2007/12/04

Oktober 29

1914
Die protesskrif van genls. C.F. Beyers en C.R. de Wet,Opgestel by Steenbokfontein
Nadat genl. Christiaan Beyers op 10 Oktober 1914 Pretoria verlaat en na Damhoek verskuif het, is hy op 22 Oktober op ‘n volksvergadering as leier van die protesterende burgers in Transvaal aangewys. Op 27 Oktober het ‘n regeringsmag sy manne by Commissiedrift uiteengejaag, en ‘n dag later het hy genl. J.C.G. Kemp op Steenbokfontein ontmoet. Met die hulp van ds. H.D. van Broekhuizen, is ‘n “kennisgewing” opgestel waarin misnoeë uitgespreek word omdat die regering besluit het om Duits-Suidwes-Afrika te verower sonder raadpleging van die volk. Die regering het op grond van onjuiste berigte en bewerings van Parlementslede van die Suid-Afrikaanse Party, besluit om ‘n volk aan te val wat Suid-Afrika nog nooit leed aangedoen het nie, en het boonop die publiek deur middel van krygswet belet om te protesteer. Die protesskrif waarsku teen onnodige vergieting van broederbloed, maar versoek die burgers om alles in hul vermoë te doen om die veldtog teë te werk en ook te weier om vir die regering te gaan veg, aangesien, “ons enige doel is de eer van God en het heil van volk en vaderland”. Die kennisgewing is gedateer 20 Oktober 1914 en is geteken deur C.R. Swart en C.F. Beyers as generaals van die protesterende burgers, hoewel genl. De Wet waarskynlik nie ‘n aandeel in die opstel van die geskrif kon gehad het nie.
1944
Verskyning van die eerste Psalm- en Gesangeboek in Afrikaans
Reeds vanaf die middel van die 19de eeu het daar stemme in die Hollandse Kerk in Suid-Afrika begin opgaan om vernuwing van die kerklied. Die Psalms was die Nederlandse beryming van 1775 met die Geneefse melodieë uit die 16de eeu, en die Gesange was die 192 Evangelische Gezangen, saamgestel vir die Hervormde Kerk in Nederland tussen 1803 en 1805 en hier by ons in gebruik geneem in 1814. Aanvanklik het dit gegaan om die ou melodieë, waarvan baie vreemd geval het op die oor en vir baie lidmate “onsigbaar” geword het. Met die opkoms van Afrikaans, en veral na sy verowering van eenvesting na die ander in ons volkslewe na 1915, was dit onvermydelik dat die kerk ook aan die beurt sou kom. Na 1920 word al meer in Afrikaans gepreek: in 1933 kry ons die volledige Bybel in Afrikaans; in 1937 verskyn die Totiusberyming van die Psalms in Afrikaans en in 1944 kry ons die volledige Psalm- en Gesangboek in Afrikaans. By die Afrikaanse Psalms word die mooiste Geneefste melodieë behou, en heelwat “nuwe melodieë” – baie van hulle deur Afrikaanse komponiste – maak hulle verskyning. Die 193 Gesange was grotendeels ‘n verwerking van die Evangelische Gezangen. ‘n Aantal minder bekende en minder gebruikte liedere is geskrap en vervang deur verwerkinge uit die Vervolgbundel op de Evangelische Gezangen van 1866. Om leerstellinge en letterkundige redes, is enkele verse van baie van die ou Gesange weggelaat. Oral deur die land is die Afrikaanse Gesangeboek met luisterryke feeste op Hervormingsdag, 29 Oktober 1944, verwelkom. Daar is natuurlik met ‘n tikkie weemoed afskeid geneem van die singboek wat die bron van troos en bemoediging was vir ons voorgeslagte, veral in ‘n veelbewoë deel van ons geskiedenis, die Groot Trek en die Engelse Oorlog. Maar die dankbaarheid en vreugde dat ons volk voortaan in die kerk in ons Moedertaal sou sing, het oorheers. Dit sou onrealisties gewees het om te verwag dat die Afrikaanse Gesangeboek van 1944 bo alle kritiek verhewe sou wees. Van die begin is daarop gewys dat sekere rubrieke, onder andere Kersfees en Pinkster, skraal verteenwoonwoordig is. Ook is bevind dat onder die nuwe musiek in die bundel daar ‘n aantel melodieë is wat die erediens nie waardig is nie. Ook sou die snelle ontwikkeling van die Afrikaanse taal uitdrukkings en segswyses in die boek gou laat verander. Vandaar die hersiene Gesangeboek wat in 1978 verskyn het. Wat die Gesange betref, het hierdie hersiening uiteindelik ook ‘n aansienlike uitbreiding en verryking gebring.

No comments: