2007/12/04

Oktober 26

1706
Die Here XVII besluit om geen verder immigrasie na die Kaap te steun nie
Teen 1700 het daar na vyftig jaar sedert die volksplanting slegs ongeveer 1 6000 blankes aan die Kaap gewoon. Nogtans het die Here XVII op hierdie dag in 1706 besluit om amptelik geen verder immigrasie na die Kaap te steun nie. Dit was ‘n fout, want die Afrikaanse aanwas is daardeur drasties beperk. Met hierdie beleid is boonop tot 1820 volhard toe Britse immigrante deur Engeland op groot skaal ingevoer is. In 1800 was daar 30 000 blankes aan die Kaap, verspreid oor ‘n ontsaglike groot gebied, wat veroorsaak het dat ekonomiese, kulturele en opvoedkundige probleme ontstaan het, ook asgevolg van die kortsigtigheid en selfsugtige ekonomiese beleid van die VOC. Die Afrikanerpioniers het hulle nogtans gehandhaaf, hoofsaaklik omdat hulle as gesinne die binneland ingetrek het, groot gesinne gehad het, vroeg getrou het en nie geskei het nie, en na afsterwe van ‘n lewensmaat spoedig weer getrou het. Afrikanergetalle was egter deurgaans te klein, en dit het die omvangryke ontplooiing wat in ons land moontlik was, bly strem. Een van die belangrikste redes waarom daar in Mei 1902 tot vrede ingestem is, was die vrees dat die volk fisiek uitgeroei sou word. Die Konsentrasiekampe het dan ook ‘n knou in ons natuurlike aanwas meegebring. In 1936 was daar 1 120 000 Afrikaners in die land. Met die Republiekwording in 1961 was daar ongeveer 1 790 000 Afrkaners. Toe was dit 58% van die totale blanke bevolking.
1900
Genl. Gert Gravette sneuwel
Gerhardus Hendrik Gravette is op 28 Junie 1858 op Alexandria gebore. In 1888 verhuis hy na Germiston waar hy grootliks bydra tot die ontstaan en groei van die dorp. In die Engelse Oorlog het hy hom as gewone burger by die Transvaalse magte aangesluit. As gevolg van sy bekwaamheid, is hy spoedig tot veldkornet bevorder. Hy neem deel aan die inval in die Kaapkolonie en deur sy dappere optrede verdien hy die rang van kommandant. In die terugtog van die Boeremagte uit die Kaap deur die Oos-Vrystaat speel hy ‘n leidende rol. Later word hy aangestel as veggeneraal en tweede in bevel van die noordoostelike distrikte van Transvaal geplaas. Hy is dodelik gewond deur ‘n granaatskerf tydens ‘n skermutseling naby Roossenekal.

1927
Vlagskikking
Suid-Afrika het sy eie Nasionale Vlag op 31 Mei 1928 amptelik in gebruik geneem nadat die Nasionale Party van gen. J.B.M. Hertzog en die Opposisie onder leiding van genl. J.C. Smuts, ‘n skikking bereik het. Genl. Hertzog het dit op 26 Oktober 1927 in die Volksraad aangekondig. Waarna die Vlagwet deur die Unie-Parlement aanvaar is. Met ‘n seremoniële hysing by die Parlementsgebou in Kaapstad en hysingsplegtighede die hele land oor, het Suid-Afrika sigbaar sy verskyning onder die vrye volke van die wêreld gemaak. Hoewel daar reeds sedert 1910 met die Unie-wording by geleentheid na ‘n eie vlag verwys is, is met die eerste daadwerklik amptelike stappe daartoe eers in 1926 begin, toe dr. D.F. Malan onder meer verklaar het:
“’n Vlag is ‘n sinnebeeld van volksbestaan. Vir ‘n vlag kan ‘n volk leef en kan hy veg en sterf.” Dit sou egter nog twee jaar duur – twee jaar van stryd om eensgesindheid te verkry – voordat die Nasionale Vlag sy verskyning kon maak. Verskeie ontwerpe vir ‘n vlag is voorgestel en eindelik is ooreenstemming bereik oor die “Van Riebeeckvlag” – oranje, wit en blou – met die vlagkild van die Britse Union JACK, Die Vrystaatse Vlag en die Transvaalse Vierkleur op die wit baan. Die Britse vlag moes nog saam met die Suid-Afrikaanse Vlag by amptelike geleenthede geys word as teken van die Unie se Statebondsverbintenis; dit was tot in 1957 toe die Unievlag in die Parlement, onder die bewind van adv. J.G. Strijdm, aanvaar is as die enigste landsvlag van Suid-Afrika – die vlag wat ook in 1961 onveranderd as die Republiekvlag behou is.

No comments: