2007/12/25

Desember 25

25 Desember
Verskillende standpunte en menings oor die Christusfees word deur verskillende mense aangehang, en aldus op verskillende maniere gevier:

nog ‘n mening daaroor is as volg:

Die Christelike Kersfees


Deur die eeue is daar telkens berekenings gemaak om die datum van die geboorte van Christus vas te stel. Hoewel die plek van Christus se geboorte, In Betlehem, met redelike sekerheid aangewys kon word, kon die presiese datum van sy geboorte nog nooit vasgestel word nie. Een van die groot struikelblokke van navorsers was die feit dat die mense sterfdatums in die ou tyd baie belangriker geag is as sy geboortedatum. Ons lees ook nêrens in die Bybel van ‘n Kersviering nie. Vir die eerste Christene was Christus se opstanding baie belangriker as sy geboortedag. Eers in die vierde eeu, sedert die tyd van keiser Konstantyn, het die kerk daartoe oorgegaan om ‘n Kersdag af te sonder as feesdag. Die Christene in die weste het tot 25 Desember besluit, terwyl die Oosterse Christene 6 Januarie as Epifanie – die verskyning van die Here – geneem het. Oor die spesifieke jaar van Christus se geboorte is nog nooit finale uitsluitsel gegee nie, hoewel vroeëre geskiedskrywers onder meer 3 v.C. en 4 v.C. as die geboortedatum bepleit het. Daar kan nie ontken word dat die Christelike feesviering tog verband hou met die ou heidense winterfees ter ere van die Persiese godheid Mithras nie – die sogenaamde onoorwonne songod. Die ou Germane het verder ook die draai van die son, die sonnewending, as ‘n belangrike verskynsel beskou, omdat teen die 25ste Desember die dae in die noordelike halfrond weer langer word. Dit het vir hulle beteken dat die son weer oorwin het! Die Westerse kerk het in hierdie ou beskouing ‘n aanknopingspunt gevind en dit toegepas op Jesus se koms na ‘n donker wêreld. Hy is die Seun van geregtigheid wat die duisternis oorwin het (Mal.4:2) Maar wat beteken Kersfees vir die Christen-Afrikaner? Vir hom is Kersfees eerstens ‘n Christusfees, waar Christus voortdured in die middelpunt moet bly. Kersfees sê dat Christus gebore is as Verlosser en Saligmaker van die wêreld. Daarom is dit ‘n vreugdefees, omdat ons die goeie tyding van groot blydskap ontvang het. (Luk.2:10) Hoe moet dit gevier word? Kersfees het gelukkig vir baie ook ‘n familiefees geword. Soos Josef en Maria by hulle kind Jesus, so moet ons as gesinne saam feesvier, op Kersaand tuis, Kersoggend saam in die kerk en Kersdag gelukkig saam as intieme familiekring. Dan is daar nie ruimte vir uitspattighede wat die aandag weg trek van die Goeie Boodskap van Kersfees nie. En as gesinslede aan mekaar geskenkies wil gee as blyke van liefde en waardering, sal ook die geskenke ‘n heenwysing wees na die groot Geskenk wat ons uit die hemel ontvang het, en sal ons ook terugdink aan die wyse manne wat goud, wierook en mirre aan die Christuskind gebring het. Laat ons ook onthou dat aan die kind op hierdie dag ‘n belangrike plek gegee moet word – sonder om die fees te verbind aan ‘n Kersvader wat in Europese lande as Sinterklaas of Santa Claus bekend staan. ‘n Krismisvader (Kersvader) moet ontmoedig word, omdat dit geen verband hou met die Bybelse geboorte van Christus nie. Ofskoon die Kersboom ook verband hou met ou nie-Christelike gebruike, voel baie Christene dat ‘n Kersboom met liggies en versierings tog ‘n bydrae kan lewer tot die fees atmosfeer van Kersfees.


(Daar is mense wat hul siening oor die kersboom as volg weergee ter verduideliking van die aanwesigheid van die kersboom in hul huise:

“Ons saak kan gestel word vir die heenwysing na Christus as die Boom van die Lewe. Maar miskien moet ons gelowiges wat wel ‘n Kersboom tuis wil oprig, dit liewer bloot as ‘n dekorasie sien wat veral aan die kinders vreugde verskaf. Maar dan moet ons by die Kersboom die Kersverhaal eers vertel en Kersliedere word, voordat geskenke oorhandig word en die familie alles saam geniet. Dan sal Kersfees, ten spyte van ‘n Kersboom, nog steeds ‘n Christusfees bly”).
1885
Dr P.S.Z. (Oom Pietie) Coetzee gebore


As kerkman en volksman het Petrus Stephanus Zacharias Coetzee, die Vrystaatse seun wat op Kersdag 1885 gebore is, diep spore in die kerklike lewe in Transvaal en die Vrystaat getrap. As 14-jarige penkop het hy aan die Engelse Oorlog deelgeneem. As predikant het hy die NG gemeente Johannesburg (Braamfontein) en verskeie Vrystaatse gemeentes bedien. Hy was Moderator van die Vrystaatse Sinode en die eerste Assessor van die Algemene Sinode. Twee universiteite het hom met ere-doktorsgrade vereer. Hy het hom vir die opheffing van sy minderbevoorregte volksgenote beywer. As vurige vaderlander was dit vir hom ‘n groot voorreg om by die inhuldiging van twee van ons Staatspresidente op te tree Hy het nog voltyds as hospitaal leraar gewerk toe hy in sy 90ste jaar op 3 September 1975 oorlede is.
aka fak ds. H. Cronje

No comments: