2007/12/04

Desember 2

1836
Eerste Voortrekkerbestuur gekies

In die Kaapkolonie, van waar die Trekkers afkomstig was, het die grensboere geen aandeel in die regering van die land gehad nie. Dit is dus te begrype dat die Trekkers totaal onervare was ten opsigte vandoeltreffende landsbestuur. Omdat die Trekkergroepe enigsins geïsoleerd van mekaar die binneland ingetrek het, was die noodsaak van ‘n vaste regeringstelsel nie so dringend nie. Die Trekkergroepe het egter nie in wanorde die binneland ingetrek nie, en daarom kan aangeneem word dat elke groep, volgens die eise van omstandighede, sy eie maatreëls getref het om sake so glad moontlik te laat verloop. Wat hierdie maatreëls was, weet ons nie, omdat dit nêrens ‘n skriftelike neerslag gevind het nie. Na mate die verskillende Trekkergroepe in die Transoranje aangeland en in mekaar se onmiddellike omgewing begin woon het, het daar egter ‘n behoefte aan groter eenheid en beter begrip vir mekaar se omstandighede ontstaan, en hiervoor was ‘n regeringsvorm van een of ander aard onontbeerlik. Die eerste poging hiertoe was teen die einde van 1836, toe ‘n saamtrek van A.H. Potgieter en Gerrit Maritz se volgelinge op 2 Desember 1836 in die laer van Potgieter plaasvind en die eerste Burgerraad saamgestel is. Na onderlinge beraad is hier besluit “om door eene algemene volkstem Rechters aan te stellen” en is by meerderheid van stemme sewe “Rechters” gekies wat as “eene Wetgevende lichaam” bekend sou staan. Teenstrydig soos dit dak klink, was die liggaam tog gebonde om wette en reglemente wat deur ‘n algemene vergadering bepaal sou word, stiptelik te gehoorsaam. Behalwe sy beperkte wetgewende bevoegdheid, sou die liggaam ook uitvoerende gesag hê en selfs die regspraak beoefen. Gerrit Maritz is by die geleentheid tot “Regter-President” verkies en aan die hoof van die regspraak gestel. A.H. Potgieter sou as “leger-kommandant” sy opdragte van die Raad van sewe ontvang, behalwe op kommando, waar hy die hoogste gesag gevoer het. Dit is duidelik dat Potgieter, wat minder volgelinge as Maritz gehad het, deur die uitslag van die verkiesing in ‘n ondergeskikte posisie geplaas is, Dit het hom voorlopig nie gehinder nie, en hy het hom in die uitslag berus. Ten spyte daarvan kon die reëling van 1836 nie die toets van die tyd deurstaan nie. Nie alleen was die persoonlikhede van Potgieter en Maritz te uiteenlopend nie, maar was die lojaliteit van die “onderdane” te persoonsgebonde. Verskil van standpunt tussen die twee leiers, het tot die volgelinge deurgewerk en hulle in twee kampe verdeel, waardeur die regeringstelsel kragteloos gemaak is. Vroeg in 1837 het Piet Retief met ‘n aansienlike gevolg hom ook in die omgewing van Winburg gevestig. Sy aankoms het ‘n reorganisasie van die bestuur genoodsaak, wat op 17 April 1837 op Winburg plaasgevind het. By die geleentheid is Potgieter heeltemal oor die hoof gesien en die belangrikste bestuursfunksie aan Retief toegewys. Die nuut saamgestelde Raad was daarna verantwoordelik vir die opstelling van die eerste Voortrekkergrondwet, wat uit nege artikels bestaan het en op 6 Junie 1837 aan die Vetrivier met Retief se beëdiging as goewerneur in werking gestel is. Die Winburg-reëling van 1837 het ook nie lank bly bestaan nie. Die Vrystaat was nog nie bestem om ‘n blywende tuiste van die Voortrekkers te word nie, want in dieselfde jaar het die weë uitmekaar gegaan toe Potgieter na die Oorvaalse gebied uitgewyk het, terwyl Retief en Maritz oor die Drakensberg Natal ingetrek het. Albei groepe het egter bestanddele van die Raad van Winburg en die Vetrivierse Grondwet met hulle saamgeneem, waar ‘n verder konstitusionele ontwikkeling plaasgevind het. aka fak Prof. dr. A.N. Pelser1927Jan J. van der Post geboreJan Jacobus van der Post is in Rehoboth in Suidwes-Afrika gebore. As seun het hy lank saam met ‘n groep Boesmans rondgeswerf nadat ‘n jong Boesman, Agarob, hom weggelok het en kon hy hulle taal en gewoontes aanleer. Hy het verskeie beroepe beoefen, onder meer as grootwildjagter. As skrywer is hy veral bekend vir sy mooi oorvertelling van Boesmanfabels soos in Jagters van die Duine (1963). In Agarob (1962) en Gaub (1963) het hy die Blanke en die Boesman se regsbegrippe met mekaar in konflik laat kom, maar boei meer deur die avontuurlike verhaal. Agarob, Kind van die Duine, is ook in Duits, Deens en Noors vertaal. Hy is die eerste Afrikaanse skrywer van wie twee boeke ook in Russies vertaal is. Hy is op 20 November 1971 oorlede. aka fak prof. dr. G.S. Nienaber

No comments: