2007/12/12

Desember 12

1877
N.C. Rautenbach gebore


Nicolaas Claasen Rautenbach was een van elf kinders van pionierouers wat hulle in die Vryburgse distrik gevestig het. As 22-jarige Kapenaar het hy hom in 1899 by die Boeremagte aangesluit. Op 3 September 1901 is hy gevang. Hy is verder daarvan beskuldig dat hy Britse eiendom sou gesteel het – veertien donkies en ‘n aantal dum-dum-koëls. Hieroor is hy later die doodstraf opgelê en is hy sommer die volgende oggend reeds opgehang. Sy moeder en ‘n ouderling kon die vorige aand ‘n rukkie met hom gesels. Hy het berus en sy lewe blymoedig vir sy volk afgelê. Met vaste tred en ‘n glimlag het hy op die valdeur gaan staan. Op bevel van die Britse leër, was talle inwoners van die dorp verplig om die openbare teregstelling by te woon. Aka fak prof. dr. M.J. Swart

1890
Dr. S.H. Skaife (skuilnaam Hendrik Brand) gebore


Sydney Harold Skaife, natuurkundige en skrywer, is in Londen gebore, waar hy ook skoolgaan. Nadat hy sy studie voltooi het, kom hy in 1913 na Suid-Afrika en begin sy loopbaan as onderwyser aan die Hoër Jongenskool Rondebosch, waarna hy in diens tree van die Departement van Landbou as insektekundige. Later word hy organiserende inspekteur van Landbou en Wetenskap in die Kaaplandse Onderwysdepartement en gee hy in hierdie hoedanigheid die vak Natuurstudie ‘n onberekenbare groot stoot vorentoe. Hoewel nie Afrikaner van geboorte nie, het hy hom besonder aangetrokke gevoel tot die Afrikaners, onder wie hy baie vriende gehad het. Hy het bekendheid verwerf veral om sy reeks speurverhale onder die skuilnaam Hendrik Brand. Hy skryf ook boeiende natuurstories vir kinders soos Vreemde ondervindinge van Jan Harmse, Vreemde ondervindinge onder die insekte en Vreemde ondervindinge onder die see. Suiwer wetenskaplik van aard is sy werk The study of ants. In November 1976 is hy in Houtbaai oorlede. Aka fak prof. dr. S. Strydom

1909
Rosa Nepgen gebore

Rosa Sophia Cornelia Nepgen (eggenote van prof. W.E.G. Louw) is op Barkly-Oos gebore. Sy is ‘n bekende komponiste hoofsaaklik van Afrikaanse liedere en kerkmusiek. Haar publikasie sluit in 46 kunsliedere (woorde deur W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw, Boerneef en ander) en verskeie koorwerke (prosatekste uit die Bybel). Aka fak C. Lamprhect

No comments: