2007/12/04

Oktober 21

1884
J.B.Z. Keet gebore
Johan Bernard Zulch Keet het, as stigter en lewenslange leier van die Asafkoor, op musiek gebied ’n leidende rol onder die Afrikaner van Johannesburg gespeel. Aanvanklik het hy gemeentelike en streekkore in verskeie voorstede van Johannesburg, met die hulp van sy vrou as orrelis en begeleidster, gestig. In die vroeë twintigerjare het die kore, wat mettertyd tot ’n sentrale koor saamgesnoer is, aan die Johannesburgse Afrikaners ’n belangrike kultuurinstrument gebied. Die eerste uitvoerings van Die Messias en verskeie operas in Afrikaans is deur die medewerking van die koor moontlik gemaak. Hulle het onder verskeie beroemde buitelandse dirigente gesing en ook in ander dorpe en stede opgetree. Hy is op 31 Julie 1965 oorlede.
1899
Geveg by Elandslaagte
Genl J.H.M. Kock, met die Johannesburgse –kommando en die Duitse en die Hollandse korps onder hom, het op 19 Oktober daarin geslaag om die Britse spoorverbindings tussen Ladysmith en Glencoe gedeeltelik te ontwrig. Daarna het Kock so oormoedig geraak dat hy besluit het om die spoorwegstasie Elandslaagte, sowat 24 km noord van Ladysmith, te beset. Dit was ’n growwe flater, want sy mag was hiervoor veels te swak. Lt. genl sir George White, bevelvoerder van die Britse mag by Ladysmith, het na ontvangs van die tyding van Kock se aantog ’n sterk afdeling onder genl maj J.P.D. French gestuur om die Boeremag tegemoet te gaan. By die aanskoue van die Britse oormag, het die hardkoppige Kock nietemin besluit om in plaas van om terug te trek, vas te skop en te veg. Dit was ’n rampspoedige besluit. Slegs 60% van sy mag het ontkom, terwyl die res óf gesneuwel óf gewond óf krygsgevange geneem is. Onder die gesneuweldes was dr H.J. Coster, voormalige Staatsprokureur van die ZAR en stigterslid van die Hollanderkorps, ’n man wat hom buitengewoon dapper gedra het in die veldslag. Genl Kock self het, swaar gewond, in die hande van die Britte geval en is 10 dae later op Ladysmith oorlede.

No comments: