2007/12/24

Desember 24

1651
Jan van Riebeeck vertrek na die Kaap


Op hierdie dag het Jan van Riebeeck en sy geselskap met drie skepe, die Drommedaris, die Reijger en die Goede Hoop ‘n uur na sononder van Texel, Nederland, na die Kaap vertrek om ‘n halfwegstasie vir die VOC aan die Kaap te stig, wat later tot die geboorte van die Afrikaanse volk sou lei. Aka vak Prof. dr. P.G. Nel

1900
Dr. Anna de Villiers gebore


Anna Johanna Dorothea de Villiers is op die bekende wynplaas, Saxenburg, naby Kuilsrivier, gebore. In 1934 behaal sy die D Litt-graad op die proefskrif: Die Hollandse Taalbeweging in Suid-Afrika aan die Universiteit van Stellenbosch. Hierna is sy onder meer as dosent werksaam, en in 1940 word sy aangestel as prinsipale van die Hugenote-Universiteitskollege. In die jare veertig is die graad LL D (honoris causa) deur die universiteit van Londen aan haar toegeken. Sy dien in talle liggame, bv. jare lank as hoofbestuurslid van die Suid-Afrikaanse Taalbond. Na die sluiting van bg. Kollege word sy mede-redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Wat). Sy het ‘n groot en belangrike bydrae tot die uitbouing van die Afrikaanse kultuur gelewer, soos haar talle publikasies getuig. Die wit kraai (1938), ‘n Voortrekker roman het vier drukke beleef, en Hercules des Pres (1974) ‘n Hugenote roman, het twee drukke beleef. Vir albei haar historiese romans Purper daeraad (1952) en Die storm trek verby (1958) het sy pryse verower. Aka fak Prof. dr. D.J. Van Zyl

1906
Anna Neethling-Pohl gebore


Die voorste dame van die Afrikaanse toneel, die groot eksponent van die Afrikaanse poësie, ‘n radiopersoonlikheid sonder weerga, Anna Servasina Neethling-Pohl is op Graaf-Reinet gebore, die oudste dogter van P.H.C. Pohl, die toneelmens van die Kaapse Middelland. Na voltooiing van haar hoërskoolopleiding op Graaf-Reinet verwerf sy in 1927 die BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1929 studeer sy vir die Hoër Onderwysdiploma aan die destydse Transvaalse Universiteitskollege (die Universiteit van Pretoria). Van vroeg af speel sy toneel, is sy opgelei in die Pohl-tradisie dat die teater ‘n magtige middel is om die volkskern te bereik en dat talent in diens van die volk gestel moet word. Met hierdie rigsnoer tesame met haar leiers gawe het Anna Neethling-Pohl ontwikkel as die belangrikste toneel figuur in Afrikaans tot 1950. Dit was in Pretoria by die Volks teater waar haar talente tot volle ontplooiing gekom het. In 1947, met die totstandkoming van die Nasionale toneelorganisasie is sy as lid van die Beheerraad deur die destydse Minister van Onderwys aangestel. Ook op die gebied van die radiowese het sy in die jare 1950 tot 1965, soos met haar werk by die NTO, ‘n grootse bydrae op kultuurgebied gelewer. Haar aanbiedings tydens volksfeeste spreek van haar verbondenheid met haar volk. Op een-en-sewentigjarige leeftyd het sy ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria ontvang vir haar bydrae op kulturele gebied. In 1948 het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns haar bekroon met sy Erepenning vir Toneel. By hierdie eerbewys saam met die Kaapse Drieblare Toekenning vir die beste aktrise in Transvaal kon sy ook die Adelaide Ristori-kultuurstigting in Rome se toekenning voeg, wat vroue van die wêreld voeg, wat vroue van die wêreld vereer vir hul kulturele prestasies. Vir hierdie besondere verering is sy deur die RSA se Departement van Nasionale Opvoeding genomineer – aktrise en regisseuse by uitnemendheid van die Afrikaanse Toneel, rolprentaktrise, TV-aktrise, voordrag kunstenares, skryfster en vertaalster van ses Shakespeare-dramas in Afrikaans. Aka fak M.J. Grobbelaar

No comments: