2007/12/04

November 20

1796
Karel Landman gedoop
Karel Pieter Landman is in die distrik Uitenhage, in die Kaapkolonie, gebore. Op sy plaas Melkhouteboom in Olifantshoek het hy ondanks die moeilike grensomstandighede vooruit geboer. Met die Grensoorlog van 1834 – 1835 het hy egter swaar verliese gely en moes hy van sy plaas vlug. In 1837 het Landman, vergesel van nege en dertig gesinne, ook die Kaapkolonie verlaat. Hierdie trek het Natal bereik in Maart 1838, net na die Retiefmoord en die Zoeloeaanvalle op die Voortrekkerlaers. In hierdie moeilike tyd het Landman, wat reeds aan die Oosgrens krygservaring opgedoen het, as leier na vore getree. Hy het as ‘n veldkornet deelgeneem an die Slag by Italeni en was tweede in bevel onder Andries Pretorius met die Slag by Bloedrivier. Na Pretorius se verwonding het die kommando onder sy aanvoering die Zoeloes agtervolg. Vanweë sy versigtige krygstaktiek, het dit byna rampspoedig geëindig tot die Zoeloes die kommando by die Wit Umfolozi in ‘n hinderlaag gelok het. Later het Landman Volksraadlid van die Republiek Natalia geword. Met die Britse besetting Port Natal, het hy geweier om die wapen op te neem, en daarmee het sy rol as Voortrekkerleier geëindig. Hy het op die plaas Uithoek naby Glencoe gaan boer, en toe hy op 2 April 1875 oorlede is, was hy die laaste Voortrekkerleier van betekenis wat heengegaan het. (prof dr mc van zyl aka fak)http://www.groottrek.za.cx/landman_01.htm

No comments: