2007/12/17

Desember 16

16 Desember
1838
Geloftedag


Na aanleiding van die militêre sukses op hierdie dag teen die Zoeloes deur die Voortrekkers behaal, het Geloftedag sedert 1838 ‘n besondere plek in die Afrikaanse volkslewe beklee. Op honderde oorde word elke jaar feeste van uiteenlopende aard aangebied. Al daardie enkelinggroepe vorm ‘n ontsaglike Gelofteskaar. Dit is verder betekenisvol dat die viering vandag veel meer omvangryk nagekom word as in die negentiende eeu. Nogtans toon die verrigtinge ‘n interessante eb en vloed, wat op sigself weer ‘n aanduiding van die volksgesteldheid is. Dit was nie destyds ‘n botsing tussen wit en swart as sodanig nie, Maar die verheffingsuur van ‘n wordende volk wat sy hoogste bestaansreg en voortbestaansgeleentheid in die hand van God geplaas het. Die herdenking vandag is bloot die nakom van ‘n afspraak met die Here. Volgens Wet nr 3 van 1910 is 16 Desember as openbare vakansiedag bevestig, en sedert 1952 is dit as Geloftedag bekend, hoewel dit intussen ook Dingaansdag, Dankdag, Wendag, Retiefdag, Voortrekkerdag en ander name genoem is. Binnelandse politieke woelinge het deur die jare die gees van Geloftedag beïnvloed, maar die religieuse, kultuurhistoriese inslag oorheers telkens weer. Op sekere plekke het ‘n besondere tradisie ontstaan, soos by Paardekraal aan die Wes-Rand en die Groote Schuurlandgoed in Kaapstad. Hoogtepunte was die Geloftedag vierings tydens die Engelse Oorlog, die feeste van 1915 na die Rebellie-onrus van 1914/15, die onthulling van die monument ter gedagtenis aan die gestorwenes van die Konsentrasiekampe deur mev. De la Rey by Klerksdorp in 1920, die toenemende feeste by ons buitelandse ambassades sedert 1928, die Eeufees jaar van 1938 en die onthulling van die Voortrekkermonument in 1949 deur dr. D.F. Malan. ‘n Kwartmiljoen mense was om twaalfuur die middag byeen toe die sonstrale op die senotaaf geval het. Daar het ‘n krag van die Afrikaner uitgegaan, en talle Engelstaliges het erken dat slegs die Boer so fees kan vier. Sedert 1949 dateer egter ook die groeiende kritiek op die blanke en hulde aan eie historiese leiers deur swart politici. Op Geloftedag word deur honderde sprekers na verskeie volks- en landskwessies verwys, word vir uiteenlopende verdienstelike sake gekollekteer, word in koerante oor die sin en aard van Geloftedag besin. Die FAK speel ‘n besondere rol deurdat program voorbeelde beskikbaar gestel word, toespraak temas jaar vir jaar voorgestel word en die ware gees van die Gelofte steeds onderstreep word. Geloftedag word meesal nie meer oor enkele dae gevier nie, maar dit dien nog steeds as ‘n geestelike wapenskou, as bron van historiese kennis, as oomblik van Afrikaanse volkseenheid, as beeld van die bedreiging en verval tekens van die eie dag en is ‘n oproep om gelowig op die Here te vertrou.
Aka fak Prof. dr. M.J. Swart

1838
Slag by Bloedrivier
(1798 Andries Pretorius gebore)

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius, groot Voortrekkerleier, is op die plaas Driekoppen, distrik Graaff-Reinet gebore. As Oosgrensboer speel hy ‘n belangrike rol in die gebeurtenis volle jare voor die Groot Trek. Gedurende die Sesde Oosgrensoorlog (1834-1835) voer hy ‘n kommando van 800 burgers aan. Toe die eerste Voortrekkers in 1836 uit Graaff-Reinet vertrek, gaan hy nie saam nie, maar besoek in 1837 die Voortrekkers in die Vrystaat en Natal en koop selfs ‘n plaas in Natal. Daarom is hy die vanselfsprekende keuse om na Pieter Retief se dood, leier van die herderlose Voortrekkers te word. Op 22 November 1838 sluit hy hom by die hooflaer aan die Klein-Tugela aan en begin hom dadelik voorberei vir die stryd teen Dingaan. As hoofkommandant van die strafkommando trek hy op 24 November met 470 man en 64 waens uit. Hy dissiplineer die pioniere met takt en deeglikheid en is die stukrag agter die aflegging van die Gelofte deur Sarel Cilliers op Sondag 9 Desember 1838 by Wasbank. Die Gelofte word elke aand hierna herhaal. Op 15 Desember organiseer hy met besondere krygsvernuf ‘n laer op die wesoewer van die latere Bloedrivier. Kort na dagbreek op Sondag 16 Desember bars die geveg los toe 10 000 Zoeloe krygers die laer keer op keer aanval. Na twee uur van woeste aanvalle bestorm Pretorius en sy perderuiters die Zoeloe impies. Twee keer word hulle teruggedryf voordat hulle deurbreek en die Zoeloes op die vlug slaan. Die Slag by Bloedrivier het Dingaan se mag ‘n knou toegedien waarvan hy nie maklik sou herstel nie, want 3 000 van sy impie het gesneuwel terwyl net drie Voortrekkers, waaronder Pretorius, lig gewond is. Hierna verslaan Pretorius die Zoeloes se mag finaal en annekseer op 14 Februarie 1840 die landstreek tussen die Tugela en Swart-Umfolozi. Hy neem die leiding in die vereniging van die Winburg-Potchefstroom-Pietermaritzburg Voortrekkers in een politieke eenheid. Na die Britse anneksasie van Natal het hy nog vyf jaar lank in Natal volgehou. Totdat die volkere beleid van die Britse owerheid hom uitgedryf het. Tevergeefs het hy aangedring op territoriale segregasie en gewys op die gevaar wat meegebring word wanner wit en swart deurmekaar woon. Hy het swaar van Natal afskeid geneem. Voor sy vertrek het sir Harry Smith hom aan die voet van die Drakensberge ontmoet en by hom aangedring om te bly. Hy sou al die griewe uit die weg ruim en het Pretorius persoonlik ‘n ruim beloning aangebied. Pretorius het egter by sy besluit gebly: alleen as Natal aan die Voortrekkers teruggegee word, sou hy bly. “Ik nam mij toen volstrek voor om mij nooit onder Britsch gezag te onderwerpen,” skryf hy later. Met hierdie besluit het daar ‘n nuwe periode in Pretorius se lewe aangebreek. Toe oorreding nutteloos blyk, het sir Harry Smith die Voortrekkerleier ‘n proklamasie getoon waardeur hy die hele gebied deur die Emigrante bewoon vir Engeland wou annekseer en dat die meeste Emigrante anneksasie begeer. Pretorius was so erg teleurgestel toe hy dit van sir Harry Smith verneem, dat hy hom voorgeneem het om hom op sy plaas aan die Magaliesberg terug te trek en daar stil te gaan woon. Die noodkrete van sy landgenote het hom egter byna onmiddellik weer na die Vrystaat laat terugkeer. By Boomplaats is vir die tweede maal die stryd met wapengeweld ten gunste van Engeland beslis, en as voëlvryverklaarde, met ‘n prys van £2 000 op sy hoof, het Pretorius na sy plaas teruggekeer. Ondanks verskille met Andries Hendrik Potgieter, speel Pretorius weer eens ‘n leidende rol om ‘n sentrale regering noord van die Vaalrivier tot stand te bring. Na Boomplaats het ‘n vasbeslote en onwrikbare Pretorius volgens ‘n vaste plan te werk gegaan. Hy sou hom nou stap vir stap daarvoor ywer om die onafhanklikheid van die gebiede wat deur die Emigrante bewoon is, erken te kry. In sy strewe om die onafhanklikheid te verkry, is hy egter gedwarsboom deur die gebrek aan eenheid onder die Emigrante. Hy speel egter ‘n leidende rol by die totstandkoming van die Verenigde Bond in Transvaal by Derdepoort in 1849. Kort voor die erkenning van die onafhanklikheid en selfs daarna was daar weer gebrek aan eensgesindheid. Deur sy takt en oorredingsvermoë het Pretorius daarin geslaag om dit alles te bo te kom. Hy was ‘n bekwame diplomaat en het geweet hoe om sy tyd af te wag. Toe omstandighede in Engeland sowel as in Suid-Afrika gunstig was vir sy doel, het hy daarvan gebruik gemaak, nieteenstaande teenstand in Transvaal, om die onafhanklikheid te verkry. Toe die Volksraad nie vergader om die nodige opdrag te gee nie, het hy dit van die krygsraad en van die publiek verkry. Eindelik was die Volksraad verplig om saam te werk in ‘n saak wat hy nie kon verhoed nie, en hy moes maar die stappe wat Pretorius reeds gedoen het, goedkeur. Die Sandrivier-traktaat was die kroon op sy arbeid. Maar een ding het hom nog leed veroorsaak: sy landgenote wat in die Oranjerivier-Soewereiniteit gewoon het, het nog onder Britse bestuur gestaan en kon dus nie die vryheid van hul bure noord van die Vaalrivier deelagtig word nie. Die erkenning van hul onafhanklikheid het hy egter nie beleef nie, hoewel hy onteenseglik die weg daartoe voorberei het. Hy is op 23 Julie 1853 na ‘n swaar lyding aan die borswater oorlede. In 1891 is sy stoflike oorskot in die Ou Kerkhof in Pretoria herbegrawe. Aka fak Prf. dr. P.H. Kapp


1852
Kmdt.-genl. A.H. (Hendrik) Potgieter oorlede

Hendrik Potgieter is op 16 Desember 1852 oorlede en begrawe. Potgieter was by uitstek daarvoor verantwoordelik dat die Transvaalse grondgebied deur die Voortrekkers bewoon kon word. aka fak G.J. Jooste


1904
Pres. S.J.P. Kruger in Pretoria begrawe


Om 6h00 het die kerkklokke in Pretoria vir die begrafnis van Stephanus Johannes Paulus Kruger, in lewe geliefde Staatspresident van die ZAR. Die Kerkplein en die eertydse woning van pres. Kruger was in rou geklee en die letters RIV (Rus in Vrede) was voor die huis aangebring. Vanaf 10h00 is buitelug godsdiensoefening op die oop terrein langs die Gereformeerde Kerk, regoor Kruger huis, gehou, en om 15h30 het die begrafnis verrigtinge op die Kerkplein ‘n aanvang geneem, waar die voetstuk vir pres. Kruger se standbeeld reeds opgerig was. Die President se stoflike oorskot, wat uit Nederland na Suid-Afrika gekom het, is vanaf die Susannasaal per lyk wa na die Kerkplein en daarna na die begraafplaas vervoer. ‘n Skare van ongeveer 15 000 het geluister na sprekers soos genls. Schalk Burger, C.R. de Wet en Louis Botha, wat hulde gebring het aan die ontslape president, waarna pres. Kruger in die Ou Begraafplaas, Kerkstraat-Wes, in die helde-akker te ruste gelê is. Dit was een van die somberste Geloftedag in Transvaal, maar nogtans ‘n dag waarop die Afrikaanse volk kon terugkyk na ‘n gelowige en besielde leier, en ‘n dag wat sy besieling vir die toekoms gebied het. aka fak Prof. dr. P.G. Nel

1913
Onthulling van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein


Die onthulling van die Vrouemonument was die vervulling van ‘n lang gekoesterde ideaal om hulde te bring aan die 26 370 vroue en kinders wat tydens die Engelse Oorlog in die Konsentrasiekampe die lewe gelaat het. Jare lange harde werk, onder die inspirerende leiding van pres. Steyn, het hierdie gebeurtenis voorafgegaan. Die feesviering het begin met ‘n diens in die Tweetoringkerk deur die eerbiedwaardige dr. Andrew Murray. ‘n Indrukwekkende optog bestaande uit gewapende burgers, waens met jong meisies in wit en pers geklee en ‘n groot aantal berede burgers, het onder plegtige musiekbegeleiding en kanongebulder die monument genader. Die onthulling is deur mev. Steyn waargeneem, omdat Emily Hobhouse weens swak gesondheid nie teenwoordig kon wees nie. ‘n Kranslegging is gehou en feesredes gelewer aan die voet van die gedenknaald van Anton van Wouw se ontroerende beeldegroep. Die patos en oneindige weemoed wat uit hierdie monument straal, kan geen toeskouer onaangeraak laat nie.
aka fak dr. J. Celestine Pretorius
liedvanjongsuidafrika.mid (8.79 KB - downloaded 2 times.)
diestem.mid (5.24 KB - downloaded 0 times.)
transvaalsevolkslied.mid
(7.07 KB - downloaded 0 times.)
afrikanerslandgenote.mid (9.54 KB - downloaded 0 times.)
genadeonbesk.mid (17.63 KB - downloaded 0 times.)
hoegrootisu.mid (95.63 KB - downloaded 0 times.)
oboereplaas.mid (1.98 KB - downloaded 0 times.)
afrikaners.mid (8.59 KB - downloaded 0 times.)
aanstap_rooies.mid (1.4 KB - downloaded 0 times.)
sariemarais.mid (24.3 KB - downloaded 0 times.)
dankie.mid (55.71 KB - downloaded 0 times.)

No comments: