2007/12/04

Oktober 30

1880
Paul Roos gebore
Min mense was beter bekend as hy, en min mense het op soveel tereine van die lewe hulle bekendheid en roem verwerf. As sportman, onderwysman, kerkman en volksman het Paulus Johannes (Paul) Roos die agting en liefde van die hele nasie gewen. Hy is op die plaas Rus en Vrede, In Heilderberg, distrik Stellenbosch, as oudste seun en een van die agt kinders van mnr. Tielman Roos gebore. Hy is op 22 September 1948 oorlede, net vier maande nadat hy as lid van die Volksraad vir die kiesafdeling Stellenbosch verkies is. As sportman het hy deur sy Christelike inbors ‘n kragtige invloed op sy spanmaats en op die lede van die skoolspanne uitgeoefen, en sy teenwoordigheid op die voetbalveld het steeds ‘n heilsame atmosfeer daar geskep. Hy was een van die grotes wat ons land opgelewer het. Hy was verantwoordelik vir die naam
“Springbokke”vir die uitblinkers op sportgebied. Byna ‘n halwe eeu lank was sy naam op ‘n heel besondere wyse verbonde aan ons nasionale spel. Paul Roos het kaptein geword van die 1906-Springbokspan en het meegehelp om Suid-Afrika in die rugbywêreld ‘n krag te maak waarmee rekening gehou moet word. Paul Roos het hom vir die onderwysprofessie bekwaam; hy het hom met onverdeelde liefde bykans 40 jaar daaraan gewy. Hy het op 27-jarige ouderdom hoof van die Jongenskool op Worcester geword, en op 29-jarige leeftyd, in 1910 hoof van die Paul Roos-Gimnasium op Stellenbosch. Hy was een van die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie. Hy was die Kaapse Onderwysdepartement se verteenwoordiger in die Matrikulasieraad, van welke raad hy ook voorsitter was, en toe hy uit die diens van die Onderwysdepartement moes tree, omdat hy die ouderdomsgrens bereik het, is hy as aflosinspekteur aangestel. Hy het, ondanks die hoogtes wat hy bereik het en die hoë louere wat hy ingeoes het, dwarsdeur sy lewe ‘n nederige verhouding tot sy Opperwese gehad. Hy het sy kerk liefgehad en gedien as kerkraadslid waar sy innige godsvrug en kinderlike geloof opgeval het. Sy loopbaan in diens van sy volk het gekulmineer in sy verkiesing tot lid van die Volksraad vir Stellenbosch in Mei 1948. Hierdie verkiesing is voorafgegaan deur ‘n ampstermyn van vyf jaar as stadsraadslid van Stellenbosch. Hoewel hy net vier maande lank lid van die Volksraad was, het hy in die kort rukkie die agting van almal in die Raad verwerf.1899Slag by NicholsonsnekNa die neerlae wat die Boere in die Engelse Oorlog by Talana en Elandshoogte gely het, was hulle vasbeslote om die terugvallende Engelse by Ladysmith te verslaan. Die slag by Nicholsonsnek vind op hierdie dag plaas, toe die Britte ‘n aanval op die Boerelinie doen. Op pad na Nicholsonsnek bestyg lt. kol. Carleton se afdeling Cayingubokop, waar hy met die Boeremagte slaags raak. Ten spyte van die chaos wat dit veroorsaak, slaag Carleton daarin om sy soldate in ‘n boogverdediging op die kop ot te stel. Na die noorde waar die kop in Nicholsonsnek uitloop, plaas hy nieteenstaande waarskuwings, slegs ‘n klein wageenheid. Onder aanvoering van kommandante De Wet, Steenkamp en Van Cam bestyg die Boere die kop, met die spits van hul aanval uit die noorde. Teen half twee die middag gee Carleton die stryd gewonne, met die verlies van sowat 1 200 aan gesneuweldes, gewondes en krygsgevangenes.
1899
Slag by Modderspruit
In die Engelse Oorlog (1899 tot 1902) het die Boere geprobeer om die Engelse garnisoen by Ladysmith te isoleer. Die Engelse aanvoerder, genl. White, was bewus van die Boere wat rondom die dorp stelling ingeneem het, en in die nag van 29 Oktober het hy probeer om die Boere te omsingel ten einde ‘n verrassingsaanval die oggend uit te voer. Dit het uitgeloop op die Slag by Modderspruit, waarin die Boere onder genl. Joubert die Engelse ‘n nederlaag toegedien het, hoofsaaklik as gevolg van swak kommunikasie van die kant van die Engelse. Daarby was daar ‘n gaping in genl. White se aanval, wat die Boere uitgebuit het, terwyl die swaargeskut waarmee hulle bestook is, ook vir die Engelse ‘n verassing was.

No comments: