2007/12/11

Desember 11

1899
Slag by Magersfontein


Die oorlogse rumoer naby Stormberg-stasie, net ten noorde van Molteno, het skaars bedaar toe een van die grootste veldslae in ons geskiedenis by Magersfontein plaasgevind het. Deur sommige historici word dit as een van die merkwaardigste slae in die wêreldgeskiedenis beskou. Die knou wat die Boere die Britte, hoofsaaklik Skotte, hier toegedien het, het die Britse Ryk en die hele Skotland in rou gedompel. Die eienaardigste aspek van die slag is dat die opperbrein agter die hele operasie, genl. Koos de la Rey, nie teenwoordig was nie. Hy was op Jacobsdal by sy seun wat dodelik gewond was. Die bevelvoerder was dus genl. Piet Cronje. Hy het hom goed van sy taak gekwyt, omdat hy aan De la Rey gehoor gegee het. Die strategie wat gevolg is, was iets heel nuuts, revolusionêr eintlik, want plaas van op die koppies te wees soos die gewoonte was, is die Boere onder voor die koppies verskans, en het die Britte na ‘n hewige bombardering van die koppies reg in die bekke van die Boere se Mausers gemarsjeer en is by honderde afgemaak voordat hulle besef het wat aan die gang is. Die Boere se loopgrawe is nog daar te sien. Magersfontein het die Boerevolk se harte laat swel van trots; indien die Britte oorlog gesoek het, het hulle dit gekry, en baie meer as wat hulle ooit kon verwag het. Magersfontein as simbool van die uitoorlê van ‘n vyand op die vernuftigste wyse, is een van die grootste glanspunte in ons geskiedenis. Aka fak J Meintjes

1900
Orde van St. Karel aan pres. Kruger toegeken


Op hierdie dag is die Orde van St. Karel deur Albert I, toenmalige Prins van Monaco, aan pres. S.J.P. Kruger op sy besoek aan Europa toegeken. Die Ster en Ridderkruis van St. Karel van Monaco is op 15 Maart 1858 deur prins Karel III ingestel. Dit kan aan eie burgers en aan buitelanders toegeken word vir dienste aan die prins en die staat Monaco gelewer. Die leuse daarvan is: Met die hulp van God.
Aka fak Prof. dr. M.J. Swart

1953
Afrikaanse Taal- en Kultuurbond (Pos- en Telekommunikasiewese) gestig


‘n Groepie Afrikaanssprekende posamptenare het op hierdie dag in Pretoria byeengekom om ‘n organisasie te stig wat hom sou beywer vir die uitbouing van die Afrikanerkultuur onder posamptenare. Weldra is die gedagte verder uitgedra en is die een na die ander tak gestig, sodat feitlik alle poskantore mettertyd by ‘n plaaslike tak betrek was. Die bond berus op ‘n Afrikaans-Christelike grondslag en beywer hom veral vir die gebruik van suiwer Afrikaans binne sowel as buite die poswese. Die bevordering van die Afrikaanse kuns en kultuur en om ‘n goeie gees van saamhorigheid onder sy lede aan te wakker. Die ATKB het nie alleen getrou aan sy doelstellings gebly nie, maar ook deur sy wye verskeidenheid van aktwiwteite diep spore op die Afrikaanse kultuurterrein getrap. ‘n Besondere hoogtepunt was ongetwyfeld sy noue verbintenis met die oprigting van die Afrikaanse Taalmonument, waarvan die ATKB die geldinsameling geadministreer, die sekretariaat van die Afrikaanse Taalmonumentkomitee behartig en op landwye basis plaaslike taalfeeste gereël lhet. Vanaf 1978 reël die ATKB ‘n koorkompetisie vir hoërskoolkore met ‘n eindkonsert genaamd APPLOUS. Aka FAK

No comments: