2007/12/09

Desember 9

1838
Die Gelofte afgelê


Daar is al duisende woorde oor die vraag geskryf of die Gelofte in verband met die Bloedrivierslag op 7 of op 9 Desember die eerste keer afgelê is, en of dit by Danskraal of Blyrivier, dit is Wasbank, die eerste keer uitgespreek is. Dit wil voorkom of die gedagte van ‘n gelofte by Andries Pretorius as krygerleier op die trek na Dingaan se stat ontstaan het. Toe hy met Sarel Cilliers hieroor gepraat het, het Cilliers dadelik geantwoord dat hy ook al oor so iets gedink het, en vandaar sy preek op Sondag 2 Desember 1838 na aanleiding van Josua 10 vers 7 – 10. Die Sondag daarop het Cilliers na aanleiding van Rigters 6 vers 1 – 24 gepreek. Maar intussen is van die offisiere oor die gedagte van ‘n gelofte gepols en hulle het die idee gesteun. Daarna is die manskappe op 5 Desember geraadpleeg, wat eweneens ten gunste daarvan was. Vrydagaand, die sewende, of baie meer waarskynlik die Sondagoggend die negende na die erediens, is Die Gelofte toe afgelê. Cilliers het die manne in gebed en in die gemeenskaplike aflegging van die Gelofte voorgegaan. Bantjes as joernaalskrywer, Pretorius en ook Cilliers het in hulle herinneringe min of meer ‘n weergawe gegee van wat vandag as Die Gelofte aanvaar word. Dit is blykbaar nie destyds, woordeliks uitgeskryf toe dit aand vir aand na die eerste keer as deel van die laergodsdiens deur Cilliers gebid is en die burgers hardop AMEN geantwoord het nie. Niemand was verplig om Die Gelofte af te lê nie, maar elke burger teenwoordig het dit wel gedoen. Almal was baie bewus van die erns van die saak, en dat dit ‘n toekomsverpligting op hulle en hulle nageslag geplaas het. In die laer langs die sytak van die Buffelsrivier, wat later Bloedrivier sou word, het die burgers die aand voor die Sondagslag Die Gelofte ten aanhore van die omringende vyand herhaal. Volgens oorlewering, is Biggar, Parker en Joyce, die drie Engelse in die laer, en die nie-blanke handlangers as beleid nie tot die aflegging van die Gelofte toegelaat nie. aka fak prof. dr. M.J. Swart

No comments: