2007/12/04

Desember 4

1826:
Ds. J.H. Neethling gebore

Johannes Henoch Neethling was lid van ‘n driemanskap, bestaande uit homself en proff. N.J. Hofmeyr en J. Murray, wat hulle in die besonder beywer het vir die stigting van opvoedkundige inrigtings. So is in 1866 die Stellenbosch-Gimnasium (Later Paul Roos-Gimnasium) gestig, waarvan ‘n gedeelte later ontwikkel het in die Victoria-kollege, en dit het in 1918 die Universiteit van Stellenbosch geword. Die Meisieskool Bloemhof, is in 1875 gestig. Ds. Neethling het in 1863 met die stryd teen die liberalisme in die kerk ‘n kragtige bydrae vir die ortodokse standpunt gelewer. Hy is op
26 Februarie 1904 in die bediening op Stellenbosch oorlede.Aka fak Prof. dr. F.C. Fensham
1917:
Dr. H.J. Terblanche gebore
n Baanbreker van die Afrikaanse vaktaal, skrywer van agt woordeboeke, drie taalboeke en duisende artikels, kultuurleier, maar bowenal onverskrokke, omstrede vegter vir die gelykberegtiging van Afrikaans, die taal waarvoor hy gelewe het. Hendrik Josephus Terblanche, wat as boerseun in Aberdeen se wêreld grootgeword en aan die universiteite van Rhodes en Pretoria gestudeer het, se lewe en werk hang ten nouste saam met die geskiedenis van Afrikaans deur drie dekades. As dosent aan die Universiteit van Natal begin sy roemryke eenmanstryd om die regte van Afrikaans in 1949. Onderwyl hy direkteur van die SA Akademie se Vaktaalburo was, lewer hy ongeëwenaarde baanbrekerswerk vir die Afrikaanse vaktaal. Tog loop sy kommer oor die verwaarlosing van sy taal op 26 November 1965 uit op die stigting van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA). Die laaste jare van sy lewe wy dr. Terblanche feitlik heeltyds aan die omvangryke taak van die GHA – sonder enige vergoeding. Op 23 Maart 1977 sterf hy na twee onsuksesvolle breinoperasies. Sy boeiende outobiagrafie, Jare van Storm en Drang, het ‘n paar maande na sy dood verskyn.
aka fak H.J. Engelbrecht

1949:
Sarah Raal oorlede

Susarah Frederika Johanna Magdalena Snyman (Sarah Raal) is op die plaas Olijvenfontein in die suidelike Vrystaat gebore. In die Engelse Oorlog het hierdie onverskrokke vrou die Britte hoofbrekens besorg en daarin geslaag om £500 dwarsdeur die oorlog saam met haar te dra. Sy was in verskillende Konsentrasiekampe en ook met die Boerekommando’s te velde. Haar herinneringe aan die Engelse Oorlog het sy op onderhoudende wyse opgeteken in haar boek Met die boere in die veld, gepubliseer onder haar nooiensvan, Raal. Sy is ‘n tipiese voorbeeld van die moed, durf en vindingrykheid wat die Boervrou aan die dag gelê het tydens die Engelse Oorlog, om die mans te velde te inspireer eerder as te ontmoedig en het die wêreld vir die Engelse op alle terreine so moeilik moontlik probeer maak.
aka fak Prof. dr. P.G. Nel

No comments: