2007/12/18

Desember 22

1838
Aanleg van Potchefstroom


Potchefstroom (in die aanvangsjare bekend as Mooirivier, Mooirivierdorp of Vryburg) is deur A.H. Potgieter en sy mede-Trekkers aan die standhoudende Mooirivier aangelê ongeveer tien kilometer stroom op vanaf die huidige ligging van die dorp. Geen definitiewe dokumentêre getuienis dui daarop dat dit in Desember 1838 moet gewees het nie. Een getuie noem egter pertinent 22 Desember. Die aanleg het geskied toe Potgieter en sy volgelinge van die Sand-Vet rivier-gebied af noordwaarts oor die Vaalrivier verhuis het. In Desember 1841 is die aanleg na sy huidige ligging verskuif vanweë die moeras, veroorsaak deur oorvloedige reën en die ou klipformasie van die oorspronklike aanleg gebied. P.F. Strydom en landdros J.H. Grobler, die eerste landdros van Potchefstroom, het oor die verskuiwing toesig gehou en laasgenoemde het die nodige uit meetwerk van erwe vir die dorp gedoen. Dit was die eerste permanente blanke nedersetting noord van die Vaalrivier en tot in 1860 die hoofstad van die Boererepubliek in Transvaal. Hier is ook die eerste gemeente, die van die Nederduitsch Hervormde Kerk, in 1841 gestig.
Aka fak prof. dr. J.S. Du Plessis

1880
Beleg van Pretoria


In die Transvaalse Vryheidsoorlog het die Britse beleg van Pretoria op die dag begin, maar dit was van korte duur – net sowat drie maande. In hierdie tyd het die vasgekeerdes in Pretoria heelwat lief en leed verduur, hoewel die leed blykbaar nooit eintlik van die ernstigste was nie. In die Britse kamp in Schoeman straat het ‘n vlooi plaag uitgebreek tot groot ontsteltenis en ongerief van die vroue en kinders. FAK

1908
M.M. (Thys) van Lille gebore

Mathys Michiel van Lille, gebore op Riebeeck-Kasteel het in 1935 as deeltydse omroeper by die Afrikaanse Radiodiens begin werk. In 1939 het hy voltyds tot die personeel van die Afrikaanse Radiodiens toegetree as omroeper-regisseur. Daarna was hy agtereenvolgens program organiseerder, ateljee bestuurder en hoof van die Afrikaanse Radiodiens. Hy was ‘n bekwame regisseur en toneelspeler. Hy het verskeie reekse oor die Afrikaanse liriese en epiese digkuns saamgestel en uitgesaai. Sy naam sal onafskeidelik verbonde bly aan sy vis rubrieke Vir die hengelaar en Stywe lyne, wat hy meer as ‘n dekade aangebied het. aka fak D. Erasmus

1 comment:

Gelofteboer said...

Dankie - lyk baie mooi en is bly daar is 'n plek wat die geskiedenis kort en bondig saamgevat word met so verfrissende afleiding tussenin.