2007/12/05

Desember 6

1823
Pres. J.H. Brand gebore


Johannes Henricus Brand, in Kaapstad gebore, was advokaat, politikus en Staatspresident van die Oranje-Vrystaat, waartoe hy op 2 Februarie 1864 ingehuldig en vier keer herkies is. As diplomaat het hy volhardend die goeie saak van die Vrystaat probeer bevorder, die ekonomie probeer versterk, sy burgers te velde in die Basoeto-oorloë bygestaan en bemoedig, die diamant kwessie versigtig en korrek gehanteer, konsuls in Europa en die VSA aangestel en voordelige traktate van handel en vriendskap met verskeie Europese state gesluit. Op sy standbeeld in Bloemfontein staan die woorde “Vader des Volks”, wat die betekenis van sy lang presidentskap opsom. Hy was ‘n fynbeskaafde leier, bedeel met groot wysheid, ‘n geliefde gesinsman, gasvry en van Christelike wandel. Hy is in die amp van die Staatspresident op 14 Julie 1888 in Bloemfontein oorlede. Hy is die vader van die slagspreuk: Alles sal regkom as elkeen sy plig doen. J.H. Brand het ‘n geslag waardige Afrikaners verteenwoordig wat deur die jare heen die beste vir hulle eie mense vanuit ‘n eie sterk posisie gelewer het.
aka fak D Erasmus
1906
Transvaal-kolonie ontvang verantwoordelike bestuur


Die Engelse Oorlog het die Afrikaaners van die twee voormalige Boererepublieke polities oorweldig gelaat. Die aanvanklike politieke afsydigheid van die Transvaalse Afrikaners is na 1903 deur deur ‘n politieke herleweing vervang. Die regstreekse oorsaak was lord Alfred Milner se invoer van Chinese arbeiders na die Transvaal-kolonie. Genl. Louis Botha het ‘n groot protesvergadering in Julie 1903 op Heidelberg toegespreek. Daar is besluit dat die regering die verdere invoer van Chinese moet staak, dat die Hollandse taal gelyke reg met Engels moet kry, en dat selfbestuur aan die Transvaal-kolonie toegeken moet word. Milner en sy ondersteuners wou Transvaal tot elke prys Brits-georiëinteerd hou, maar het deur hulle maatreëls die Afrikaners eerder vervreem. In Maart 1904 is ‘n Volkskongres in Pretoria gehou waar ‘n nuwe politieke party, bekend as Het Volk met Botha as leier, tot stand gekom het. Die plegtige begrafnis van pres. Paul Kruger in Desember 1904 in Pretoria, het die Afrikanerdom tot groter teenstand van Milnerisme besiel en gelei tot die aandrang op verantwoordelike bestuur. Die druk op Milner het meegebring dat ‘n tussentydse vorm van verteenwoordigende bestuur, die sg. Lyttelton-grondwet, in Maart 1905 vir Transvaal aanvaar is. Dit is egter nooit in werking gestel nie, want die meerderheid Transvalers sou met niks minder nie as verantwoordelike bestuur tevrede wees. Nadat Milner in April 1905 Suid-Afrika verlaat het en die Campbell-Bannerman-regering in Brittanje ‘n meer versoenende houding teenoor die voormalige Boererepublieke aangeneem het, is verantwoordelike bestuur amptelik op
6 Desember 1906 aan Transvaal verleen. Daardeur het Transvaal gelyke status met die Kaapkolonie en Natal gekry. ‘n Wetgewende Raad van 15 lede is ingestel. In Februarie 1907 is ‘n algemene verkiesing in Transvaal gehou, waarin Het Volk ‘n besliste meerderheid teenoor die ander politieke partye behaal het. Genl. Louis Botha het Eerste Minister van Transvaal geword. In die Oranjerivierkolonie het ‘n soortgelyke politiek ontwikkeling onder leiding van die Orangia-Unie plaasgevind en is verantwoordelike bestuur amptelik op 5 Junie 1907 ingestel.
Aka fak J. de Villiers

No comments: