2007/12/26

Desember 26

1760
Hendrik Swellengrebel oorlede


Hendrik Swellengrebel, op 20 September 1700 in Kaapstad gebore, het op hierdie dag in Utrecht, Nederland, gesterf. Hy het oor jare skitterende diens as amptenaar gelewer nadat hy op 13-jarige ouderdom vir die VOC begin werk het. Hy was die eerste en enigste gebore Kapenaar wat goewerneur ( in 1739) geword het. Sy swaers was onder andere Ryk Tulbagh en ds. Franciscus le Sueur. Swellendam is na hom en sy eerste eggenote, Helena Willemina ten Damme, ook ‘n gebore Kapenaar, genoem. Hy het in 1751 uit die diens getree en in Nederland gaan woon. Dorp- en gemeente stigting, ‘n nuwe ankerplek, die oprigting van staatsgeboue en bestendige binnelandse groei het sy bewind gekenmerk. In 1742 het hy die verbod van 1738 herhaal dat “ gestreepte esels” nie geskiet mag word nie, en dat 100 riksdaalders betaal sou word vir elk wat lewend na die Kasteel gebring word,. Hy het die bewaring gedagte dus vroeg beklemtoon. Aka fak prof. dr. M.J. Swart

1905
Geen kerkdienste op hierdie Tweede Kersdag


Dit was aan die begin van die eeu die gebruik om op Tweede Kersdag, tweede Paasdag en tweede Pinksterdag gereeld kerkdienste te hou. Op Tweede Kersdag in 1905 het dit egter dae lank op Stellenbosch en in die omgewing so hard en aanhoudend gereën dat haas geen kerkdiens gehou kon word. fak

No comments: