2007/12/08

Desember 8

1939
Die Reddingsdaadbond (RDB) gestig

Die ekonomiese terugslag wat die Afrikaner aan die begin van hierdie eeu getref het, hoofsaaklik as nadraai van die verwoestingsbeleid wat die Engelse militêre owerheid in die Engelse Oorlog toegepas het, het teen die jare 1930 skrikwekkende gevolge getoon. Die droogte en die groot depressie van die beginjare dertig het die toestand vererger, en ‘n armblanke vraagstuk van enorme omvang het ontstaan: 300 000 Afrikaners uit ‘n bietjie meer as ‘n miljoen was ekonomies verarm. Dr. J.D. (Vader) Kestell het gepleid om ‘n landwye reddingsdaad. Aanvanklik het dit op dowe ore geval, maar die Simboliese Ossewatrek van 1938 het die geesdrif gewek vir ‘n reddingsdaad wat ongekende afmetings sou bereik. Teen daardie tyd het die FAK reeds deur sy Afrikaanse Nasionale Kultuurraad besluit om ‘n volkskongres byeen te roep met die sentrale tema “Die Toekoms van die Afrikaner”, met die klem op die Afrikaner se ekonomiese toekoms. In ‘n persverklaring oor die beoogde volkskongres, wat op 24 Januarie 1939 uitgereik is, sê die sekretaris van die FAK onder meer “waar 1938 bekend sal staan as die jaar van geesdriftige en saambindende volksfeeste ter huldiging van die voorgeslag, moet 1939 staan as die jaar van ‘n selfreddende volksdaad wat sal getuig van die gesonde ondernemingskrag van ons volk in belang van sy ekonomiese elfstandigheid. Dit moet ‘n volksdaad word wat alle vorige pogings van selfredding sal oorskadu en die tydperk van die beëindiging van ons ekonomiese knegskap, soos dit in die steeds toenemende armblankedom geopenbaar word, sal insluit.” Op die Volkskongres wat op 3, 4 en 5 Oktober 1939 in Bloemfontein deur 757 afgevaardigdes uit alle dele van die land bygewoon is, is die ekonomiese selfreddingskema van die volkskongreskomitee geesdriftig aanvaar. As een van die onderdele van die geheelskema, is besluit dat “een groot volksorganisasie, Christelik-nasionaal in sy grondslag”, tot stand moet kom om die spaarkrag, koopkrag en die produktiewe vryetydsbesteding van die Afrikaner in eie belang te mobiliseer. Hierdie besluit was die regstreekse aanleiding tot die stigting van die Reddingsdaadbond (RDB) op 8 Desember 1939. Dr. N. Diederichs is as die eerste hoofleier van die RDB aangewys, en ds. Jac Conradie as voorsitter van die Uitvoerende Raad. ‘n pos wat hy dwarsdeur die bestaan van die RDB beklee het. aka fak dr. P.J. Meyer

No comments: