2007/12/04

Desember 3

1804
Ds. J.S.S. Ballot gebore

Johan Stephen Simeon Ballot is op Tulbagh gebore, waar sy vader die leraar was. In 1820 het hy hom by Leiden ingeskryf as student in die regte en teologie, en hy word dus die eerste seun van ‘n Afrikaanse pastorie wat dieselfde beroep as sy vader gevolg het. Na sy terugkoms in 1827 het hy predikant geword op George, waar hy tot met sy aftrede in 1862 sou arbei. Daar ontwerp hy en hou hy ook toesig oor die bou van die moederkerk. Daarbenewens het hy ook skole, ‘n sendinggemeente en ‘n openbare biblioteek op George gestig. Na hy oorlede is op 5 November 1868 is hy in die kerkhof agter die kerk begrawe. Soos sy vader was hy ook besonder lief vir boeke en het hy sy vader se versaeling sowel as die van sy skoonvader, ds. J.J. Kicherer, aansienlik uitgebrei. aka fak G.J. Jooste1837Die eerste kerkraad in die OVS bevestigDie Voortrekkers was pioniers in die sin dat hulle die beskawingspad na die binneland van Suid-Afrika te midde van groot gevare en ontberings met heldemoed, dapperheid en durf oopgebreek het. Ook ‘n ander karaktertrek van die pionier is by hulle te bespeur, naamlik ‘n sterk neiging tot selfstandigheid en individualisme, wat dikwels tot koppigheid en partyvorming gelei het en taamlik probleme in die Voortrekkerlewe veroorsaak het, veral ten opsigte van effektiewe organisasie en administrasie. Maar die ander minder goeie karaktertrekke van pioniers, naamlik wetteloosheid en losbandigheid wat gewoonlik gepaard gaan met (en voortspruit uit) veragting van God en sy gebod, soek ‘n mens tevergeefs by ons Voortrekkermense. Hoewel die Kaapse Kerk die Groot Trek nie erken het nie, bly die Voortrekkers gelowige mense met die vaste oortuiging dat “de openbare godsdienst de eerste grondslag moet zijn waarop een Christelijke maatschappij moet gegrondvest worden”. Elke trekkerleier was nie alleen in burgerlike sin “hoof” van sy groep nie, maar was ook verantwoordelike hoofman wat godsdienstige sake betref. Hy het self nie die eredienste gelei, die sakramente bedien en huwelike bevestig nie, maar hy het wel verantwoordelikheid daarvoor aanvaar en gebruik gemaak van manne soos Lindley, Sarel Cilliers en Erasmus Smit. Laasgenoemde was nie so gelief nie, veral by leiers soos Potgieter en Uys, ondermeer omdat hy nie ‘n ten volle geordende predikant was nie, omdat hy aan die Londense Sendinggenootskap verbonde was en vanweë sekere persoonlikheidsgebreke. Hoewel die Voortrekkers deur die binding van die kerk aan die owerheid in die Kaap min ondervinding van kerklike organisasie gehad het, het hulle reeds op 16 November 1836 besluit tot die daarstelling van “eene goede Godsdienstige en burgerlijke maatschappelikjke inrichting”. Op 8 Februarie 1837 is ‘n kerkraad, bestaande uit ouderling J.S. Maritz (wat veral siekebesoek en huisbesoek moes doen) en diakens Sarel Cilliers en C. Viljoen gekies en bevestig. Omdat daar geen predikant was nie, het hierdie kerkraad nooit byeengekom nie. Nadat Retief se trek by die van Maritz in Thaba Nchu aangekom het, is daar op 17 April 1837 ‘n algemene vergadering gehou om die sake op kerklike en politieke terrein te orden. Na veel teenstand, is Erasmus Smit wel op 21 Mei 1837 as predikant georden, en ses maande later, op 3 Desember 1837, is die eerste kerkraad wat werklik gefunksioneer het en ‘n heilsame invloede gehad en orde geskep het, bevestig, nl. Francois Retief en Carel v.d. Merwe as ouderlinge en C. Liebenberg en R. Dreyer as diakens. Aka fak Prof. dr. B.J. Engelbrecht

No comments: