2007/12/17

Desember 17

1856
De Republiek Lijdenburg in Zuid-Afrika uitgeroep

De Republiek Lijdenburg in Zuid-Afrika is op hierdie dag uitgeroep as die Oos-Transvaalse pioniers se reaksie op die konstitusionele, administratiewe, kerklike twispunte en leiers botsings binne die drie Oorvaalse regionaal-politieke groepe, wat uiteindelik op 4 April 1860 verenig het tot die Zuid-Afrikaansche Republiek.
aka fak

1890
Oopstelling van die spoorlyn tussen Kaapstad en Bloemfontein


In Mei 1884 het die Zuid-Afrikaansche Republiek met Portugal ‘n soort finale reëling oor ‘n spoorlyn van Delagoabaai af na Pretoria bereik. Die ontdekking van goud aan die Rand in 1886 het so ‘n spoorlyn gebiedend gemaak. Maar Natal wou ‘n spoorlyn van Durban na Johannesburg en Kaapland die spoorlyn verder van Kimberley af na Johannesburg verleng. Spoorverbindings het dus ‘n ekonomiese en politieke magsfaktor geword. Paul Kruger het verkies om met die Portugese saam te werk, omdat hulle los was van Brittanje en omdat so ‘n spoorlyn vir Transvaal groter voordele ingehou het. ‘n Roete oor die Vrystaatse gebied het natuurlik vir mede-Afrikaners voordeel ingehou, maar was nog altyd ‘n Britse-Kaapse spoorlyn. In 1887 het Kruger en pres. Brand tevergeefs gepoog om mekaar oor spoor roetes te vind. In 1888 het die Vrystaat toegestem dat die Kaapse spoorlyn tot by Bloemfontein verleng word; onder meer uit vrees dat die Vrystaat uiteindelik deur alle spoor roetes uitgeskakel sou word. In Maart 1889 het pres. Kruger en pres. Reitz egter saamgestem dat geen spoorlyn noord van Bloemfontein toegelaat sou word sonder Transvaal se toestemming nie, want Transvaal was begerig om eers sy Delagoabaai-spoor roete te voltooi voordat hy by ander spoorweg skemas betrokke raak. Transvaal sou egter nie spoor roetes na die weste en suide toelaat sonder die Vrystaat se goedkeuring nie. Die feestelikhede te Bloemfontein, toe die Kaapse spoorweg tot daar voltooi is, het dus met heelwat politiek-ekonomiese manipulasies vooraf en agter die skerms gepaard gegaan. Vir die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika was soveel staatshoofde en ander verteenwoordigers of hoogwaardigheidsbekleërs by ‘n enkele geleentheid saam. Van hulle het bome ter herdenking van die geleentheid geplant, en dat staan vandag nog in die tuin van die ou Goewermentsgebou, waar die tuiste van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum is. aka fak prof. dr. M.J. Swart

1898
Prof. C.G.W. Schumann gebore

Christian Gustav Waldemar Schumann, gebore, in Klein-Drakenstein, is ‘n ware baanbreker t.o.v. die opleiding van die Afrikaner in die ekonomie en die sakelewe. As dekaan van die eerste Afrikaanse Ekonomiese Fakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch, het hy diep spore getrap. Hy het leiding gegee op die Ekonomiese Volkskongresse en was lid van die Ekonomiese Instituut van die FAK en hoofbestuurslid van die Afrikaanse Handelsinstituut vanaf sy stigting in 1942. Hy was medestigter van Federale Volks beleggings in 1940 en het in verskeie direksies van die maatskappye van die Federale groep gedien. Heelwat publikasies het uit sy pen verskyn. Bekende ekonome soos dr. W.B. Coetzer en dr. Jan S. Marais was van sy studente wat hy by die Federale groep betrek het. ‘n Halfeeu lank was Christie Schumann die erkende outoriteit oor die rol en aandeel van die Afrikaner in die sakelewe – ‘n onderwerp waaroor hy talle referate by kongresse gehou het. aka fak F.F. de W. Stockenstrom

No comments: