2007/12/04

November 22

1853
Algemene Kerkvergadering van die Ned.
Hervormde Kerk In samesitting met die VolksraadOp hierdie 22ste dag van November 1853 het die Algemene Kerkvergadering van die Ned. Hervormde Kerk saam met die Volksraad van die ou ZAR op Potchefstroom vergader. Dit was ‘n besondere gebeurtenis en het daarna NOOIT weer plaasgevind nie. Hierdie vergadering het weer gegaan oor die vraag of die selfstandige Transvaalse Kerk deel van die Kaapse kerklike organisasie moet word. Met hierdie vergadering was die kerkraadslede en die Volksraadslede en die Volksraadlid vir Lydenburg, wat nie die Algemene Vergadering op Rustenburg op 3 Augustus 1853 bygewoon het nie, ook nou teenwoordig. Na uitvoerige bespreking, het die gesamentlike vergadering besluit om die beslissing van Rustenburg, naamlik om die Ned. Hervormde Kerk as ‘n onafhanklike Kerk te handhaaf, te bekragtig. Weer eens is dit baie duidelik gestel dat dit hier slegs om organisatoriese onafhanklikheid gaan. Die geestelike en broederlike band met die NG Kerk van die Kaapkolonie moes behoue bly. aka fak. Prof. dr. A.D. Pont.
1968
Ds J.H. Louw oorlede
Jan Hofmeyr Louw is op 11 Mei 1920 op Boksburg gebore en was van moederskant verwant aan “Onze Jan” Hofmeyr. Hy ontvang sy telogiese opleiding op Stellenbosch. Hy word predikant van die gemeente Loubser in Kenia en het hom afgesloof om gemeentelede van die NG Kerk te gaan opsoek, tot aan die grens van Abessinië, oos tot by die kus, noorde en suid van Mombassa. Hy was ook konsulent van die gemeentes Meru in Tanganjika en Vergenoeg in Eldoret, Kenia. Benewens sy veeleisende gemeentewerk het hy die opvoeding van die kind warm op die hart gedra. Deur sy ywer en dryfkrag het die Van Riebeeck-skool (kerkskool) in 1950 met die buitengewone hulp van die FAK op Thomson’s Falls tot stand gekom. Onder sy leiding en liefde en bestuursvernuf was hierdie skool tot by die “Uhuru” die brandpunt van opvoeding en kultuur vir die Afrikanergemeenskap van Midde-Afrika. Ook is ‘n eie Van Riebeeckfees in 1952 deur sy toedoen gehou en ‘n nuwe kerk gebou. Van vakansie vir hom was daar min sprake, dog in enkele afknyptydjies het hy onder meer die Kilimandjaroberg – tot heelbo - die Keniaberg en die Maanberge geklim. In Mei 1954 is hy met Joan Carstens getroud. Vier kinders is uit die huwelik gebore. In 1961 het hy teruggekeer na Suid-Afrika, waar hy tot met sy afsterwe in 1968 predikant van die gemeente Pretoria-Oos was. aka fak. Prof. dr. P.G. Nel

No comments: