2007/12/04

Oktober 7

1854
Vandag word Generaal C.R. de Wet gebore
Generaal de Wet is gebore in dieselfde jaar as die totstandkoming van die Vrystaatse Republiek op die plaas Leewkop in die distrik Smithfield. Christiaan Rudolf het as die sesde van veertien kinders weinig skoolonderrig ontvang. Sy moeder het hom ontval tydens sy veertiende jaar, en toe moes hy sy vader op die plaas Nieuwjaarsfontein, naby Dewetsdorp, gaan help boer. Op 19 is hy met Cornelia Kruger, ‘n baie karaktervaste dogter getroud en uit hulle huwelik is sestien kinders gebore. Kotie, Izak, Piet en Danie was die bekendstes van die sestien kinders.‘n Tyd lank het Christiaan hom op transportry in Griekwaland-Wes toeglê, maar hom uiteindelik in die Transvaalse distrik Heidelberg gaan vestig. Hy het aan die Transvaalse Vryheidsoorlog deelgeneem as waaremende kommandant by Laingsnek, maar het hom onderskei as veral ‘n dapper vegter met die die bestorming van Amajuba. Na die oorlog word hy tot veldkornet verkies, en in 1885 tot lid van die Transvaalse Volksraad. Hy het egter net een sitting bygewoon voordat hy hom weer op sy vader se ou plaas Nieuwjaarsfontein vestig. Hoewel hy geen besondere trek vir die openbare lewe gehad het nie, het die Vrystaters sy beginselvasste optrede en sterk persoonlikheid gou raakgesien en hom in 1889 vir die wyk Bo-Modderrivier verkies, wat hy tot in 1897 verteenwoordig het. Hoewel hy ‘n effense spraakprobleem gehad het, (hy het effens met sy tong gestoot) het sy kernagtige uitdrukkinge en bondige toesprake hom ‘n besonderse redenaar gemaak en was hy in die Volksraad ‘n onverbete vegter vir die handhawing van die Hollandse taal en behoud van die Vrystaatse onafhanklikheid. Met die besef dat die oorlog onafwendbaar is, skaf Christiaan vir hom sy beroemde ryperd Fleur aan.Christiaan was ook een van die eerstes wat hom op 12 Oktober by die Heilbronse kommande aangemeld het, die distrik waarheen hy intussen weer verhuis het. Christiaan was ‘n baie rustelose boer gewees. Weens die ongesteldheid van die kommandant, is hy tot waarnemende kommandant verkies. Aan die Natalse front by Nicholsonsnek sou hy toon wat in hom steek toe hy met 300 burgers 800 Britse troepe oorweldig en gevange neem. Hy trek die aandag van pres. Steyn, wat hom as veggeneraal aan die Wesfront aanstel. Daar vind hy ‘n geesgenoot in genl. Koos de la Rey, wat hom vereenselwig met die gedagte om die Britse verbindingslinies in Kaapland te gaan aanval, maar hy word derur genl. Piet Cronje teengestaan. Christiaan het tevergeefs probeer om Cronje by Paardeberg te ontset, maar na Cronje se oorgawe is De Wet se poging om Roberts se opmars na Bloemfontein te keer, tevergeefs. Na die val van die hoofstad, stuur hy sy burgers huis toe om daarna weer net die troues te versamel en by Sannaspos,
Mostertshoek
Rooiwal
met guerrilla-taktiek een klinkende oorwinning na die ander oor die Britse magte te behaal. Dit bring nie net sy naam op die lippe van die ganse beskaafde wêreld nie, maar gee aan die hele oorlog ‘n nuwe dimensie, nl. Om dit so lank as moontlik uit te rek en op die wyse die vyand tot ‘n wapenstilstand te probeer dwing. In die Vrystaat word die stryd uiteindelik ‘n stryd om die persoon van De Wet, wat so te se deurgaans van president Steyn en later ook ds. Kesstell vergesel is. Een aanval na die ander is teen hom uitgevoer, maar telkens het hy dit meesterlik ontglip. Hy sou ook ‘n epiese tog na Kaapland lei in ‘n poging om die druk op die Vrystaat te verlig en steun onder die Kapenaars te werf. Met ‘n grenslose Godsvertroue, onwrikbare geloof in die regverdigheid van hulle saak, bomenslike inspanning en merkwaardige vindingrykheid het hy die Britse uitsoekgeneraals telkens op die neus laat kyk. Met die begrip trou tot die dood as wagwoord van sy lewe, sou hy die grootste veragting vir alle hensoppers en verraaiers he. Toe selfs sy broer, Piet, na die vyand oorstap, het De Wet nooit weer in sy lewe sy hand na hom uitgereik nie.Die oormag was egter te groot en die lyding van die vroue en kinders te veel om te verduur. Op 31 Mei 1902 moes hy as Waarnemende Staatspresident van die Oranje-Vrystaat teen wil en dank en met ‘n innerlike verset die vredestraktaat onderteken, omdat pres. Steyn ernstig siek was. Hierna vergesel hy genls, Botha en De la Rey na Europa om fondse vir die weduwees en wese in te samel. Op die skip sluit hy hom af en skryf sy beroemde werk, De Strijd tusschen Boer en Brit, http://samilitaryhistory.org/diaries/oumaab3.html wat talle herdrukke beleef en in minstens sewe tale vertaal is. By sy terugkoms lê hy hom toe op die boerdery op sy verwoeste plaas Rooipoort. Hy lewer ‘n belangrike bydrae tot die stigting van die Orangia-unie, wat Milnerisme teenstaan, en met selfregering in 1907 word hy as lid vir Vredefort as Minister van landbou aangestel. Hy is ook lid van die Nasionae Konvensie wat in 1910 die Unie tot stand bring. Daarna tree hy uit die politiek maar met die Botha-Hertzog-krisis van 1912 skaar hy hom by Hertzog, lewer sy beroemde Mishooptoespraak in Pretoria en is uiteindelik een van die stigters van die Naionale Party in 1914. In dieselfde jaar neem hy as leier deel aan die Gewapende Protes teen die Botha-regering se besluit om Duits-Suidwes-Afrika aan te val, en word na etlike skermutselinge by Waterbury gevange geneem, nadat hy na Suidwes probeer vlug het. Hy word verhoor; aan hoogverraad skuldig bevind; ‘n boete van £2 000 opgelê (wat Afrikaners in ‘n ommesientjie ingesamel het) en vir ses jaar tronk toe gestuur. ‘n Massaoptog van vroue by die Unie-gebou dra egter daartoe by dat hy en ander na elf maande op parool vrygelaat is. Hy vestig hom uiteindelik op die plaas Klipfontein, digby Dewetsdorp, waar hy op 3 Februarie 1922 oorlede is. Hy, die Afrikaner se grootste krygsman, rus vandag aan die voet van die Nasionale Vrouemonument by die staatsman Steyn en die godsman Kestell.

No comments: