2007/12/04

Oktober 22

1906
Andre Huguenet gebore
Gehardus Oetrus Borstlap, doopname van die later bekende toneelspeler Andre Huguenet, is in Bloemfontein gebore. In 1925 het die sensitiewe en hoogs talentvolle jong man van Bloemfontein na Johannesburg gereis om in ‘n kunswedstryd mee te ding. Daar het hy Paul de Groot ontmoet – ‘n ontmoeting wat die hele gang van sy lewe verander het. Nadat hy sy matriekeksamen afgelê het, het hy by De Groot se geselskap aangesluit. Paul de Groot het aan hom die toneelnaam Andre Huguenet besorg. Andre Huguenet was een van Suid-Afrika se grootste teaterpersoonlikhede. Met sy teatergroep het hy Suid-Afrika kruis en dwars deurreis, maar hy het ook nie gehuiwer om in nuwe ondernemings betrokke te raak nie. Een so ‘n onderneming was die samewerking met die gevierde aktrise en regisseuse, Leontine Sagan, om twee opvoerings in Engels, The Corn is Green en Night must fall in 1940 in die Standard-teater in Johannesburg aan te bied. ‘n Ander heuglike onderneming was ook in Johannesburg, toe hy en sy aansienlik vergrote geselskap Shakespeare se groot tragedie Hamlet in Afrikaans onder die spelleiding van Anna Neethling-Pohl en Siegfried Mynhardt by geleentheid van die ingebruikneming van die His-Majesty-teater opgevoer het. Hierdie aanbieding was onteenseglik die grootste enkele faktor wat tot die daarstelling van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) gelei het. Dit was nie vir hom beskore om die enorme vordering van die Suid-Afrikaanse beroepsteater sedert veral die begin van die sestigerjare te sien of mee te maak nie. Hy is op 15 Junie 1961 in Bloemfontein oorlede. Andre Huguenet, die akteur, het in sy lewe erkenning gekry vir sy bydrae tot die teaterbedryf. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het sy Erepenning vir Toneel in 1948 aan hom toegeken. So ook is hy, die Afrikaanse akteur, in 1950 genooi om die hoofrol in die James Elroy Flecker-toneelstuk Hassan te vertok, wat in die West End van Londen aangebied is. In 1977 is ‘n nuwe teatergebou in Hillbrow, Johannesburg na hom genoem.
1907
Prof. P.F.D. Weis gebore
Paul Friedrich Detlev Weiss is op Standerton gebore. Vanaf 1935 tot 1947 staan hy in Pretoria in die bediening, terwyl hy ook deeltyds aan die Universiteit van Pretoria, eers Maatskaplike Werk en daarna Semitiese tale, doseer. Daarna was hy professor in Semetiese tale aan die Universiteit van Stellenbosch. Prof Weiss het ‘n rol gespeel in die hersiening van die Afrikaanse Bybel, was ‘n tyd lank voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en sedert 1967 erepresident van die SA Buro vir Rasse-aangeleenthede. Van 1962 tot 1969 was hy direkteur van die Afrika-Instituut, vanaf 1965 voorsitter van die Christelike Kultuuraksie en van 1966 to 1972 voorsitter van die Afrikaanse Kultuurraad van Pretoria.
1914
DIE UITBREEK VAN ‘N GEWAPENDE PROTES:DIE REBELLIE 1914 – 1915
Die uitbreek van die gewapende Afrikaner-protes van 1914 to 1915 het twee oorsake. Aan die een kant het ‘n oorweldigende meerderheid Afrikaners in verset gekom teen die besluit van die Unie-Parlement dat Duits-Suidwes-Afrika vir die Britse Ryk verower moet word. Aan die ander kant het ‘n groot aantal Afrikaners, wie se vryheid hul in 1902 wederregtelik ontneem is ‘n geleentheid gesien om hul republikeinse onafhanklikheid te herstel. Spontaan sou veral die Afrikaners van Noord-Vrystaat en Wes-Transvaal, teen die opkommandeer van manskappe protesteer. Met die bedanking van genl. C.F. Beyers as hoof van die Verdedigingsmag uit protes teen die regeringsbesluit, en die ongelukkige doodskiet van genl. J.H. de la Rey, het die spanning hoog geloop. Met die oorstap van genl. Manie Maritz na die Duitsers op 9 Oktober, was die breekpunt feitlik al bereik. Genl. C.R. de Wet en Afrikanervoormanne het nou die leiding geneem om protesvergaderings te reël. Op 22 Oktober 1914 is ‘n vergadering by Koppies belê om te besluit wat hulle te doen staan. Onseker en koersloos word die saak in die hande van genls. Beyers en De Wet gelaat. ‘n Paar weke later bevind albei hulle in die veld met uiters swak bewapende protesterendes, teenoor die oormag van genls. Botha en Smuts se magte. In ‘n agtervolging verdrink genl. Beyers op ‘n tragiese wyse in die Vaalrivier. Genl. De Wet probeer na Suidwes vlug, maar word hy naby die Botswanagrens gevange geneem. Intussen voeg genl, Kemp met 600 man, na ‘n epiese tog deur die Kalahari, hom by Maritz, maar hulle word uiteindelik op 24 Januarie 1915 by Upington deur regeringstroepe verslaan. Ten noorde van Pretoria het genl. J.J. Pienaar en Jopie Fourie opgetree. Met laasgenoemde se gevangeneming en fusillering in Desember 1914, is alle gewapende verset in die binnelland beëindig. Die sowat 12 000 rebelle, is in tronke en kampongs by Kimberley en Booysens aangehou, terwyl die leiers in die Johannesburgse Fort opgesluit is. Genl. De Wet, genl. Kemp en ander is swaar boetes en gevangenisstraf opgelê, maar ‘n jaar later is verskeie leiers se tronkstraf kwytgeskeld. Die regeringsbeleid en –optrede tydens en na die Rebellie, het tot groot bitterheid aanleiding gegee. Dit het ook daartoe bygedra dat die Nasionale Party met rase skrede sou vorder.

No comments: