2007/12/04

Oktober 28

1629
Maria van Riebeeck gebore
Maria de la Queillerie se lewe het heel anders verloop as wat opvoeding, geaardheid en sosiale agtergrond wil laat blyk. Niemand het haar ooit as ‘n pionier, ‘n volksplanter, ‘n byna enkelingvrou tussen landoopmakers gesien nie. En tog het hierdie predikantsdogter presies sodanige taak aan die Kaap vervul saam met haar man, Jan van Riebeeck, wat elf jaar ouer was as sy. Sy is in Rotterdam as ‘n laatlammetjie in ‘n Hervormde pastoriegesin gebore. In 1647 het sy en haar weduweemoeder hulle in Schiedam gevestig. Op 19 is sy getroud, en op slegs 22 het sy aan die Kaap geland. Sy was die moeder van nege kinders, deurgaans ‘n lieftallige eggenote en ‘n skitterende grondlegger – vriendelik, vroulik, fynbesneë, geldelik goed daaraan toe, sonder hoogmoed en vooroordeel, trots op haar Hugenote- en Europese erfenis, en ‘n Christin in die praktyk. Tien jaar lank het sy haar mooiste jonvroujare aan ons Kaap deurgebring. Op 32 jaar is sy in 1662 na Batavia en in 1664 na Malakka – waar sy in haar 35ste jaar op 2 November 1664 oorlede is. In Oktober 1954 is Dirk Wolbers se standbeeld ter ere van haar voor die Nasionale Kunsmuseum in die Tuine onthul. Die Maria van Riebeeck-klub dra haar naam met deftigheid, en een van ons duikbote heet na haar – simbool van beskerming en bewaring.
1813
Johannes Hedricus Kock J.H.L. Kock
(Jan Hen Kock) gebore op Graaf-Reinet, was ‘n Voortrekkerkommandant, boer en wamaker. Bygestaan deur heemrade, beklee hy in die dekade van 1840 die amp van hooflanddros van die gebied tussen die Vet- en die Vaalrivier. Hy was ook lid van die Transvaalse Volksraad. In 1880 het hy aan die Transvaalse Vryheidsoorlog deelgeneem. Hoewel hy nie juis ‘n geleerde man was nie, het hy nietemin oor groter vaardigheid met die pen as die meeste van sy tydgenote beskik. Dit, en die feit dat hy sowel Nederlands as Engels magtig was, het tot gevolg gehad dat die keuse op hom geval het om behulpsaam te wees met die opstel van die voorlopige vredesverdrag tussen Boer en Brit na die Britte se neerlaag in die Slag van Amajuba op 27 Februarie 1881. In kerksake was hy sterk ondersteuner van ds. Dirk van der Hoff. Hy is op 15 Oktober 1889 op Klerksdorp oorlede.
1909
Gideon Roos gebore
Gedeon Daniël Roos was toneelmens en radioman by uitnemendheid wat op Worcester gebore is, waar sy vader, die bekende Paul Johannes Roos van rugbyfaam, hoof van die hoërskool vir seuns was. Hy het sy skoolopleiding aan die Paul Roos-gimnasium ontvang en sy naskoolse opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch en aan die Universiteit van Oxford voltooi. Na sy terugkeer na Suid-Afrika in 1937 word hy as die eerste tweetalige omroeper by die pas gestigte SAUK in Johannesburg aangestel. In Oktober van daardie jaar word hy na Kaapstad verplaas om die eerste voltydse Afrikaanse diens daar te begin. Hy vergesel in 1938 die Simboliese Ossewatrek van die Kaap tot in Transvaal om die gereelde uitsendings langs die roete waar te neem. In 1942 word hy sekretaris van die SAUK en in 1948 direkteur-generaal, ‘n pos wat hy tot 1961 beklee, waarna hy uit die diens van die SAUK tree om die Suider-Afrikaanse Musiekregte-Organisasie (SAMRO) te stig, waarvan hy voorsitter en besturende direkteur word. Later stig hy ook die Dramatiese, Artistieke en Letterkundige Regte-Organisasie (DALRO). In die Afrikaanse Kunsteater veral het Gideon Roos hom onderskei, in die begin van die dertigerjare in Kaapstad en in die veertigerjare in Johannesburg, as toneelspeler en vertaler. Hy en sy eggenote het ook in die eerste Afrikaanse klankrolprente wat in die veertigerjare gemaak is, opgetree.
1912
Brief van J. van Graan aan Louis Botha oor die konsiliasiepolitiek van die regering
In ‘n brief deur J. van Graan van Bloemfontein aan premier Louis Botha kom enkele gedagtes na vore wat baie Afrikaners oor baie jare diep gekwel en ontstel het. Hy kla by Botha daaroor dat die indruk bestaan dat die regering slegs mense van die Opposisiepartye tevrede wil stel. Wat van die regeringsondersteuners word, kan die owerheid nie skeel nie. Wat in die Opposisiepers gevra word, word gewoonlik toegestaan. Die skrywer noem talle voorbeelde van dienste deur genl. Hertzog aan die Afrikaner gelewer, en van die herstel van Engelstalige amptenare in hoër ampte hoewel hulle onbevoeg en swakker gekwalifiseer was as die Afrikaners wat ook daarom aansoek gedoen het. Hy vra dan of dit regverdig is teenoor die Afrikaner en sy gesin wat hier woon dat die Engelsman so die oorhand in alles moet hê. Dit het tyd geword om na die eie om te sien en die konsiliasiepolitiek te laat vaar, want dit het nog niks goeds voortgebring nie en sal ook nooit iets goeds meebring nie.

No comments: