2007/12/14

Desember 14

1906
Ds. G.J.J. Boshoff gebore


Gideon Johannes Jacobus Boshoff is in die distrik Middelburg (Tvl.) gebore. Hierdie latere NG predikant was bestem om diep spore in die Afrikaanse kultuurlewe te trap. Hy is in 1935 gelegitimeer en het in 1936 vas in die gemeente Boksburg-Noorde begin arbei. Hier het hy in die Eeu feesjaar die “Voortrekkerkerk op die pad van Suid-Afrika” help oprig. In die jare van die Tweede Wêreldoorlog het hy intens met die vervolgde Afrikaners meegeleef. Tussen 1958 en 1966 was hy lid van die FAK se Hoofbestuur. In 1960 het hy die dank rede uitgespreek by die Republikeinse dankfees op Monumentkoppie. Sy bediening is afgesluit as kapelaan op Voortrekkerhoogte na elf jaar as leraar in Linden en vroeër ook Port Elizabeth. Ds. Boshoff was ‘n skitterende geleentheidsredenaar en van hom het onder meer die bundel spreke en geleentheidstukke U volk is my volk verskyn. Afrikaanse toneel sake, opvoedkundige aangeleenthede, materiële behoeftes en taalkwessies het enduit die volle steun van hierdie besielende Afrikaner gelowige, bekwame voorsitter en vars denker ontvang. aka fak prof. dr. M.J. Swart

1912
Genl. Louis Botha bedank


Genl. Hertzog se De Wildt-toespraak het heftige reaksie van Unioniste en ander Brits-gesindes tot gevolg gehad. In die Kabinet het die ergste reaksie gekom van kol. George Leuchars, Minister van Openbare Werke, ‘n Nataller wat homself ‘n imperialis genoem het. Hy was so kwaad oor genl.. Hertzog se woorde oor die belange van die Ryk teenoor die van die Unie dat hy gedreig het om uit die Kabinet te bedank. Dit lei tot ‘n Kabinetskrisis. Die Premier, genl.. Louis Botha, en sy regterhand, genl.. J.C. Smuts, vra Hertzog om in die openbaar sy spyt oor sekere van sy uitlatings uit te spreek. Hertzog weier, want hy het reeds die vorige middag in die teenwoordigheid van ‘n ander minister, Fischer, die aangeleentheid met kol. Leuchars bespreek en sy standpunt oor imperialisme verduidelik, wat Leuchars klaarblyklik aanvaar het. Leuchars het hom egter later gehou by sy voorneme om te bedank, waarop Botha Hertzog gevra he om te bedank. Hy weier ook, omdat hy die versekering van die Eerste Minister gehad het dat hy met sy (Hertzog se) standpunt saamstem. Die skaakmat het verdere samewerking tussen hierdie leiers onmoontlik gemaak. Genl. Botha bedank toe as Eerste Minister, wat beteken het dat die Kabinet outomaties ontbind is. Die Goewerneur-generaal vra hom om weer ‘n kabinet saam te stel, wat hy toe doen, maar met die weglating van genl. Hertzog sowel as kol. Leuchars. Hierdie krisis het die stigting van die Nasionale Party ingelui. Aka fak J.J. van Rooyen

No comments: