemoeiinge en petisies vir die erkenning van Hollands in die Parlement, neem die Wetgewende Vergadering die voorstel van J.H. Hofmeyer (Onze Jan) aan wat die gebruik van Hollands in die Parlement wettig. Op 17 Januarie 1893 onthul Van den Heever die Taalmonument op Burgersdorp. Hy word lid van die Afdelingsraad in 1880; in 1883 vrederegter; en die jaar daarop lid van die sirkel Noordoostelike Distrikte in die Wetgewende Raad. Hy bly tot sy dood LWR. Hy was ook ‘n voorstander van Afrikaans en skryf artikels in Die Afrikaanse Patriot onder die skuilnaam Klein Joggem.
Aka fak prof. dr. P.J. Nienaber

1869
Ds. James Murray Louw gebore


James Murray Louw is op Murraysburg gebore. Hy was een van die elf kinders van ds. A.A. Louw en Jemima Murray, dogter van ds. Andrew Murray senior. Bekend is ook sy broers A.A., stigter van die Masjonalandse Sending, ds. A.F., van Stellenbosch, en die sakeman, C.R. As geagte leraar van die uitgestrekte Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Boksburg, waar hy 41 jaar bly tot sy dood op 21 November 1939, help hy om aan hierdie kerkverband beslag te gee. Hy dien in die moderatuur en neem ‘n aandeel in die stigting van Vergenoeg en ander gemeentes om lidmate in Duits-Oos en Brits-Oos-Afrika te bedien. Onvermoeid tree hy vir sy volk in. Van die begin tot die einde van die Engelse Oorlog is hy met die Boere op kommando. Na die oorlog rig hy die eerste CNO-skool aan die Oos-Rand in Boksburg op en het hy ‘n leidende aandeel in die totstandkoming later van Afrikaansmediumskole in hierdie gebied. Baie jare dien hy in die bestuur van die Abraham Kriel Kinderhuis om weeskinders en minderbevoorregte kinders vir kerk en volk te behou. Sy bekwame vrou, Gertruide Johanna Joubert, ewe-eens uit ‘n pastorie, beywer haar vir die sending en is ‘n stigterslid van die Transvaalse Vrouevereniging (1905) aka fak prof. dr. E. Brown

1908
J.J. Kruger gebore

Johannes Jacob Kruger se besondere belangstelling was kuns, kultuur en die Afrikaanse letterkunde. Vrystater van geboorte, het hy aan die destydse Grey-Universiteitskollege, Bloemfontein, gestudeer en toe agtereenvolgens gedien in die redaksies van Die Volksblad en Die Oosterlig (as redakteur), as assistant-redakteur van Die Volksblad en Die Burger, redakteur van die kulturele tydskrif Die Ruiter en as redakteur van Die Transvaler. Daarna het hy in 1960 kulturele adviseur van die SAUK geword. By die radio was sy taak om die kultuur en kunsdienste van die SAUK te integreer met die van die samelewing en die grootste moontlike mate van samewerking te verkry. Hy was ook die eerste voorsitter van die Publikasieraad. Hy is op 2 September 1976 oorlede.
Aka fak D. Erasmus

No comments: