2007/12/04

Oktober 20

1723
Martin Melck gebore
Hy was een van die merkwaardigste figure aan die Kaap in die agtiende eeu. Hoewel hy in 1746 as arm soldaat in diens van die VOC na die Kaap gekom het, was hy 30 jaar later een van die welvarendste en mees gerespekteerde burgers in die land. As gebore Duitser het hy sy liefde vir sy vaderland en die Lutherse godsdiens nooit vergeet nie. Ten spyte van die teenkanting van die VOC, het hy aan die Lutherse gemeenskap twee erwe en ’n gebou geskenk wat in 1780, nadat die Kompanjie sy toestemming tot die stigting van ’n Lutherse gemeente gegee het, die Lutherse kerk aan die Kaap geword het. Op die erwe is die pastorie – tans bekend as Martin Melck-huis – en ’n kosters woning opgerig. Hierdie geboue kompleks staan vandag nog in Strandstraat, Kaapstad, ’n waardige monument vir ’n buitengewone man. Hy is in Memel, Oos-Pruise, gebore en op 23 Februarie 1781 op Stellenbosch oorlede.
1891
Prof S.P. Engelbrecht gebore
Stephanus Petrus Engelbrecht is in die Standertonse distrik gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding op Middelburg (Tvl) en Potchefstroom en studeer 1913 tot 1920 in Nederland. Hy was ’n groot vriend van Nederland en het hom beywer vir noue kerklike, akademiese en kulturele bande tussen Nederland en Suid Afrika. Van 1921 tot 1956 was hy professor in Kerk- en Dogmageskiedenis aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria. Sy hoofwerk was sy proefskrif aan die Rijksuniversiteit van Utrecht, Die Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (uitgebrei in 1925, 1936, en 1952). Hierdeur en deur die publikasie van talle gemeentegeskiedenisse, sy biografie Thomas Francois Burgers (1933, Engels 1947) en sy Historiese Album oefen hy as kerk-historikus, en ook as teoloog en kerkleier, groot invloed in ons land en veral in die kerk uit. Hy was lid en voorsitter van die staat se Argiefkommissie, sekretaris van die SA Akedemie vir Wetenskap en Kuns in 1930 – 1932 en het talle eretoekennings, ook van buite Suid Afrika gekry. Sy versameling boeke en argiefstukke in die S.P. Engelbrecht museum en –argief word tereg landwyd van belang geag.
1899
Geveg by Talana
Baie vroeg op hierdie dag was die toneel gereed vir die eerste veldslag van die Engelse Oorlog in Natal. Genl Lucas Meyer se afdeling sou van Talanaheuwel die Britse magte onder genl-maj. W. Penn Symons by Dundee aanval. Uit die noorde sou genl. D.J.E. Erasmus ondersteun, terwyl genl. J.H.M. Kock aan die suidekant moontlike Britse versterkings per spoor sou ontwrig. Ondanks akurate artillerievuur vanaf Talanaheuwel deur kapt J.L. (Lood) Pretorius se kanonne, kon die boere geen beslissende oorwinning hier behaal nie, hoofsaaklik vanweë gebrekkige ondersteuning deur Erasmus. Genl Penn Symons het weliswaar gesneuwel, terwyl sy opvolger, genl J.H. Yule, besluit het om Dundee weens strategiese oorwegings te ontruim.1915 Tweede algemene verkiesing in die Unie (die eerste waaraan die Nasionale Party deelgeneem het)[/u][/color]Die verkiesingstryd wat hierdie algemene verkiesing vooraf gegaan het, was buitengewoon heftig. Dit het geskied teen die agtergrond van die 1914 – Rebellie en die opbloei van die Afrikaanse taalbeweging,wat gesamentlik meegewerk het tot ’n opstuwing van Afrikaner-nasionalisme en steun vir die Nasionale Party. In die verkiesingstryd het die Nasionale Party veral die Botha-bewind gekritiseer oor sy steun aan die Britse oorlogspoging en die regering se eenstroombeleid wat, volgens die Nasionale Party, die Afrikaner nog steeds in ’n posisie van ongelykheid gehou het. Die regering se optrede met die Rebellie het ook tot groot onteveredenheid gelei. Gevolglik is Botha en die SAP daarvan beskuldig dat hul hoofdoel was om die Britte tevrede te stel – al was dit ook ten koste van die Afrikanervolk. In die tussenverkiesing het die SAP 94 000 stemme gekry en die Nasionale Party 78 000. In die Volksraad het die SAP 54 setels verower, die Unioniste 40, Nasionaliste 26, Arbeiders 4 en Onafhaklikes 6. Hoewel die Nasionale Party dus nog ’n minderheidsparty in die Volksraad was, was dit reeds duidelik dat dit die steun van ’n meerderheid Afrikaners geniet.
1959
Prof J.L.M. Franken oorlede[/u]
Johan Lambertus Machiel Franken is op 10 Mei 1882 in Pretoria gebore. As kultuurhistoriese skrywer het prof Franken op grond van deeglike argiefnavorsing waardevolle bydraes oor die Afrikaanse taal, Franse Hugenote aan die Kaap en die algemene Suid Afrikaanse geskiedenis gelewer. Sy Taalhistoriese Bydraes is ’n waardevolle naslaanwerk. Die Argiefjaarboek van 1978 woord aan prof Franken gewy en bevat sy waardevolle bydraes oor die Franse Hugenote aan die Kaap.

No comments: