2007/12/04

Oktober 31

1517
Hervormingsdag
Hierdie dag word in die Protestantse Kerke as die begin van die Kerkhervorming beskou, en jaarliks word dit op die Sondag die naaste daaraan herdenk. Die datum is die waarop Martin Luther 95 stellinge aan die deur van die slotkerk in Wittenberg geplak het. Die inhoud van die stellinge het gehandel oor die verwerplikheid van die aflaathandel en die aard van die ware boetedoening. Hierdie daad het heelwat opsien verwek en uit verskeie oorde steun ontvang. Die Pous was verplig om te reageer, en toe Luther weier om sy stellinge terug te trek tensy met bewyse uit die Skrif aangetoon kan word dat hy verkeerd is, is hy die ban gedoen. In 1521 is hy voor die Ryksdag in Worms gedaag, waar sy saak ondersoek is. Toe hy weer weier om sy geskrifte terug te trek, is hy tot ketter verklaar en is die ryksban op hom toegepas. In die Wartburg by Eisenach het hy skuiling gevind en daar die Bybel in Hoogduits vertaal. Toe hy in 1546 sterf, was die Hervorming in Duitsland in volle gang. Ongeveer dieselfde tyd het kerkleiers in Switserland teen misbruike in die Kerk gereageer. Hier moet veral die naam van Johannes Calvyn genoem word. Daar het mettertyd verskille tussen Protestantse teoloë ontstaan, veral oor die Sakrament. Daardeur het verskillende Kerke ontstaan, veral die met die Lutherse en die met die Gereformeerde leertipes. Die Kerkhervorming het ook na lande soos Engeland, Skotland, Frankryk en Nederland uitgebrei. Die Gereformeerde leer het sy stempel op die Protestantse Kerke in Nederland afgedruk, omdat die geloofsbelydenis opgestel is deur persone wat keweklinge van Calvyn was. By die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618 tot 1619) is die belydenisskrifte aan die Skrif getoets en finaal goedgekeur. Ook in Frankryk het die Gereformeerde belydennis ingang gevind. Die Gereformeerde belydenis is saam met Van Riebeeck en die eerste nedersetters na die Kaap gebring en is in 1688 versterk met die aankoms van die eerste Hugenote, wat op verskeie gebiede ‘n groot invloed op die Afrikanergemeenskap uitgeoefen het. Hoewel daar godsdiensvryheid in ons land bestaan, het die Kerkhervorming, en by name die Gereformeerde leertipe, so ‘n groot rol in die godsdienstige lewe van die Afrikaner gespeel dat die belydenis van die oorgrote meerderheid daardeur gevorm en hul optrede in baie opsigte daardeur bepaal word.1890Eerste Taalkongres in Kaapstad gehouMet die opkoms van die Afrikaanse taal, het die voorstanders van Hollands hulle tot ‘n front saamgesnoer met die stigting van die Zuid-Afrikaanse Taalbond. In De Zuid-Afrikaan van 6 en 8 Mei 1890 verskyn ‘n oproep van dr. A. Moorrees aan belangstellendes tot die bywoning van taalkongres wat op 31 Oktober en 1 November 1890 in Kaapstad, veral op inisiatief van dr. N. Mansvelt, gehou sou word. Prof. De Vos was voorsitter van ‘n vergadering, waarop predikante, Parlementslede, onderwysers en persmanne teenwoordig was. Op hierdie kongres, wat bygewoon is sowel deur voorstanders van Afrikaans as deur die van Nederlands, is besluit om die Zuid-Afrikaanse Taalbond te stig. Jaarlikse Taalbondeksamens is ingestel. Op die kongres is die doelstellinge van die Taalbond geformuleer, nl. Die bevordering van kennis van die volkstaat en die aankweking van ‘n nasionale gevoel. Geskikte literatuur sou versprei word, die taalkwessie sou onder die publiek se aandag gebring word, en die skryf van Hollands sou aangemoedig word. Hierdie kongres was die eerste taalkongres wat in Suid-Afrika gehou is en sou in 1896 opgevolg word deur die eerste Afrikaanse taalkongres in die Paarl.
1941
Inspan verskyn
Inspan het verskyn as amptelike spreekbuis van die FAK en die Reddingsdaadbond “op ‘n tydstip in die volkslewe wat uiters bewoë is en groot moontlikhede, maar ook gevare, in sy skoot hou”, volgense die hoofartikel in die eerste uitgawe. Die redaksiekommissie het bestaan uit prof N. Diederichs as voorsitter, prof. G. Cronje, prof. J.C. Coetzee, dr. P.J. Meyer en dr. Albert Coetzee as sekretaris-redakteur. Die kommissie het hom ten doel gestel dat Inspan die “wekroep moet wees in die geestelike volkstrek. Hy wil oproep tot doelbewuste kraginspanning om die stoflike en geestelike eiegoed van die Boeredom te bewaar en te bestendig: hy wil oproep om in te span om verder te trek: nie elkeen in sy eie rigting, elkeen op sy eie tyd, elkeen volgens eie besinning nie, maar tot gesamentlike, eendragtelike eenheidsoptrede op die weg van die Christelik-nasionale koers van ons volk.” Sewe jaar lank het die redaksie hom getrou by sy stigtingsvoorneme gehou, en toe die blad in 1948, vermoedelik om geldelike redes, gestaak is, het hy steeds die Afrikanervolk oor aktuele sake ingelig en hulle op ‘n onverskrokke wyse gewaarsku teen die gevare wat sy toekoms bedreig.

No comments: