2007/12/09

Desember 10

1899
Slag by Stormberg


Hierdie slag was een van die belangrikstes in die verloop van die Engelse Oorlog, nie om wat werklik gebeur het nie, maar omdat dit deel was van wat die Britte hul Swart Week genoem het. Uit militêre oogpunt was dit ‘n skermutseling, amper ‘n geveg, maar ‘n volwaardige slag was dit nie. Wat wel van belang is, is dat ‘n handjievol Boere byna ‘n derde van ‘n Britse leër gevange geneem het, en dat hul aanvoerder, genl. Sir W.F. Gatacre, wat voor hierdie slag bestempel is as “one of the ablest of British officers” se reputasie so ‘n knou toegedien is dat hy met sy tweede flater uit die Britse leër ontslaan is. Stormberg het ‘n wêreldwye sensasie veroorsaak en was ‘n besondere besieling vir die Boerevolk. Dit is een van die hoogtepunte in die geskiedenis van Noordoos-Kaapland, veral ook omdat so baie Kaapse Kolonialers daarin betrokke was. Dit is een van die Stormberge se verhale wat die verbeelding steeds aangryp, veral baie menigte legendes wat mettertyd daarom geweef is. Dit het ook destyds die Boere se besetting van Stormberg-stasie, op die hoofspoorllyn van Oos-Londen na Bloemfontein, so versterk dat hulle dit slegs ontruim het om genl. Piet Cronje in sy penarie by Paardeberg te help. Aka fak J Meintjes

1924
Johannes Brill oorlede

Teen die begin van 1873 vertrek hierdie Hollander, na uitmuntende welslae as student aan die Universiteit van Utrecht, na Suid-Afrika om die rektorskap van die Grey-kollege in Bloemfontein te aanvaar. Sy akademiese agtergrond, beslistheid en pligsgetrouheid het hom in staat gestel om hierdie taak met soveel sukses deur te voer dat die kollege weldra ver buite die grense van die OVS bekendheid verwerf het. Dit was aan sy versiendheid te danke dat die Grey-kollege tot ‘n universiteitskollege ontwikkel het, om uiteindelik tot die Universiteit van die Oranje-Vrystaat uit te groei. In die breedste sin van die woord het hy ook kultuur in die OVS bevorder deur aktief mee te werk aan die stigting van ‘n biblioteek sowel as taal-en letterkundige verenigings, en deur die talle voorlesings wat hy gelewer het. Hy was die eerste taalgeleerde wat aangetoon het dat Afrikaans nie verbasterde Nederlands is nie, maar soos ander moderne tale ontsaan het en ‘n groot toekoms het. Hy was een van die stigterslede van die Afrikanerbond. As opvoedkundige en kultuurleier het hy ‘n diepgaande invloed op die geesteslewe en karakter van ‘n opgroeiende volk uitgeoefen. Hy is op 25 Desember 1842 in Zurtfen, Nederland, gebore. Aka fak prof. dr. J.C. Moll

No comments: