2007/12/07

Desember 7

1799
J.H. (Hans Dons) de Lange gebore


Johannes Henricus de Lange (sy bynaam Hans Dons was waarskynlik toe te skryf aan sy yl koperblonde kennebaard) is in Graaff-Reinet gebore. Hy het hom uit die distrik Albanie by die Groot Trek na Natal aangesluit. Natal, wat hy in 1832 op ‘n jagtog en in 1834 as lid van Piet Uys se verkenningstog besoek het, het hom bekoor. Hierdie skoonseun van Piet Retief was ‘n groot, ruwe, onverskrokke jagter, baasverkenner en krygsman, wat hom o.m. in die Slag by Bloedrivier onderskei het. Elf dae later het hy die Trekkers van uitwissing gered deur die Karel Landman-kommando, wat uit sowat 300 ruiters bestaan het, uit ‘n Zoeloe-hinderlaag in die Wit Umfolozi-vallei te red. In sy avontuurlike verblyf van 23 jaar in Natal het hy die wel en wee van die Trekkers meegemaak. Sy seun, Johannes Hendrik (gedoop op 10 Desember 1837, was die eerst Trekkerkind wat in Natal gebore is. Op 26 Maart 1861 is Hans Dons de Lange in Ladysmith tereggestel weens beweerde moord op ‘n Swartman, Ncatiya, Hy is begrawe op die plaas Driefontein, van sy skoonseun Izak (Leeuboud) van Niekerk, waar op 31 Mei 1955 ‘n gedenkteken onthul is. Aka fak A.J. van Wyk

1885
Stigting van die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk


Sedert die vyftigerjare van die vorige eeu het die kerklike toneel in Transvaal gestaan in die teken van kerklike diversiteit. As gevolg van baie faktore het drie Afrikaanse kerke naas mekaar te staan gekom, te wete die NG, die NH en die Gereformeerde Kerk. Hierdie toedrag van sake het baie min bevredig, en so was daar verskeie pogings van kerklike kant om die verdeeldheid te beëindig, maar sonder sukses. Teen 1880 sou ‘n motivering tot eenheid buite die kerklike erf ontstaan. Hier dink ons aan die Transvaalse Vryheidsoorlog (1880 – 1881). Die Afrikaner-nasionalisme is soos nog nooit vantevore gestimuleer nie, en in Transvaal was daar ‘n sterk politieke eenheid aanwesig. Politieke leiers, uit verskillende kerke, wat saam aan die stryd deelgeneem het, laat hulle nou ook uit ten gunste van eenheid op kerklike gebied. Op hulle aandrang begin die gesprek tussen die drie Afrikaanse kerke oor die moontlikheid van eenheid. Die Gereformeerde kerk het administratiewe probleme ervaar en die entoesiasme was nie baie groot nie, sodat slegs die ander twee kerke deur middel van kommissies die gesprek voortgesit het. Na baie beraadslaginge het die twee kerke amptelik besluit tot eenwording. Die naam van die nuwe verenigde kerk word voorlopig vasgestel as “Ned. Hervormde of Gereformeerde Kerk.” Op hierdie datum het die eerste Sinode van die verenigde kerk bymekaar gekom. Hierdie kerklike eenheidspoging was van korte duur, want in 1892 het baie paaie uitmekaar gegaan, en vandag is daar steeds die drie Afrikaanse Kerke op Suid-Afrikaanse bodem. Aka fak Prof. dr. P.B. Van der Watt

1912
Die De Wildt-toespraak van genl. J.B.M. Hertzog


Op hierdie dag het genl. J.B.M. Hertzog sy beroemde toespraak by die stasie
De Wildt in Transvaal gehou op ‘n politieke vergadering wat sowat 100 mense bygewoon het. Die toespraak het gedagterigtinge tussen Suid-Afrikaanse nasionalisme en Britse imperialisme, wat reeds in genl. Louis Botha se Suid-Afrikaanse Party en Kabinet sigbaar was, tot ‘n punt gebring. Genl. Hertzog het sy toespraak in Nederlands gelewer, en die hoofpunte daarvan was: Wanneer ‘n mens oor landsake praat, moet die vraag te alle tye gestel word of Suid-Afrika daarby baat vind. Suid-Afrika moet deur die Afrikaner geregeer word. Die tyd het aangebreek om Suid-Afrika nie langer deur nie-Afrikaners te laat regeer nie, mense wat geen ware liefde vir Suid-Afrika het nie. Die leier van die opposisie (sir Thomas Smartt, van die Unionisteparty) sê hy is eers imperialis en dan Afrikaner. “Imperialisme is voor mij net goed voor zover’t dienstig is voor Zuid-Afrika. Waar’t in botsing komt met de belangen van Z.A, ben ik er ‘n besliste tegenstander van. Ik ben bereid mij toekomstige loopbaan als politikus te laten afhangen van deze leer,” was genl. Hertzog se woorde. Hy sê voorts dat hy nie een van diegene is wat altyd oor konsiliasie en lojaliteit praat nie, want dit is ydele woorde wat niemand bedrieg nie. Ook het hy gesê dat hy nie weet wat konsiliasie beteken nie, en dat die vlag (Britse Union Jack) daar is en dat dit maar kan bly. “Ik heb mij onderworpen en wie mij niet loyaal noemt, voor hem heb ik geen tijd.” Genl. Hertzog het in dieselfde toespraak as Minister van Naturellesake ook oor naturellesake gepraat. Die uitlatinge van genl. Hertzog in hierdie toespraak, oor trou aan Suid-Afrika bokant trou aan die Ryksgedagte, het die wekroep laat ontstaan van “Suid-Afrika Eerste!” – ‘n slagspreuk wat eers na die sogenaamde “Mishoop”-vergadering vir die eerst keer deur genl. Hertzog uitgespreek is. Aka fak J.J. van Rooyen

No comments: