2007/12/13

Desember 13

1880
Zuid-Afrikaansche Republiek op Paardekraal herstel


Daar was meer as 5 000 burgers met sterk perde, blink geweerlope, bandeliere vol patrone en bladsakke gepak met beskuit en biltong op hierdie dag o[ ‘n randjie bymekaar op die plaas waar genl.. Andries Pretorius 30 jaar vroeër met perde begin boer het. Ernstige beraadslagings het ‘n paar dae geduur. Die burgers was gereed en bereid om vir die onafhanklikheid en vryheid van hulle vaderland te veg, nadat sir Theophilus Shepstone die Zuid-Afrikaansche Republiek op 12 April 1877 onverwags geannekseer het. Die eise op verskeie groot protesvergaderings en die werk van twee deputasies na Engeland was tevergeefs. Spontaan het die burgers ingewillig om van honderde plase en talle dorpe af vir die laaste keer bymekaar te kom, want daar sou nou daadwerklik opgetree moet word. Dit was by hulle ‘n saak van diepe erns wat uit ‘n groeiende nasionalisme voortgespruit het. Daar is o.m. besluit dat vise-president Paul Kruger die Volksraad byeen moet roep. ‘n Driemanskap is aangewys om die landsbestuur te behartig met Heidelberg as die voorlopige setel; ‘n proklamasie vir die herstel van die regering is uitgevaardig, en dit moes op Potchefstroom gedruk word; kommando’s moes na die grens en ander strategiese plekke gaan. Al die burgers het hulle instemming met die besluite betuig deur elkeen ‘n klip op ‘n hoop te pak. Elf jaar later is die Paardekraal monument op daardie plek by Krugersdorp onthul.
Aka fak dr. J.J. van Tonder

1882
Dr E.C. Pienaar gebore


Eduard Christiaan Pienaar is op die plaas Hoëkraal, in die Potchefstroomse distrik, gebore. Tydens die Engelse Oorlog het hy hom by die kommando van genl.. P.A. Cronje aangesluit, maar by die oorgawe by Paardeberg word hy gevange geneem en na St. Helena gestuur. Danksy die bemoeienis van ds. A.F. Louw gaan hy na sy terugkoms in SA na die Paarlse Gimnasium, waar hy sy studie voortsit en op Stellenbosch en Utrecht, Nederland, voltooi. Hy word na sy terugkeer na SA in 1920 hoogleraar aan die Universiteit van Stellenbosch – die eerste professor wie se doseer opdrag uitsluitlik die Afrikaanse taal gegeld het. Bevordering van Afrikaans en die belange van die Afrikaner het sy hele lewe en optrede oorheers, ook sy werk as akademikus. Sy proefskrif (Taal en poësie van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, 1919) was die eerste omvattende behandeling van die Afrikaanse poësie tot op daardie tydstip. Hy het veral ‘n ope oog gehad vir die getroue beelding van die Afrikaner lewe in die literatuur. Digters wat hulle hieraan gewy het, het sy hoogste waardering gehad, soos bv. Jan Celliers. Hy het getrouheid aan die werklikheid verhef tot norm in die Afrikaanse kritiek. Prof. Pienaar het hom sterk beywer vir die uitbouing van die Afrikaanse kultuurorganisasies. Hy was o.m. stigterslid van die FAK en ook in die eerste Hoofbestuur van die FAK gedien. Daarbenewens het hy aktief gedien in verskeie ander organisasies, soos die Voortrekkermonument komitee, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ens. Die ringmuur van Voortrekker waens om die Voortrekkermonument het gevolg op ‘n voorstel van hom. Hy was ‘n gevierde spreker, wat oor die hele SA bekend geword het vir sy skitterende redenaarstalent. Op sy studente het hy ‘n geslag geleerde Afrikaners die land ingestuur wat volks getrou was. Hy is op 11 Junie 1949 op Stellenbosch oorlede.
Aka fak Prof. dr. F.I.J. van Rensburg Prof. dr. J.H. Senekal

1905
Prof. H.B. Thom gebore


Hendrik Bernardus Thom, gewes Rektor van die Universiteit van Stellenbosch, het ‘n onuitwisbare stempel afgedruk op die universiteitswese, die opvoedkunde en die kultuurlewe in Suid-Afrika. Hy is ‘n volksleier wat hom onderskei het as dosent en Rektor van die Universiteit van Stellenbosch, as skrywer op vakgebied, as feesredenaar, as lid van verskeie geleerde verenigings, kultuurliggame, rade en komitees, en as direkteur van verskeie trusts, fondse en ander instansies. Onder sy talle lidmaatskappe tel die van die Wetenskaplike Adviesraad van die Eerste Minister en die Nasionale Kultuurraad, en hy is ook voorsitter van die Konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch. Prof. Thom was voorsitter van die FAK van 1952 tot 1970. Hy is reeds deur verskeie hoë liggame vereer, waaronder die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (4 keer), die Ryks-universiteit van Gent, die Universiteit van Stellenbosch met ‘n eredoktorsgraad in die opvoedkunde, die FAK met sy eksklusiewe Erepenning vir Volksdiens, die Voortrekkers, die Saamwerk-Unie van Natal, die Kaaplandse Nasionale Party en die Universiteitskollege, Wes-Kaapland. In 1979 is die Ruiterbeeld vir Afrikaner diens deur die Federasie van Rapportryerskorpse aan hom oorhandig. Hy het ook ere toekennings ontvang vir sy aandeel aan die Voortrekker eeufees (1938), die inwyding van die Voortrekkermonument (1949) en die Uniefees (1960) en was erevoorsitter van verskeie akademiese en kulturele verenigings.
Aka fak prof. dr. B. Booyens

1 comment:

RoosMaryn said...

Paardekraal Verbond (1880)
TWEELEDIGE VERBOND: PAARDEKRAAL (1880)
In teenwoordigheid van die Almagtige Drie-enige God, onder biddende opsien om Sy genade, hulp en ontferming en bewus van ons verantwoordelikheid voor God en teenoor ons volk rig ons 'n tweeledige verbond op:

Eerstens met God

In nederige erkentlikheid teenoor U, Drie-enige God, beskikker oor die lotgevalle en toekoms van volke en deur wie se beskikking ook die Boerevolk tot stand gekom en tot volwaardige volk uitgegroei het, is ons hier byeen om gehoor te gee aan U Woord in Psalm 50: 5 waarin U ons oproep om die offer by die GELOFTE te bring en volgens vers 14 ons beloftes aan God die Allerhoogste te betaal:
Vers 5: "Versamel my gunsgenote vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit!"
Vers 14: "Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste;"
Voor U buig ons ootmoedig in berou en skuldbelydenis.
Ons vra om Christus wil vergifnis van ons volk se sondes.
Ons bid om krag vir die offer van terugkering en diens.
Ons onderneem as volk en as individuele volksgenote:
1.Om ons volksroeping te vervul, naamlik om heilig te lewe, U dankbaar te dien en te eer en U Koninkryk te laat kom.
2.Om ons voortdurend tot U te bekeer.
3.Om getrou te wees in die omgang met U Woord en die beoefening van die gebed.
4.Om elk 'n lewende en getroue lidmaat van die gemeente van U Seun, Jesus Christus, te wees.
5.Om die Dag van die Here heilig te hou.
6.Om die Gelofte van Bloedrivier te handhaaf en na te kom wat soos volg lui: "My broeders en mede-landsgenote, hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring, en dat ons 'n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.
Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee."

Tweedens rig ons met mekaar 'n verbond op.

Steeds gedagtig aan die offer van die verbond, wil ons in teenwoordigheid van die Kenner van die harte aan mekaar sê: Kom lê jou hand in myne volksgenoot, sodat ons voor die Heilige God met mekaar 'n verbond kan sluit:
1.Om tot die dood toe aan mekaar getrou te bly in die stryd om die herstel van ons vryheid in 'n Christelike Republikeinse Boerevolkstaat.
2.Om die offers te bring wat ter bereiking van diè ideaal geverg en gevra sal word.
3.Om ons kinders Christelik-Nasionaal op te voed.
4.Om elke onderneming waartoe ons ingestem het, nougeset na te kom. So waarlik help ons God Almagtig.



GELOFTE: PAARDEKRAAL (1880)

In de tegenwoordigheid van den Almachtigen God, de kenner aller harten onder bidden opzien om Zijn genadige hulp en ontferming, zijn wij Burgers van de Zuid-Afrikaansche Republiek, plegtig overeenkomen, om voor ons en onze kinderen een heilige verbond op te rigten, het welk wij met plegtigen eed bezzweren.

Ruim veertig jaren is het geleden, dat onze vadere de Kaapkolonie ontvlugt zijn, om een vrij en onafhanklik volk te worden. Deze veertig jaren waren veertig jaren van smart en lijden.

Wij hebben Natal. Den Oranje-Vrijstaat en de Zuid-Afrikaansche Republiek gesticht, en driemaal heeft de Engelsche Regering onze vrijheid vertrapt .... En onze vlag, die onze vaderen met hum bloed en tranen gedoopt hebben van den grond neergehaal.

Als door een dief in de nacht in onze vrije Republiek weggestolen. Wij kunnen en wij mogen dat nie dragen.

God wil, dat de eerbied onze vaderen en de liefde jegen onze kinderen ons voorscrijft, het erfpand der vaderen geschonden aan onze kinderen over te leven.

Daarom is het dat wij hier bijeentreden en dat wij elkander de hand geven als mannen, broeders, plegtig beloven, trouw te houden aan ons land en volk en met het oog "Zoo waarlijk helpe ons God Almachtig".

(Die oorspronklike stapel klippe is in 1880 deur ongeveer 6 000 burger op Paardekraal opmekaar gepak as 'n bewys van hulle voorneme om tot die bitter einde vir hulle vryheid en die herstel van die republikeinse staatvorm te veg. gedurende die Driejarige oorlog is hierdie hoop klippe deur die vyand per spoor na Vereeniging vervoer en daar in die Vaalrivier onder die treinbrug gegooi. Dit lê nou nog daar in die water onder 'n dik laag modder.)

http://www.kappiekommando.co.za/article_view.php?articleid=42

Met dank aan KiwiBoer