2007/12/05

Desember 5

1894
Oud-Pres. C.R. Swart gebore

Charles Robberts Swart is op Winburg gebore en hy deel reeds op vyfjarige ouderdom in die smart en ellende van die Afrikanervolk toe hy saam met sy moeder en ander huisgenote na die Winburg-konsentrasiekamp gestuur word. Dit sou dwarsdeur sy lewe een van sy grootste ideale bly om die republlikeinse erfenis waarbinne hy gebore is, weer volkome te laat herleef. Op dertienjarge ouderdom verwerf hy matriek en in 1918 die graad LL.B Van 1919 tot 1948 het hy as advokaat van die Hooggeregshof in Bloemfontein gepraktiseer. In 1923 het hy Volksraadlid geword en ‘n al duideliker rol in die politiek begin speel. Met die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 by die stembus word hy benoem as Minister van Justisie en as sodanig was hy verantwoordelik o.m. vir die herstel van die naam landdros, die vertaling van die Nederlandse Uniewette en die Romeins-Hollandse Regsbronne in Afrikaans en die afskaffing van appel na die Geheime Raad. Met die siekte en afsterwe van premier
J.G. Strijdom in 1958 is hy as waarnemende Eerste Minister benoem. Van Januarie 1960 tot April 1961 was hy Goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika en op 31 Mei 1961 is hy as eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika ingehuldig. Hierdie amp het hy ses jaar lank met groot onderskeiding en gewildheid beklee. Hy het ‘n lewenslange aktiewe deelname aan allerlei taal- en kultuurliggame: Lid van die stigtingskomitee en lewenslange lid van die FAK: een van die stigters van die Voortrekkerbeweging (1931) en vanaf die stigting daarvan tot 1948 lid van die Vrystaatse Provinsiebestuur; lid van die Nasionale Oorlogsmuseum, Bloemfontein, en erelid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy is in 1951 as eerste kanselier van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat verkies en het tot 1978 die pos beklee. Van hom het steeds besieling uitgegaan om jong mense te inspireer met ‘n Christelike lewensbeskouing en ‘n gesindheid van ordelikheid en ordentlikheid. “Oom Blackie”, soos hy gelief bekend staan, het ook joernalistieke baanbrekerswerk verrig as persverteenwoordiger in die Parlement vir Die Burger en Die Volksblad en gereelde rubrieke in talle ander nuusblaaie en tydskrifte. Sy twee gewilde en treffende Afrikaanse boeke vir kinders, Kinders van Suid-Afrika en Die Agterryer, het talle herdrukke beleef. Aka fak Prof. dr. J.C. Moll

1934
Stigting van die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party

Die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party is amptelik op hierdie dag gestig deur die samesmelting van genl. J.B.M. Hertzog se Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party van genl. J.C. Smuts. Samesmelting is deur ‘n periode van samewerking tussen die twee partye voorafgegaan ooreenkomstig die wil van ‘n groot meerderheid kiesers in ‘n algemene verkiesing op 17 Mei 1933. Die samesmelting het weer ‘n verdeling sowel onder Afrikaans- as onder Engelssprekende tot gevolg, nl. Die Malan-groep en die Stallard-groep. Die voortsetting van die Nasionale Party deur dr. D.F. Malan, dr. N.J. van der Merwe, adv. C.R. Swart en adv. J.G. Strijdom het met verloop van tyd die betekenisvolste gebeurtenis geblyk te wees. Die Malaniete of Gesuiwerdes het van die standpunt uitgegaan dat die Afrikaner nog slegs die eerste ronde in die stryd teen Engelse oorheersing gewen het. Daar was nog konstitusionele kwessies wat opgelos en imperialistiese simbole wat uit die weg geruim moes word. Die stryd sou eers beëindig wees met die verkryging van onverdeelde lojaliteit van Suid-Afrikaanse burgers en die totstandkoming van ‘n Republiek. Die Tweede Wêreldoorlog en die verwerping van Hertzog se neutraliteitsmosie in die Parlement het o.m. bewys dat hy die houding van die Engelssprekende in die Suid-Afrikaanse politiek verkeerd vertolk het, en dat nasionalisme teenoor imperialisme nog steeds ‘n verdelingsfaktor was. Dr. Malan het geblyk reg te hê, en die Nasionale Party slaag daarin om weer voldoende Afrikanersteun te verwerf en die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party in 1948 te verslaan. Die Verenigde Party het sedertdien al hoe meer steun verloor, ook van Engelssprekendes. Die party het in 1977 ontbind.

No comments: