2007/12/04

November 23

1722
Ds. P. van der Spuy gebore


Petrus vand er Spuy is in Kaapstad gebore, hy studeer indie teologie in Nederland en word op 4 Oktober 1745 deur die klassis van Amsterdam beroepbaar gestel en word hy die eerste predikant wat in Suid-Afrika gebore is. Op 22 Augustus 1746 tree hy as leraar van Kaapstad in diens. In 1753 word hy na die gemeente Drakenstein verplaas, waar hy teen 1771 in ‘n jarelange kerktwis betrokke raak waarin ouderling T.A. Theron en Thieleman Roos die hoofbetrokkenes was. In 1781 aanvaar hy sy emeritaat en vestig hy hom op Stellenbosch, waar hy sy dienste as geneesheer gratis aanbied. Hy sterf op 4 Maart 1809 op Stellenbosch.
Aka fak. D. Erasmus

1887
Dr H.J. van der Bijl gebore

Hendrik Johannes van der Bijl is in Pretoria gebore. Hy is in 1920 persoonlik deur genl. Smuts aangestel as tegniese adviseur insake nywerheidsontwikkeling. Hy het ‘n nutsmaatskappy wat goedkoop elektrisiteit teen kosprys moes lewer, voorgestel. Evkom het in 1923 deur wetgewing tot stand gekom. Die oprigting van Yskor was sy aanbeveling en is onder sy bestuur uitgebou. Hy het ‘n betrekking van £100 000 per jaar by Western Electric in die VSA prysgegee om sy land te kom help bou. As Direkteur-generaal van Voorrade het hy in die Tweede Wêreldoorlog, sonder vergoeding, die plaaslike wapenproduksie onderneem. Vanderbijlpark is na hom genoem. Hy is op 2 Desember 1948 na ‘n kort siekte in Johannesburg oorlede.
Aka fak. F.F. de W Stockenström

1899
Slag by Willowgrange


Die aanleiding tot die slag by Willowgrange in Natal was ‘n poging wat die Britse bevelvoerder, genl.-maj. H.P.T. Hildyard, aangewend het om ‘n ongeveer 260 meter hoë kop, Brynbella-heuwel, te verower om daardeur die Republikeinse magte by Mooirivier vas te keer. Gevolglik het Hildyard aan lord Kitchener opdrag gegee om die heuwel wat met Boereartillerie beset was, gedurende die nag te verower. Die stormloop was ondanks gure weersomstandighede suksesvol, en die Boeremagte is verdryf. Krugersdorpse burgers, gewek deur die lawaai, het vroeg die daaropvolgende môre, gelei deur kmdt. Potgieter en later genl. Louis Both, ‘n teenaanval begin. Vanweë ondoeltreffende ondersteuning, moes die Britse magte uiteindelik met aansienlike verliese die aftog blaas en na Estcourt terugkeer. Hierdie veldslag was een van die laastes waar die Republikeinse magte offensief opgetree het – hierna sou hulle hoofsaaklik defensief opereer.
Aka fak. G.J. Jooste

1899
Geveg by Belmont


Die slag by Belmont was die eerste geveg aan die Kaapstad-Kimberley-spoorweg. Genl. Jacobus Prinsloo, met 2000 burgers, het lord Methuen se opmars met 10 5000 troepe na Kimberley sonder welslae hier probeer stuit. Aka fak. Dr. J.H. Breytenbach

No comments: