2007/12/23

Desember 23

1838
Die inname van Mgungundlovu

In De Zuid-Afrikaan van 16 Februarie 1839 verskyn ‘n brief wat Andries Pretorius op 23 Desember 1838 aan Jacobus Boshof van Graaff-Reinet geskryf het om hom in te lig oor die oorwinning by Bloedrivier en die inname van Mgungundlovu (Volgens die Graham’s Town Journal waarin die brief op 14 Februarie 1839 verskyn het, het Pretorius dit op 22 Desember 1838 geskryf). Die dae tussen 20 en 24 Desember was vir die kommando van Andries Pretorius ‘n emosie belaaide tydperk. Op 20 Desember 1838 het Pretorius en ‘n geselskap die hoofstad van die eens magtige Zoeloe volk, Mgungundlovu, heeltemal verlate gevind. Die stat was boonop deels deur brand in puin gelê. Omdat die inname van Mgungundlovu deur die Voortrekkers ‘n gedenkwaardige gebeurtenis was, het Pretorius ‘n gedenksteen met sy naam en die datum van inname (21 Desember 1838) daarop uitgekap in die stat opgerig – of begrawe. ‘n Entjie daarvandaan lê Hlom’ama Butho, ook genoem Kwa Maliwane of Aasvoëlkop. Daar is die beendere van Piet Retief en sy sewentig makkers gevind. Familielede het oorblyfsels van geliefdes aan persoonlike besittings herken. Die volop klippe en stokke het op hulle grusame dood gedui. By Retief is sy bladsak met dokumente gevind. Op Kersdag is al die beendere in een graf op die koppie weggelê. In 1920 is ‘n monument hier opgerig en die massagraf van 1838 herstel. Andries Pretorius sê hieroor in sy verslag aan die Volksraad: “Hier het ons die gebeente aangetref van ons ongelukkige landgenote…nog die merke draende van ‘n wrede dood. Die aanblik was bereken om die mees ongevoelige hart tot trane te beweeg; en volgens die meedelinge van die Zoeloe gevangenes, moet hulle wanhopig geveg het, ofskoon sonder ander wapens as hul knipmesse en ‘n paar stokke wat hulle aan die Zoeloes ontwring het, sodat daar, volgens die Zoeloe, twintig van hulle gedood word voordat hulle die mense oorweldig het.” In die dae wat op die inname van Mgungundlovu gevolg het, het Pretorius ook alle goedere wat daar in en om Dingaan se stat gevind is, laat byeenbring. Daar was onder meer kanonne, gewere, olifanttande, plaasgereedskap, breekware, eetgerei, koper en nog ander voorwerpe. Goedere wat aan lede van die kommando behoort het, moes aan hulle terugbesorg word. Die res is op 26 Desember 1838 op ‘n opbenbare veiling verkoop. Die veiling, wat die inname van die stat finaal bevestig en hierdie episode uit die Trekker geskiedenis afgesluit het, het meer as R900 opgelewer. Hierdie bedrag is toe gelykop tussen Pretorius se kommandolede verdeel. Aka fak Prof. dr. M.J. Swart H.O. Terblanche

1891
Dr. P.C. Schoonees gebore

Pieter Cornelis Schoonees is op Uniondale gebore. Hy studeer aan Victoria-kollege, Stellenbosch, die Natalse Universiteitskollege en aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam. Hy gee op verskillende plekke onderwys en aanvaar in 1946 die redakteurskap van Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). In die Saamwerk-Unie van Natalse Kultuurvereniginge het hy ‘n belangrike rol gespeel; van 1923 tot 1946 dien hy in die Hoofbestuur; hy was vyf jaar lank voorsitter van hierdie liggaam en het ook jare lank opgetree as redakteur van die orgaan van die Saamwerk-Unie. Hy was lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en het dikwels opgetree as beoordelaar vir die Hertzogprys. Dr. Schoonees het verskeie boeke geskryf en bloemlesings saamgestel. Sy bekendste werke is egter woordeboeke: saam met M.S.B. Kritzinger, H.A. Steyn en N.J. Cronje het hy uitgegee die Groot Woordeboek en HAT (verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal) saam met C.J. Swanepoel, S.J. du Toit en C.M. Booysen. Sy vernaamste werk staan egter in verband met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Onder sy leiding is daar vinnige vordering met die opstel van die WAT gemaak en het verskeie dele verskyn. Hy is op 31 Oktober 1970 in die Strand oorlede. Aka fak prof. dr. P.G. Nel

Wat kan jy byvoeg?

No comments: