2007/12/04

November 24

1858
Zuid-Afrikaansch Republiek en Republiek Lydenburg verenig
Onderlinge verdeeldheid in die ZAR was in Desember 1856 vir die afskeding van die Republiek Lydenburg verantwoordelik. Voordat Lydenburg weer tot enige verenigingspogings sou instem, wou hy eers sy posisie verstewig deur vereniging met die selfstandige republikeinse gemeenskappe van Soutpansberg en Utrecht. Op 15 September 1857 is ‘n verdrag met Soutpansberg gesluit. Ook die ZAR het nou toenadering tot die Soutpansbergers gesoek, wat uitgeloop het op ‘n gekombineerde Volksraadsitting en die aanvaarding van die nuwe grondwet op 16 Februarie 1858. Vir die Republiek Lydenburg as dit ‘n gevoelige slag, en dit dryf hom tot vereniging met Utrecht op 6 Mei 1858. In September 1858 is verenigingsvoorstelle tussen Lydenburg en die ZAR bespreek, wat op 24 November 1858 op Rustenburg deur verteenwoordigers van albei state aanvaar is. Daardeur is die Volksraad weer as hoogste gesag erken en is die vier selfstandige republikeinse gemeenskappe in die Oorvaalse gebied verenig. Dit het die weg gebaan vir moontlike vereniging met die Oranje-Vrystaat.Aka fak. Dr. O.J.O. Ferreira
1862
J.H.L. Schumann gebore
As Boerekrygsgevangene, het hy ‘n vername rol op St. Helena gespeel om musiek en ander kultuurbedrywighede aan die gang te hou. Voor sy vertrek uit die Groenpuntkamp het hy die lied The Boer Prisoner’s Prayer gekomponeer, wat later gepubliseer is. In later jare was hy kerkorrelis op verskeie dorpe in Kaapland. Johan Hendrik Lodewyck Schumann was maar een van talle krygsgevangenes wat op Ceylon en St. Helena bedrywig was op musiekgebied. In al die kampe het kore en selfs orkeste bestaan en is gereeld konserte gehou. Musiek van Beethoven, Wagner, Schubert en ander is uitgevoer en enkele stukke is gekomponeer. Op St. Helena is twee Bosmans onderskei as Jan Viool en Jan Kitaar. Uitlanders wat ook krygsgevangenes was, het hulle verbasing uitgespreek oor die musiektalent wat onder die Boere te vinde was. Schumann is op 7 April 1945 in Johannesburg oorlede.Aka fak. Prof. dr. A.C. Hartman
1869
J. de V. (Jimmy) Roos gebore
Jacob de Villiers oftewel Jimmy Roos is op heidelberg ind ie distrik Stellenbosch gebore. Hy was joernalis en versamelaar van ou geskrifte en muntstukke. Met die Uniewording word hy Sekretaris van Justisie asook Direkteur van Gevangeniswes. Op sy aandrang word die grafstene van Jan en Maria van Riebeeck na Suid-Afrika verskeep. Hy sorg ook dat die joernaal van Louis Tregardt na die Staatsmuseum in Pretoria gebring word. Hy was medeskrywer van Een eeuw van onrecht (1899). Met sy dood op 3 Augustus 1940 in Pretoria laat hy ‘n belangrike versameling van Africana-boeke, munte en ander dokumente agter.Aka fak.
1831
Statuut van Westminister bevestig
Die Balvourverklaring van 1926, wat die onafhanklike status van SA en die ander Britse Dominiums geformuleer het, het geen regsgeldigheid gehad nie. Om wetlike status daaraan te verleen, moes dit eers in ‘n Britse wet beliggaam word. Terselfdertyd moes die Colonial Laws Validity Act herroep word, want hierdie ou koloniale wet van 1865 het spesifiek bepaal dat geen dominiale wet strydig met ‘n Britse wet mag wees nie. Solank die wet van krag was, was die Dominiums ondergeskik aan Brittanje. Om die anomalie uit die weg te ruim en die status an die Dominiums wetlik vasgele te kry, het die Britse parlement in 1931 die Statuut van Westminister aanvaar. Dit het die Colonial Lows Validity Act herrope en die Dominiums bevry van enige beheer oor hul wetgewende bevoegdheid. In SA sou verdere krag hieraan verleen word met die aanvaarding van die Statuswetgewing van 1934.Aka fak
1951
Eerste goudstaaf in die OVS gegiet
Waar eens mielielande en ‘n rustige, landelike atmosfeer was, is op hierdie dag die eerste goudstaaf in Welkom gegiet – vyf jaar nadat die ontdekking van goud in die OVS op 16 April 1946 wêreldkundig gemaak is. Hierdie reusenywerheidsgebied is deru kol. Deneys Reitz onder andere soos volg beskryf: “As kind het ek op die kruin (van Koppie Alleen ten noorde van die huidige Welkom) gesit en na die wildoortrekte vlaktes onderkant my gekyk, en nou soos toe, het daar groot troppe wild, bokke en wildebeeste aan die voet van die heuweltjie gewei…” Die avontuurlike soektog en die goudbore het binne enkele maande die idilliese rustigheid in ‘n sentrum van bedrywigheid omgeskep. Waar Welkom voorheen die naam van ‘n mooi rustige plaas was, het die ryk goudneerslae die enkele plaashuise tussen die mielielande en die troppe beeste en wild verdryf, om plek te maak vir goudboortorings, skagte en newe-nywerhede wat onmiddellik soos paddastoele opgeskiet het. Teen Augustus 1950 was duisende huise reeds gebou en teen Januarie 1951 die eerste twee woonstelblokke. Die wildoortrekte vlaktes heeensklaps ‘n reusenywerheidsgebied geword.Aka fak

3 comments:

Anonymous said...

Ek het groot geword op my oupagrootjie se plaas..familie-plaas... het jy inligting oor hom dalk...hy het waargeneem toe Paul Kruger in Switserland was...hy is ook op my blog...en in Melrose-house...Schalk W Burger...kom al die inligting wat jy hier blog uit ou FAK's uit? of gebruik jy ander bronne ook...?

RoosMaryn said...

FAK's is bronne wat ek gebruik maar ek maak ook van baie ander bronne gebruik as ek so vinnig om my kyk le hier nie minder as 20 boeke om my nie. Die Internet is natuurlik ook 'n bron sowel as ou koerantberigte.

As dit Schalk Willem Burger is weet ek nie te veel van hom nie, behalwe dat sy oupa "Kootjie" genoem was en dat hy in 1852 op Krugerspoort gebore is.

So bietjie later in die jaar gaan ek so 'n klein iets van hom vertel.

Anonymous said...

Hi Roosmaryn...die begraafplaas waar hy (Schalk Burger) begrawe is, is op ons familie-plaas... ons het die plaas 'n klompie jare terug verkoop, maar die familie-kerkhof uitgehou. Ek het juis weer foto's geneem toe ons verlede jaar daar was. Die dorps-museum-mense op Lydenburg wou sy graf helde-akker toe skuif jare terug, maar ons wou nie. Jy moet my laat weet wanneer jy oor hom blog! ;)