2007/12/14

Desember 15

1854
Dr J.D. Kestell gebore


John Daniël Kestell is op Pietermaritzburg gebore. Hy het sy opleiding as teoloog op Stellenbosch en in Nederland ontvang, waarna hy agtereenvolgens die NG gemeentes Kimberley, Harrismith, Ficksburg en Bloemfontein bedien het. Gedurende die Engelse Oorlog vorm hy saam met pres. Steyn en genl.. De Wet die vermaarde driemanskap – kerkman, staatsman en krygsman. Leier by uitnemendheid, beklee hy by drie agtereenvolgende sittings van die Sinode van die NG Kerk die amp van Moderator. In 1919 aanvaar hy die redakteurskap van De Kerkbode. Op 65-jarige leeftyd word hy Rektor van die destydse GUK – ‘n unieke onderskeiding! “As Rektor het hy vir hom as ideaal gestel om aan die GUK ‘n eie karakter te gee, nl. Wat eie is aan die Vrystaat en sy mense, d.w.s. Christen –Afrikanerskap, en om die inrigting so gou moontlik tot ‘n selfstandige universiteit te voer.” (Prof. M.C.E. van Schoor) Vader Kestell, die beminlike, pragtige mens, was Vrystater tot in sy voetsole en gelowige vaderlander in murg en been. In So onthou ek hom prys D.F. Malherbe “sy blymoedige, gelowende hart, sin vir humor, liefdevolle begrip van ander, klein of groot, sy ewewigtigheid, sy sagte, vergewende oordeel, sy vroomheid, getemper deur nugtere insig, die groot omvang van sy belangstelling, sy innige liefde vir die medemens – kortom, Christenmens van die hoogste orde”. Die naam van sy huis was Ruimte, en die boodskap van sy lewe skep ruimte in die gees van sy volksgenote – dankbare volksgenote wat hulle ekonomiese opheffing in ‘n groot mate aan die reddingsdaad-aksie van Vader Kestell te danke het. Hy is oorlede op 9 Februarie 1941 en begrawe aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein.
Aka fak D.J. Viljoen

1899
Slag by Colenso

Toe genl. Sir Redvers Buller hom vroeg in Desember begin gereedmaak om Ladysmith te ontset, het genl.. Louis Botha met nagenoeg 5 000 man hul stellings aangelê aan die oewer van die Tugelarivier, digby Colenso. Op 15 Desember sou Buller die Tugela oorsteek met vier kolonnes. Terwyl Buller die Tugela nader, brand sy kanonne op die vermeende Boerestellings los, maar op Botha se bevel word geen skoot deur die Boere geskiet voordat die Britse linkervleuel digby die rivier is nie. ‘n Verbaasde Buller, wat reeds gemeen het dat die vyand nie meer in hul stellings is nie, word plotseling wreed ontnugter deur ‘n ongekende koeëlreën. Terwyl die Britte nie die Boere in hul loopgraaf stellings kan sien nie, is hulle self sonder behoorlike dekking op ‘n oop terrein. Hulle word eenvoudig afgemaai. Elfuur die oggend beveel Buller sy kolonnes om terug te val. Teenoor die ses gesneuweldes en 22 gewondes aan Boerekant, is daar 1 100 gesneuweldes en 22 gewondes aan Boerekant. Colenso het Louis Botha se onbetwisbare krygsvernuf duidelik onderstreep. Aka fak dr. J.P. Brits

1907
Prof B. Kok gebore

Benedictus Kok se vol, ryk lewe as taalgeleerde, akademikus, musiekkenner, kultuurmens en besielende leier is sierlik bekroon toe hy tot Rektor (1967) en Kanselier (1976) verkies is. Hy het in 1979 om gesondheidsredes uit sy amp as voorsitter van die FAK bedank. Aka fak D.J. Viljoen

1920
Afrikaanse Kunsvereniging gestig


Op hierdie dag het die wenners van ‘n resitasie wedstryd tussen die laerskole La Rochelle en Turffontein opgetree in die voorprogram van die volgende dag se Dingaansfees. Hierdie fees is gereël deur die Dingaansfees kommissie van Witwatersrand-Sentraal. In 1923 het hierdie wedstryde so uitgebrei dat die naam Afrikaanse Kunsvereniging daaraan gegee is. Dr. Wm. Nicol was die eerste voorsitter. Onder die inspirerende leiding van voorsitters soos Eitemal, C.M. van den Heever, Fransie Viljoen, E. Aapkes en ander, het hierdie geloofsdaad van 1920 gegroei tot ‘n organisasie wat vandag kunswedstryde reël met tot 5000 inskrywings en 12000 deelnemers. FAK

1938
Roberts Heights word Voortrekkerhoogte


Met die Simboliese Ossewa trek in 1938 was genl.. J.C.G. Kemp Waarnemende Minister van Verdediging. Hy het waargeneem in die plek van adv. O. Pirow. Die oggend van 15 Desember het genl.. Kemp hooggeplaaste offisiere van die Unie-Verdedigingsmag en die Sekretaris van Verdediging, adv. Broeksma, meegedeel dat hy voornemens is om die naam van die Verdedigingshoofkwartier, Roberts Heights, te verdoop tot Voortrekkerhoogte, en het algemene steun van hulle ontvang. Genl. Kemp se motivering vir sy besluit was dat die naam Roberts Heights sy ontstaan te danke het aan die feit dat lord Roberts se Engelse magte in die Engelse Oorlog oor die hoogte getrek het toe hulle Pretoria op 6 Junie 1900 beset het. Lord Roberts was na die mening van genl. Kemp nog die grootste dwingeland met wie Suid-Afrika te kampe had – en waarom moes sy naam nogal deur die Verdedigingshoofkwartier verewig word? Die middag het genl.. Kemp by die volk saamtrek by Monumentkoppie die naamsverandering in die openbaar aangekondig. Op politieke vlak het genl.. Kemp se stap hewige teenkanting van Engelssprekendes uitgelok, maar hy is sterk gesteun deur genl.. Hertzog en die Minister van Verdediging, adv. Pirow. FAK

No comments: