2007/12/04

Oktober 11

1899
Uitbreek van die Engelse Oorlog

Dit bou op oor die volgende paar daeTwee politieke strewes, Britse Imperialisme en Afrikaner-nasionalisme, het teen die einde van die 19de eeu in Suid-Afrika gebots. Die Britse Imperialsme het die vereniging van die hele Suid-Afrika onder Britse gesag nagestreef. Die Afrikaner-nasionalisme het na die uitbouing van hul Republieke gestreef en wou nie deel van ‘n verenigde Suid-Afrika onder Britse gesag wees nie. ‘n Nuwe fase in die stryd breek in 1886 aan as duisende Britse onderdane na die goudvelde aan die Rand stroom. Die Transvalers ag hulle bedreig en vereis ‘n verblyf van 14 jaar om burgerskap te verkry. Die Britse onderdane, nooit van plan om van hulle burgerskap afstand te doen nie, eis seggenskap in die Republiek op grond daarvan dat hulle die meeste tot sy inkomste bygedra het. In 1892 stig hulle die Transvaal National Union. Die stryd loop uit op die sensasiewekkende Jameson-inval, wat in die laaste dae van 1895 paasvind en misluk. Die ontevredenheid van die Uitlanders het in Brittanje weerklank gevind, en Chamberlain, Britse Minister van Kolonies, meen dat die Britse wêreldposisie alleen gehandhaaf kan word deur die kolonies nouer aan die moederland te bind. Alleen wanneer die hele Suid-Afrika onder Britse gesag staan, sal die posisie daar volkom veilig wees. Sir Alfred Milner, wat net soos Chamberlain oor die toestand gedink het, word goewerneur van die Kaap en Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika. Milner, in Mei 1897 gestuur, beskuldig in Maart 1898 die ZAR daarvan dat dit geen politieke regte wil verleen aan Britse onderdane nie. Die toestand raak gespanne. In Desember 1898 is ‘n Britse onderdaan, Edgar, deur ‘n konstabel in Johannesburg uit noodweer doodgeskiet. Die South African Leage, ‘n politieke organisasie van die Britse Uitlanders, lê ‘n versoekskrif aan koningin Victoria voor. Milner reageer deur daarop aan te dring dat die Britse regering hom moet inmeng, omdat Transvaal die Britse posisie in Suid-Afrika ondermyn. Pres M.T. Steyn, wat oorlog gevrees het, nooi pres S.J.P Kruger en Milner om die geskil in Bloemfontein te kom bespreek. Dit gebeur. Op 31 Mei 1899 verklaar pres. Kruger hom bereid om stemreg na ‘n verblyf van sewe jaar aan Uitlanders te verleen. Milner dring aan op ‘n tydperk van vyf jaar, en die onderhandelings word beëindig. Milner versoek die onmiddellike versterking van die Britse garnisoen in Suid-Afrika. Enige duisende soldate is hierop na Suid-Afrika gestuur. Hulle is vlak by die grense van die twee Republieke saamgetrek, nl. By Mafeking en Kimberley, in die Kaapkolonie, en by Ladysmith en Dundee, in Natal. Verdere onderhandelings oor die stemregkwessie is gevoer, en Chamberlain se eise het die ZAR se onafhanklikheid duidelik in gevaar gestel, sodat Burgerkommando’s teen die einde van September 1899 na die grense gestuur is. Op 9 Oktober 1899 is ‘n ultimatum aan die Britse regering gerig om hulle troepe binne 48 uur van die grense terug te trek. Die eis is van die hand gewys, en op 11 Oktober het die oorlog in Suid-Afrika begin.
1962
Die Organisatoriese kerkvereniging van die NG Kerk
Tot 1862 het afgevaardigdes van gemeentes buite die Kaapkolonie gereeld sitting geneem in die Kaapse Sinode. In daardie jaar het die Hooggeregshof in die bekende Loedolff-saak beslis dat die kerkverband van die Kaapse Kerk nie verder strek as die koloniale grense nie. Die gevolg was dat die een sinodale verband daarmee verbreek is. In die noordelike state het die NG Kerk spoedig drie ander sinodes georganiseer: Vrystaat (1864), Natal (1865) en Transvaal (1866). Die NG Kerk sou nie in hierdie gedwonge kerkregtelike skeiding berus nie. ‘n Liggaam soos die Federale Raad van NG Kerke gestig (1905) sou veel doen om die begeerte na ‘n herstelde kerkverband lewend te hou en het ook daadwerklik in die rigting gewerk. Met behulp van ‘n private wetsontwerp (Wet nr. 22 van 1961), is die gronde waarop die hofbeslissing berus deur die toenmalige Unie-Parlement ongedaan gemaak. In Oktober 1962 konstitueer die eerste Algemene Sinode van die Ng Kerk en vind ons die herstel van die algemene sinodale kerk verband. Vir die Afrikaner was hierdie groter kerkike eenheid ‘n dag van vreugde en dankbaarheid.

No comments: