2007/12/04

Oktober 9

1847
Ds. S.J. du Toit Gebore
Stephanus Jacobus du Toit is op Dal Josafat by die Paarl gebore. Hy het sy skool-en teologiese opleiding respektiewelik aan die Paarlse Gimnasium en die Kweekskool op Stellenbosch ontvang. S.J. du Toit was onder die invloed van Arnoldus Pannevis ‘n vurige voorvegter vir Afrikaans as selfstandige taal. Sy politiek-nasionale doelstelling- “om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land” - het hy deur die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875, met as spreekbuis Die Afrikaanse Patriot, die Afrikanerbond in 1879 en sy aandeel in die opstel van die Afrikaanse Volkslied, bevorder. Hy kan daarom as die eerste Afrikaanse Nasionalis beskou word. In 1882 het hy Superintendent van Onderwys in Transvaal geword. Sy onderwyswet het die onderwys in die Republiek bevorder. Sy eersug en betrokkenheid by Transvaalse politieke aangeleenthede, soos die Wesgrens-kwessie, die Pretoria-Konvensie, aandelespekulasies in die Goudstad, leerstellige aangeleenthede en sy teenkanting teen die regering se konsessiebeleid, het hom in regeringskringe ongewild gemaak. In 1888 het hy as Superintendent van Onderwys bedank en hom weer in die Paarl gaan vestig, waar hy hom met die vertaling van die Bybel in Afrikaans, ‘n taak deur die GRA in 1885 aan hom oorgedra, besig gehou het. Hy was dus ook ‘n baanbreker op die gebied van die Afrikaanse Bybelvertaling. Na sy terugkeer in die Paarl het hy die beleidsrigting van Die Patriot gewysig. Sy kritiek op die Krugerbewind en pleidooie vir konsiliasie tussen Brits- en Afrikaanssprekendes het hom verder van sy mede-Afrikaners vervreem. Die gevolg was dat die Eerste Taalbeweging, waarvan hy die vader was, teen 1900 doodgeloop het. In sy tweede Paarlse tydperk het ds. S.J. du Toit egter verbasend veel ter bevordering van die Afrikaanse taal en letterkunde sowel as oor algemene en godsdienstige onderwerpe gepubliseer. Hy het verskeie Afrikaanse boeke geskryf, soos Die Koningin van Skeba (1898), die eerste Afrikaanse gepubliseerde drame. Hy het ook gedigte geskryf, maar hulle is nooit gebundel nie. Hy is algemeen beskou as die “Vader van die Afrikaanse taal; stigter van die Afrikanerbond en stryder van die Calvinisme”. (Die inskripsie op sy graf). In sy lewe was hy predikant van die NG Kerk, Calvinistiese teoloog, Bybelvertaler, leier van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, skrywer, Superintendent van Onderwys in Transvaal, en koerant- en tydskrifredakteur. Op ‘n besoek aan Calvinia in Augustus 1910 het sy perdekar omgeval. Die ernstige beserings wat hy in die ongeluk opgedoen het, het uiteindelik gelei tot sy sterwe op 28 Mei 1911 op Kleinbosch, Dal Josafat.
1914
Genl. Manie Maritz rebelleer
Salomon Gerhardus (Manie) Maritz, ‘n afstammeling van die Voortrekkerleier Gerrit Maritz, het die republikeinse ideaal dermate aangehang dat hy reeds in 1912 sy posisie as offisier van die Unieverdedigingsmag wou gebruik om die republikeinse vryheid te herstel. Toe genl J.C. Smuts vir Maritz opdrag gee om deel te neem aan die inval van Suidwes-Afrika, rebelleer hy en die meeste van sy manskappe. Sy opregte volksgevoel word mooi weergegee deur sy grafskrif. Op die granietblok op sy graf kom die volgende inskripsie voor: “Vat my hand dat ek kan opstaan vir my volk.”Salomon (Manie) Gerhardus Maritz is op Kimberley gebore, Hy was ‘n polisieman in Johannesburg toe hy in Oktober 1899 saam met die Boksburgkommando na die oorlogsfront in Natal gegaan het. Hy het lid van Danie Theron se dapper Verkennerskorps geword. In Februarie 1901 gaan veg hy in die Kaapkolonie en word tot veggeneraal bevorder. Hy weier om die wapen met die vredesluiting op 31 Mei 1902 neer te lê en gaan deur Duits-Suidwes-Afrika na Europa. Later besoek hy Madagaskar en keer na Suid-Afrika terug. In 1914 moet hy as Rebelleleier noodgedwonge deur Angola na Portugal vlug. Uit Duitsland het hy na sy vaderland gekom, en in 1923 word hy tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis, maar is in 1924 vrygelaat. Hy sterf in ‘n motorongeluk op 19 Desember 1940. Sy outobiografie My lewe en strewe het in 1938 verskyn. Hy is in die Nuwe Kerkhof in Pretoria-Wes begrawe.
1951
Die Suid-Afrikaanse Raad vir die Bevordering van Musiek gestig
Die Raad het twaalf jaar lank ‘n leidende rol in die bevordering van die Suid-Afrikaanse musiek gespeel. In November 1953 is ‘n Nuusbrief en vanaf September 1956 is die tydskrif Res Musicae uitgegee. Die Raad se groot bydrae was die organisasie van musiekverenigings dwarsdeur Suid-Afrika en terselfdlertyd, die reëling en subsidiëring van konserte deur binnelandse en buitelandse kunstenaars. Die voorsitter was prof. F.C.L. Bosman. Teen die einde van 1962, met die stigting van die Rade vir Uitvoerende Kunste, is die Raad onbind.

No comments: