2007/12/04

Oktober 25

1854
Die beleg van Makapansgrot
In Oktober 1854 is ‘n Boerejaggeselskap, bestaande uit 23 mans, vrouens en kinders wreed deur die mense van Makapan (soms ook gespel as Magopane, Mokopane of Makapaan) en Mapela, opperhoofde van klein inboorlingstamme in die gebied Waterberg in die distrik Soutpansberg, naby die huidige Makananspoort, vermoor. Die lyke van die vermoordes is gruwelik vermink, en die leier van die geselskap, Hermanus Potgieter, broer van die Voortrekkerleier A.H. Potgietre, is lewend afgeslag. Na aanleiding van hierdie wrede dade het kmdt.-genl. Piet Potgieter, seun van A.H. Potgieter, saam met M.W. Pretorius kommandant-generaal van Potchefstroom, ‘n strafekspedisie teen Makapan georganiseer. Pretorius het hom op 24 Oktober by Potgieter aangesluit, en met ‘n gesamentlike mag van ongeveer 535 man het hulle teen Makapanuitgetrek. Makapan het voor die Boere uitgevlug en hom met sy volgelinge in die huidige Makapansgrot, ongeveer 23 km van Potgietersrus, verskans. Die grot is ongeveer 200m lank, 150 m breed en plek-plek tot 20m hoog. Dit sou gevaarlik gewees het om die grot stormenderhand te probeer verower, aangesien dit daarbinne baie donker was en die vyand hulle boonop bestook het met gewere wat hulle van die Engelse smouse geruil het. In die lig hiervan het die Boere op hierdie dag begin om die grot te verseël en te beleër, om sodoende die vyand deur uithongering tot oorgawe te dwing. Op 6 November 1854 het Piet Potgieter hom in ‘n oomblik van onbehoedsaamheid voor die bek van die grot gewaag en is hy noodlottig getref deur ‘n vyandelike koeël. Onder hewige vyandelike vuur het veldkornet Paul Kruger, later President van die ZAR, onder dekkingsvuur van sy makkers, ‘n heldedaad verrig deur die lyk van Potgieter uit die bek van die grot te red. Na ‘n beleg van 25 dae het ‘n klein groepie Boere die grot binnegedring en die verhongerde vyand sonder veel teenstand oorrompel. Ongeveer 900 inboorlinge is gedurende die beleg voor die grot doodgeskiet, terwyl meer as twee keer soveel daarbinne van honger en dors omgekom het, sodat Makapan se stam byna totaal uitgewis is. Minder sukses is aanvanklik teen Mapela behaal, wat hom met oormoedigheid al meer moeilikheid laat veroorsaak het, totdat in 1858 ‘n strafkommando ook teen hom op die been gebring is, waarin Paul Kruger eweneens ‘n belangrike rol gespeel het. Mapela se mag is finaal deur hierdie strafkommando gebreek.
1918
Dr. Tobie Muller oorlede
1949
Rapportryers vertrek uit Kaapstad
In die namiddag van 25 Oktober 1949 vertrek ‘n kommando Rapportryers van die Moederstad op die derde van vyftien roetes, wat uit elke uithoek van die land gestrek het, na die inwydingsfees van die Voortrekkermonument op 16 Desember in Pretoria. Die vertrek uit Kaapstad is voorafgegaan deur drie dae van feestelikheid, waarby 7 000 mense byeen was. In die begin van 1949 is die Uniale Rapportryerreëlingskomitee gestig, bestaande uit verteenwoordigers van die ATKV en die FAK. In ‘n omvattende landwye program het die Rapportryeraantog na die Voortrekkermonument die geesdrif van di volk beetgepak en die volk se boodskappe vir die toekoms na die Monument gedra. Die boodskappe is uit elke gemeenskap langs die roetes versamel en in tradisionele kommandobladsakke van dorp tot forp aan die afloskommando’s onder leiding van veldkornette, oorhandig. Benewens die boodskappe, wat kultuurstrewes, godsdienstige oortuiginge, opvoedkundige ideale, volksdeugde, verhewe opvattinge en nasionale beskouinge bevat het, het elke kommando ‘n Bubel in een bladsak gedra, omdat dit steeds die rigtinggewende boodskap vir die Afrikaner ingehou het. Die Rapportryeraantog was ‘n treffende voorspel tot die Inwydingsfees by die Voortrekkermonument – ‘n feestelike aantog oor 14 000 roetemyle, wat amptelik op 10 Oktober by Hartenbos begin het, hoewel die eerste kommando op 29 September al uit Ovambo vertrek hjet. Op 14 Desember het die Rapportryeraantog by die Voortrekkermonument geëindig, toe die boodskappe voor dr D.G. Jansen, voorsitter van die Inwydingskomitee, neergesit is. (Vir die verband tussen hierdie rapportryertogte en die ontstaan van die later Rapportryerbeweging.

No comments: